top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


RIGLYNE VIR DIE CHRISTELIKE LEWE (6A) – SEËN JOU VERVOLGER IN DIE GEMEENTE!


Rom. 12:14 – “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.”


Vergelyk ook Matt. 5:44-45 – “Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”


Elke riglyn, of kragtige voorskrif, wat Paulus vir ons in verse 9 tot 16 gee, weerspieël Christus se opofferende liefde wat ons, met dade in ons gemeente sigbaar kan maak. Dit is nogal kenmerkend dat elke riglyn, deur Jesus toegepas is terwyl Hy op aarde was. Vandag se riglyn het Jesus nie net op aarde oor gepreek nie, maar toegepas ook. Om Jesus se gesindheid in hierdie geval uit te dra, verg baie gebed want dit is vir die mens ontsettend moeilik om stil te bly as ander jou onregverdig behandel. In sulke tye het ons ‘n goeie porsie van God se liefde en genade nodig sodat ons nie mense begin haat wanneer ons te na gekom word nie: “ ... Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense; ons word vervolg, en ons verdra dit; ons word beledig, en ons bly vriendelik ...” (1 Kor. 4:12-13) .


Van watter vervolgers praat Paulus? My persoonlike-, gemeente-, politieke-, lands-, of geloofsvervolgers? Hoe is dit menslik moontlik om hierdie opdrag uit te voer, veral in ‘n land waar alle godsdienste gelyke regte het? Alle godsdienste kry deesdae bykans dieselfde blootstelling oor die media en selfs skoolleerprogramme. Mense begin jou skeef aankyk as jy te sterk jou geloof uitstaan en sê jy is ‘n Christen. Dit is amper ‘n sonde om dit hardop te uiter want dit het mode geword om te sê: “Jy moet akkommoderend wees.”


Om ons “vervolgers te seën,” gaan allereers oor wie God is. Dit is eers in die lig van Gód se liefde, spesifiek Sy liefde vir ‘n mens se vervolger of vyand, dat die opdrag begin sin maak. Liefde vir jou vervolger, is dan om iets van Gód se liefde en seën vir ons vervolgers wat eintlik ons vyande word, in ons optrede te wýs. Jesus kom met ‘n troefkaart wanneer Hy sê “ons moet ons vyande liefhê” – Hy wys ons hoe kinders van God optree, daarom dink en tree ons as Sy nuutgemaakte kinders, anders op teenoor ander. Ons bly standvastig as kinders van God ten spyte van fisiese of sielkundige mishandeling deur ons vyande. Ons bid selfs vir hulle dat hulle dieselfde vreugde, vrede en liefde van God sal ken en ervaar as ons.


Wat is ons en besit ons wat ons nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7). Wanneer dit oor die hart van ons geloof gaan, is daar egter geen kompromieë nie. Ons geloof is dat Christus die Here is, die enigste Verlosser! Christus is ons vrede en dit beteken dat ons harte vol vrede moet wees. Hierdie vrede vind neerslag in elke faset van ons lewe. Ons gemoed en denke, ons wil, ons alles, is daarvan deurdrenk, want “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou” (Fil. 4:7). Om in vrede met ons vervolgers te leef, is die kuns van Christenskap!


Daarom is ons liefde vir ons vervolgers, ons vyand, God-gesentreerd. Ons vestig ons hoop, liefde, vrese, geluk, ons alles, op Hom. Hy is ons voortbestaan. “Ons moet daagliks streef om ter wille van ander, ‘n mens te wees omdat ons ter wille van God, ‘n mens is!” (Ds. Johan Smit). Ons kan nie, nee, ons mag nie, self-gesentreerd wees nie. Dit is om ‘n afgod van onsself te maak. God se son skyn oor “slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” Dit is nie meer maklik om ‘n Christen te wees nie, maar as jy jou belydenis dat Jesus Christus die enigste Verlosser is, glo en uitleef, moet jy juis bid dat God se goedheid ook in jou teenstanders se lewe pos sal vat.


“God het nie mens geword om bloot beter skepsels van die ou soort te maak nie, Hy het ‘n totaal nuwe soort mens kom skep – skepsels wat Sy kinders is en mekaar tot seën kan wees” (CS Lewis).


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, hoe kan ek bid vir die koms van U koninkryk, terwyl ek nog in my eie koninkryk vasgevang sit? U asem gee lewe aan alles op aarde, U laat die son op sy tyd opkom en dit skyn oor almal. U spreek en die reën val, op almal, daarom bid ek dat U goedheid ook in elke teenstander van my, se lewe sal posvat. Skenk my die wysheid Here, om te verstaan wat U my wil leer, maak my oplettend vir U boodskap van die liefde, om lief te hê – vir almal. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page