top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


VERPLIGTINGE TEENOOR DIE OWERHEDE (1) – GOD BLY IN BEHEER!


Rom. 13:1-2 – “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. 2Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry.”


Vergelyk ook 1 Tim. 2:1-2 – “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.”


My eerste reaksie toe ek hierdie eerste vers van Romeine begin lees, was een van onmiddellike teenkanting. Daar is nie ‘n maniér wat ek hierdie opdrag van Paulus kan uitvoer nie. Miskien is dit beter om hierdie teks oor te slaan! Ons is moeg vir ons swak regering, moeg vir korrupsie, moeg vir hulle selfverryking, moeg vir geweld, moeg vir opstande en beskadiging van eiendom as gevolg van swak dienslewering, moeg vir stukkende paaie en infrastruktuur wat inmekaar stort, swak mediese sorg en sukkelende hospitale, geen armes versorging, en ... en ... en noem maar op; ons land grens aan gemors-status – moeg is eintlik ‘n “understatement!”


Met respek gesê, iewers het die CV’s daar in die hemel lelik deurmekaar geraak toe hierdie aanstellings van gesag gedoen is. Miskien is die aanstellings as gevolg daarvan, dalk nie volgens “die beskikking van God nie?” Ek is jammer, ek kán myself nie “onderwerp aan die owerheid wat oor my gestel is” nie. Wie is in die huidige Suid-Afrika daartoe in staat, watter regdenkende mens kan homself onderwerp aan hierdie korrupte regering? Ek glo selfs julle lesers wat nie meer in S.A. woon nie, sal saam met my stem, of liewer, saam met almal wat hierdie redenasie uiter en eintlik teen die gesag wil verset, eerder as om “hom te onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is.”


Voor ons egter verder negatief en opstandig raak, kom ons bepaal eers wat Paulus vir ons wil sê. Hy skryf hierdie brief aan ‘n Christen-gemeente in Rome. Hy verwys na die nie-demokratiese Romeinse owerheid wat menseregte misken het; Jesus is deur hierdie owerheid gekruisig; slawerny het bestaan; Christene is later vervolg; hulle was die onregmatige besetters van die Jode se land; Paulus was self ook meermale ‘n slagoffer van hulle magsmisbruik en hulle sou later selfs hom ter dood veroordeel en om die lewe bring. Nogtans gee hy die opdrag: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is.”


Was daar al ooit ‘n regering wat net goed was? Hierdie verskynsel is nie net vir die huidige of vir Suid-Afrika nie. Daar was nog altyd swak regerings, swak leierskap wat die afgelope “nege verspilde jare” in Suid-Afrika, na kinderspeletjies laat lyk. Ons moet ook onthou, dit is God wat deur Paulus vir ons die opdrag gee “om ons te onderwerp want daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” Dit is nie ‘n menslike instelling wat ons teen wil en dank maar moet aanvaar nie. Dit is nie omdat die “kiesers gepraat” het nie, dit is God wat gepraat het! Paulus wat self vervolg is terwyl hy hierdie brief skryf, laat hom nie deur sy emosies en pynlike ervarings lei nie, maar deur God. Hy beskou sy onderdrukking vanuit sy geloof in Jesus Christus en die “gesag en beskikking wat van God kom.”


Paulus sê niks oor die vorm van die regering nie, ook nie oor hoe die maghebbers aan die bewind gekom het nie. Dit gaan in sy opdrag tot onderwerping en nie om die wettigheid of die regverdigheid of selfs die Christelikheid van die owerheid nie, maar onderwerping aan God. Ons onderwerping is dus nie aan die dag se politiek of die verkose owerheid nie, dit gaan oor Godsdiens, my en jou diens aan God. Dit gaan eerste oor God en dán die owerheid: “Vrees God. Eer die keiser” (1 Pet 2:17b). Eers God en dan die keiser, dit is die volgorde van ons gehoorsaamheid en daarom volg Christene nie die owerheid slaafs ná nie. Ons verantwoordelikheid is eerstens teenoor God en omdat ons God se kinders is wat Hy baie liefhet, kán ons vertrou dat God ‘n goeie doel het met die owerheid en dat God steeds in beheer is!


Prakties beteken dit dat ons vir mense in gesagsposisies moet bid. Al stem ons gelowiges nie saam in wat hulle doen of sê nie, moet ons die Here vra om hulle die wysheid te gee om goeie besluite te neem en regverdigheid aan die dag te lê. Paulus het reeds destyds geweet dat ons gebede vir die owerheid van vandag, vir ons ook voordele inhou, gebede wat sal bydra “sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God.” Ons moet veral bid dat die owerheid wet en orde sal handhaaf want ons land het ‘n ontsaglike behoefte daaraan.


Neem Jesus as voorbeeld, Sy gebede tot die Vader het alle mense ingesluit en was nooit eensydig, selfgesentreerd of selektief nie. Sy gebede was vir alle mense, want “God het die wêreld so liefgehad ...” (Joh. 3:16). Dit beteken dat ons selfs vir hulle in gesagsposisies van wie ons nie hou nie, sal bid. Net soos liefde oor haat geseëvier het op Golgota, so sal ons liefdevolle gebede die Bose oorwin wat so hoogty vier, nie net in ons land nie, maar die wêreld.


“’n Regering wat die Christelike geloof misken, is nie meer gevaarlik as een wat hulleself Christelik noem, maar die beginsels van die Christelike geloof volledig misken wanneer dit by politieke en sosiale beleid kom” (Mark Rutherford).


Gebed: Ewige regverdige Vader, Bron van alles wat lewe, Outeur van alles wat goed is, dankie vir die voorreg om vir almal te bid wat in gesagsposies aangestel is. Dit is só maklik om hulle eerder te kritiseer, daarom vra ek dat U my die integriteit sal skenk om objektief oor hulle te bly, ten spyte van hulle swakhede. Ek bid dat ons gelowiges se gebede vir die owerheid vermenigvuldig sal word sodat hulle werklik kan wees wat hulle moet wees: U dienaars ten behoewe van elke Suid-Afrikaner. Skenk hulle die nodige lewenskrag, wysheid en redelikheid, onderskeidingsvermoë en moed om ware leiers en rolmodelle, uit eerbied vir U, sal wees. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page