top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


RIGLYNE VIR DIE CHRISTELIKE LEWE (8) – NEDERIGHEID MEET NIE ANDER NIE!


Rom. 12:16 – “Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie.”


Vergelyk ook 1 Pet. 5:5c – “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”


Paulus het in 12:3 reeds gemaan oor nederigheid, maar dit is so sentraal om te onthou dat oral waar selfdiens, selfverheerliking en eiewysheid op die toneel verskyn, die harmonie in die gemeente verbreek word. Nederigheid is aksie, dit is liefde wat ‘n kruis dra soos Jesus, want jy maak ‘n geloofsontdekking van wie Jesus Christus regtig is in verhouding met jou. Jou opinie oor jouself verander wanneer Jesus eerste gestel word. Soos Johannes die Doper geleer het om homself te sien in die lig van wie Jesus is, moet ons ook soos hy sê: “Hy moet meer word en ek minder” (Joh. 3:30). As Jesus die ereplek in jou lewe inneem, kan jy nie meer die eregestoelte beset nie.


Wie en wat ons is, kom eers tot sy reg wanneer ons van ons troontjies afklim en ons verhouding met God besef. Selfs die gesindheid van nederigheid is ook ‘n geskenk van God af, dit is deel van die vrug van die Gees, (Gal. 5:22-26). Nederigheid is die resultaat van mense wat hulle sondige natuur kruisig en hulleself aan Christus oorgee as lewende offers (Rom. 12:1), as Sy eiendom. Hoe meer ons Christus toelaat om die eerste posisie in ons lewe te beklee, hoe meer bepaal die Heilige Gees ons gedrag.


Iemand het eendag genoem dat meeste mense loop met klein liniaaltjies in hulle koppe rond en gebruik dit om ander te meet, en wanneer iemand anders sy eie standaard oorskry, kap hy daardie persoon se voete af sodat hy nie ‘groter’ is as “liniaal-breintjie” nie, 'kap sy voete af' met vlymskerp skinderstories. En dan begin ons so maklik soos die Fariseër in die gelykenis te bid: “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie ...” (Luk. 18:11). “Dankie dat ek beter as ander is, dat die wêreld darem ‘n paar mense soos ek oor het. Dankie dat ek in die oë van ander ‘n goeie mens is.”


Maar dan vergeet ons dat ons almal eintlik bedelaars voor God is; dat ons in wese ook maar bakhand voor Hom staan en van Hom intens afhanklik is; dat dit net genade en die Gees se leiding is dat dit nog goed met my gaan; dat ek krag het om te werk omdat God dit gee; en gesond is, omdat God die een is wat sorg; vergeet ons dat ons almal sondaars is, dat niemand eintlik iets verdien nie, dat niemand eintlik goed is en beter as 'n ander is nie; dat almal voor God gelyk is. Dan behoort ons dieselfde vraag as Jakobus te vra: “Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder ons? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig” (Jak. 3:13). Wanneer ons in die spieël kyk en nie te gou wegdraai nie, behoort ons die vraag te vra of ons gedrag die wysheid weerspieël wat ons aan ander voorhou? Kan ons met eerlikheid erken dat ons lewe die waarheid van ons geloof weerspieël?


Gelukkig speel die Here se dissipels in ‘n ander span, ons het nie “liniale” om ander mense mee te meet nie, ons is “eensgesind onder mekaar en nie hooghartig of eiewys nie, ons skaar ons by die nederiges.” Ons is ledemate van dieselfde Liggaam en oormeet nie onsself nie. Ons gee erkenning aan ander want God wil hulle ook gebruik. Ons nederiges vertrou God volkome en daarom is daar vrede in ons gemoed want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” God gee ons eer (Spr. 15:33), wysheid (Spr. 11:2), rykdom en lewe (Spr. 22:4) en rigting (Ps. 25:9). Nederigheid laat ons besef dat alles wat ons het en bereik het, gawes uit die hand van God is en daarom moet ek in nederigheid die ander hoër ag as myself (Fil. 2:3). Wat ons nederiges doen, doen ons vir God. Hy is ons enigste maatstaf en daarom soek ons Sy eer alleen deur ons allerbeste vir Hom te gee.


“Die jasmyn is een van die kleinste en nederigste blommetjies in die natuur, maar het die heel soetste reuk op aarde” (William Wordsworth).


Gebed: Jesus, U sê self U is sagmoedig en nederig van hart (Matt. 11:29), maar U het nie eers vir die duiwel gestuit nie. U het selfs die wreedaardigste dood aan ‘n kruis gesterf vir my! Dít is beslis nie die beeld van ‘n papbroekige sagmoedige nie, maar van ‘n Held, mý Held! Maak my nederig, Gees van God, sodat ek nie mense sal aanstoot gee met hooghartigheid en eiewysheid nie, “dat my goud en silwer al hoe meer word, en dat ek dan so hoogmoedig word dat ek van God begin vergeet nie” (Deut. 8:13-14). Weerhou my daarvan dat besittings die plek van God in my lewe inneem. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page