top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


RIGLYNE VIR DIE CHRISTELIKE LEWE (7) – MEELEWING IN DIE GEMEENTE!


Rom. 12:15 – “Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.”


Vergelyk ook 1 Kor. 12:24b-26 – “God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”


Paulus se sewende riglyn is ‘n ware toets vir egte liefde in die meelewing met ander in hul vreugde én leed. ‘n Christen kan nie ongesteurd verby ‘n ander se blydskap of trane leef nie. As Christene is ons broers en susters van mekaar want ons is kinders van dieselfde Vader, daarom is ons sensitief vir mekaar se gevoelens. Dit kan alleenlik gebeur as ons eerlik is met mekaar – ons deel ons seerkry, lê ons gevoelens bloot, erken ons vrese en vra vir hulp en gebed.


Baie mense het die verwronge idee dat dit vir ‘n Christen teenstrydig is om emosies soos droefheid, angs en vrees te ervaar. Hulle redeneer dat ‘n Christen enige terugslag kan en moet oorwin want hulle geloof moet só sterk wees dat dit hulle in staat sal stel om enige teëspoed te kan hanteer. Dit is wel waar dat ons in die krag van Christus en die bystand van die Heilige Gees, teen die storms van die lewe kan stry, maar ons het steeds mekaar nodig, onderlinge aanmoediging, onderlinge diens en onderlinge eerbetoon, “sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra.” Gemeentelede is die kern van die gemeenskap van gelowiges, hulle bou onderlinge verhoudings, deel verantwoordelikhede en help mekaar.


Ons het mekaar in tye van die diepste krisis, smart en twyfel, die meeste nodig. Terwyl ons op die kronkelende pad van die lewe wandel en omstandighede ons afdruk tot op die punt waar ons geloof begin wankel, het ons gelowige vriende die nodigste: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (Gal. 6:2). Dit is nie ongewoon om van tyd tot tyd medegelowiges raak te loop wat hulle rigting in die geestelike lewe verloor het nie, en gevolglik raak hulle verdwaald in ‘n lewe wat verreikende invloed het op hulle emosies.


Wanneer daar gehuil word, is Jesus by ons, tussen ons, binne ons. Ons smart word Sy smart, ons hartseer Sy hartseer. Sy hartseer is gevul met heilige ongeduld, ongeduld dat daar so baie onnodige hartseer is, dit wat deur mense oor ander mense gebring word omdat mense nie ander se lewens wil respekteer nie; waar nog 'n bom ontplof en mense mekaar doodmaak oor hul sogenaamde geloof; elke onbenullige plaasmoord; nog 'n motor gekaap word en meer as net die motor geneem word; die geweldstatistiek en korrupsie op ons TV skerms verskyn ...! God huil want Hy het dit ánders bedoel met die mens, die mens wat Hy geskep het as Sy beeld om Sy verteenwoordiger op aarde te wees.


Deur die hele Skrif heen maak Jesus dit baie duidelik dat ons mekaar onvoorwaardelik moet liefhê, soos Hy ons liefhet. Hierin lê die oplossing van die probleem vir dié wat uit voeling met God geraak het, met dié wat nie meer bly is nie, met dié wat treur. Wees gewillig om onder die leiding van die Heilige Gees jou medemens te help, dan sal jy self die teenwoordigheid en gemeenskap van die “Outeur van die lewe,” ondervind.


“God het nie die mens geskep om ‘n klip te wees nie; Hy het vir hom sintuie gegee en ‘n hart van vlees sodat hy sy vriende kan liefhê, kwaad kan word vir sy vyande en meegevoel kan hê met hulle in teëspoed” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Here dat U altyd presies weet waaroor ek hartseer is. Dankie dat my trane, U trane ontlok en U my in U arms toevou wanneer ek huil. Dankie dat ek as Christen in U kameraadskap en krag kan stry teen die storms op my lewensweg want U het ál die emosies self ervaar. Here, maak my sensitief vir ander se hartseer, húlle pyn, húlle onsekerheid, húlle vrese, hulle verslaenheid en wanhoop waarmee hulle gaan slaap, die swaar harte waarmee hulle soggens opstaan. Help my om U troos na hulle toe oor te gee. Dankie ook dat ek ‘n stukkie van U vreugde met almal wat gelukkig is, kan deel en saam met hulle fees kan vier, dat ek die sonskyn wat U oor my laat skyn, na hulle toe kan aangee. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page