top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


RIGLYNE VIR DIE CHRISTELIKE LEWE (2A) – LIEFDE VAN KINDERS VIR HULLE OUERS!


Rom. 12:10 – “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.”


Vergelyk ook Eks. 20:12 – “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.”


Die tweede riglyn handel oor “hartlike broederliefde” wat ook geld vir Christene se onderlinge verhouding binne die huisgesin. Daar bestaan geen inniger liefdesband as dié tussen die lede van die huisgesin van God nie. Mans wat hulle vroue domineer en verkleineer, ouers wat hulle kinders voortdurend net kritiseer, kinders wat hulle ouers disrespekvol en liefdeloos behandel, vroue wat hulle mans knaend afbreek, handel nie in die gees van liefdesbetoon en “eerbied teenoor mekaar” nie. As Christene moet ons oor en weer die kroon van liefde bo-oor mekaar se koppe hou omdat ons Koningskinders is.


“Eer jou vader en jou moeder” is die eerste gebod wat handel oor verhoudings tussen mense. Dit is eerste, juis omdat dit die belangrikste is. Dit raak die verhouding wat die heel naaste aan die mens kom, dié tussen kind en ouer. Die eerste verhouding waarmee ons hier op aarde te make kry, is die verhouding met ons ouers. Elke kind het allereers met sy pa en ma te make.


Tuis, by pa en ma, begin in die reël, elke lewe. Pa en ma se gesag is die eerste en die mees fundamentele vir alle ander gesagsverhoudings. Dit is van onskatbare waarde vir alle ander gesagsverhoudings. Daar, tuis by pa en ma, leer ’n mens wat respek en onderlinge liefde, wat “hartlike broederliefde” is en hoe jy daarteenoor moet staan. Daar moet respek vir ouers wees en “eerbied moet bewys word teenoor mekaar.” Dit is immers die hoeksteen, nie net van die gesinslewe nie, maar van die hele samelewing. Dit is deur die genade van God om ‘n kind te wees. ‘n Kind kom in die wêreld omring deur die sorg en liefde van sy ouers; van hulle ontvang die kind die taal, kultuur, voorbeeld en respek van sy bestaan. Deur die ouers word die kind kragtens God se genadeverbond, en in die uitvoering van die doopbelofte, na God toe gelei.


Waarom moet ek my ouers eer en liefhê? God soek ‘n gesindheid en houding van liefde teenoor ouers, vanweë hul ervaring in die lewe, hul kundigheid, hul wysheid. En as hulle nie kundig of wys is nie? Wat van die ouers wat moeilik leiding gee en hulle kinders nie onder tug kan hou nie? Wat moet ons dan maak met ouers wat minder kennis, wysheid of kundigheid as hulle kinders het? Daar is baie kinders wat vandag hulle ouers op allerlei terreine oortref. Wat van ouers wat hul kinders aanrand, seksueel molesteer, nie opvoed in die tug en vermaning van die Here nie, selfs net moeilike en slegte ervaringe deel van die opvoeding is? Geld die vyfde gebod dan nog? Die vyfde gebod is algemeen en spreek alle kinders aan, ongeag hoe die ouers is. Om jou ouers te eer hang nie af van hul kwaliteite nie, hulle is steeds God se aanstelling en Sy instrumente om kinders in die wêreld te bring.


Die manier waarop eer en respek aan swak ouers betoon word, sal anders wees as in die geval van werklike gelowige ouers. Alle ouers is nie getrou nie en voed hul kinders nie op in die tug en vermaning van die Here nie. Baie ouers gee hulle kinders slegs ’n humanistiese, wêreldse of materialistiese opvoeding. Hulle is egter steeds geroep tot die amp van ouer. Dit moet ons bly respekteer. Selfs as ek ’n moeilike ervaring met my ouers gehad het, met ouers wat my byvoorbeeld nie op die regte pad gelei het nie, moet ons bly vashou. Elke ouer het sy posisie van God ontvang. Eer hulle ter wille van God. “Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie” (Spr. 23:22).


“Daar is net een manier om jou kinders te leer om in Christus se voetspore te loop en dit is om dit self te doen” (Abraham Lincoln).


Gebed: Here, dit kan soms baie moeilik wees om inhoud aan die vyfde gebod te gee en tog weet ek dat ouers steeds hul posisie van U ontvang het. Help my om steeds respek en hartlike liefde vir hulle te toon. Moontlik sal hulle deur my getrouheid hul eie ontrou ontdek en erken en daarom bid ek dat hulle U as Heer sal soek. Dankie vir ouers wat U ken en ‘n verhouding met U het en my onderrig in U weë. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page