top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


RIGLYNE VIR DIE CHRISTELIKE LEWE (3) – ENTOESIASTIESE DIENS IN DIE GEMEENTE!


Rom. 12:11 – “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.”


Vergelyk ook Op. 3:15-16 – “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.”


Paulus se derde riglyn beklemtoon dat Christenskap nie vir halfhartiges of gelowiges wat net lou is nie. Drie dele van hierdie vers bevestig net een ding: entoesiasme. Ons “moenie in ons toewyding verslap nie, altyd geesdriftig bly en die Here dien.” Ons moet aan die brand wees vir die Here en toegewyd wees om die saak van die Here, in liefde uit te leef. Dit beteken om passievol die Here te dien, ‘n passie vir Jesus Christus en die evangelie te hê. Sonder om vergelykings te wil tref, wonder ek soms of mense se passie nie verskuif het na iets anders, soos byvoorbeeld rugby en krieket, nie. Kan ons in hierdie post moderne eeu nog geesdriftig raak vir Jesus Christus en die evangelie?


Dit behoort ‘n vreugde te wees om die Here met “toewyding en geesdrif” te dien want ons dien Hom nie met ‘n skuldgevoel, of pligsgevoel of selfs vrees nie, ons dien Hom uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Ons is waardevol vir God want Hy het ons uit genade gered – Ons het ons lewe aan Hom te danke. Deur Sy genade en liefde is ons verlede vergewe, het ons hede nou betekenis en is ons toekoms verseker, “daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God” (Rom. 7:4).


Elkeen van ons is God se unieke “kunswerk” met ‘n unieke hartklop en unieke persoonlikheid. Ons is nie deel van ‘n massavervaardigde produk in ‘n fabriek nie. Nee, elkeen is eenmalig, oorspronklik, en God se meesterstuk wat Hy op ‘n wonderbaarlike wyse geskep het. God maak nie foute nie, en daarom is dit jammer dat daar so baie gelowiges is wat die Christelike geloof bely, en nog nie verby die louwarm stadium van diens aan Hom en diens aan ons naaste, beweeg het nie. Geestelike louwarmte strek tot ‘n onwilligheid om die Gees toe te laat om deur ons te werk, en dit is gewoonlik die gevolg van verwaarlosing van ons intieme omgang met God en die kragteloosheid van ons stiltetyd. Ons eie opgestelde besige program weerhou ons daarvan om met geesdrif, God te dien.


God het dit so beplan dat ons gelowiges mekaar nodig sal hê, dat ons nie in ons “toewyding moet verslap nie en altyd geesdriftig sal bly om die Here en ander te dien.” Daar is ongelukkig geen ander pad om by God uit te kom en Sy stem te hoor, as om die vlam van geestelike entoesiasme weer aan te blaas en God aan te roep in gebed en sy Woord te bestudeer nie. Wanneer ons tyd deurbring in lofprysing en danksegging, vernuwe die Heilige Gees ons en besiel ons met vreugde en entoesiasme om te dien – “Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal” (1 Kor. 12:7) – dit laat ons as gemeenskap van gelowiges, gesamentlik God en ander mense met ‘n passie dien.


Om die Here met geesdrif te dien beteken om met hart en siel te dien, niemand hoef ons te motiveer of seker te maak of ons dit wel doen nie. Ons dien met passie en nie deur ‘n pligsgevoel nie. Ons God van liefde en genade, het vir ons elkeen, afsonderlik ‘n hart gegee sodat ons met geesdrif baie het om vir te leef en nie van te leef nie, om te leef vir Sy glorie – “Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor”(Spr. 15:16). Wanneer Christus in beheer van jou lewe is, word jy besiel met Sy heerlikheid en entoesiasme. Laat die Gees se liefde, vreugde en entoesiasme deur jou vloei en ervaar Sy onafgebroke teenwoordigheid.


“Ons weet nie hoe swaar die las is wat ons self dra nie, maar wanneer ons inbuk onder die las van ‘n ander, word my eie las ligter” (Betsie ten Boom).


Gebed: Here, bewaar my van geestelike ongevoeligheid want dit kan so maklik my bewustheid van U teenwoordigheid uitwis. Vervul my met die vuur van U Gees, sodat my hele lewe U heerlikheid met ‘n brandende hart kan weerspieël. Leer my om U te dien soos U verdien, sonder om eers ‘n prys te wil bereken. Help hulle wat lou geword het om U só te ken en só lief te kry dat hulle U waarlik sal dien, U in wie se diens ons waarlik vry is. Amen.


Ons sal ongelukkig nie vir die volgende paar dae die dagstukkies uitstuur nie. Ons rekenaar se hardeskyf moet opgegradeer word. Ons hoop om Maandag, 11 Februarie weer op die lug te wees. Jammer vir die ongerief.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page