top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS (8) – GESKEP OM TE DIEN!


Rom. 12:6-8 – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe is om God se boodskap te verkondig, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.”


Paulus noem sewe algemene genadegawes wat aan die gemeentelede gegee is en hoe die betrokke gawe ‘verantwoordelik’ gebruik moet word. Dit is opmerklik dat die funksies wat met die gawes wat Paulus noem, ingedeel kan word onder die drie ampte van leraar, ouderling en diaken. Dit beteken nie dat net bepaalde ampte in ‘n gemeente bestaan nie, ons is steeds “lede van een liggaam.” Lidmate moet dus nie dink dat die dienswerk aan mense wat in hierdie drie ampte dien, oorgelaat moet word nie. Die kerk is nie ‘n soort diensorganisasie wat slegs daar is sodat daar omgesien kan word na lidmate se “geestelike” of ander behoeftes nie – hulle wil besoek word, geken word, gerieflik gemaak word, kortom, bedien word! “God het aan elkeen van ons genadegawes gegee”, daarom beklee elke lidmaat die “amp” om te dien!


Ons het ‘n verskeidenheid van genadegawes van God ontvang. Algemene genadegawes word aan alle gelowiges gegee, terwyl individuele gawes van persoon tot persoon verskil. Almal het nou nie al die gawes nie, maar niemand het nie niks nie. Die bron is onuitputlik omdat “ons almal van die een Gees deurdrenk is” (1 Kor. 12:13c), en daarom eindig die lys van geestelike gawes nie by hierdie sewe nie. “Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee” (1 Kor. 12:4). Die Bybel meld op verskeie plekke van nóg genadegawes en as Skepper-Gees, kan Hy in die een en twintigste eeu, nóg ander gawes bygevoeg het en steeds byvoeg, maar kom ons bepaal ons by die gawes wat Paulus hier in verse 6 tot 8 noem.


Om “God se boodskap te verkondig” is ‘n besondere gawe van die Heilige Gees. Dit is die leraar wat naby aan God lewe en sover menslik moontlik, God se denke op grond van reeds bestaande openbaarmaking, of op grond van nuwe openbarings, die wil en bedoelings van God aan die gemeente bekend maak. Aangesien daar egter destyds talle vals leraars was en vandag nog steeds is, maan Paulus dat dié gawe beoefen moet word “in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.” Indien enige uitsprake bots met ons Christelike geloofsbelydenis, is iemand met ‘n vals profesie besig – “Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is” (1 Joh. 4:2).


Ons is geskep “om te dien”“God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10). Ons diens vir God is nie vir ‘n beloning nie, ons het dit reeds ontvang. Ons is gered om God te dien en nie maar net om intussen rond te hang en vir die hemel te wag nie. Diens kan verskeie vorms aanneem, waarvan “onderrig gee en mense bemoedig” maar enkeles is waar dit gaan om ander se behoeftes te bevredig. Om God te dien beteken ek soek ‘n plek waar ek kan dien en waar ek ‘n seëning kan wees, en nie ‘n kerk waar mý behoeftes bevredig word en ék geseën word nie. Daarom neem God ons nie dadelik hemel toe wanneer ons Sy genade aanvaar nie, Hy los ons hier om “ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”


Om te “gee, leiding te gee en ander te help” is belangrik want ek glo, God het ons elkeen geskep om ‘n verskil te maak. Diens aan ons naaste is vir ons Christene nie opsioneel nie, iets wat ek opsy skuif totdat my “besige” skedule dit eendag toelaat nie. Deesdae gaan menigte kerke agteruit omdat Christene op die kantlyn sit terwyl die Liggaam ly! Hierdie sewe voorbeelde van genadegawes beklemtoon dat ons gawes ontvang het om prakties diensbaar aan die Liggaam van Christus te wees. Daar is twee dinge wat elke mens móét doen, ons móét sterf en aan die einde van ons lewe op aarde, sal ons móét verskyn voor die Regterstoel, en dit is daar waar “elkeen van ons oor homself/haarself aan God moet rekenskap gee” (Rom. 14:12).


Betrokkenheid en dienslewering is tasbare maniere waarmee ons “onsself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, kan gee, en so die wesenlike van ons godsdiens beoefen” (Rom 12:1). As ons nie dien nie, bestaan ons net, daarom moet ons “elkeen, as goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien” (1 Pet. 4:10). Wanneer God eendag van ons rekenskap gaan eis, gaan verskonings van selfgesentreerdheid maar hol klink. “Ek was te besig met ... ” gaan by God die verkeerde antwoord wees – “Wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou” (Mark. 8:35).


“In God se vreemde onderstebo waardesisteem kies Hy swak, verwonde, verwese, bang, sukkelende, volgens wêreldse standaarde oneffektiewe, kan-nie-die-mas-opkom-nie-mense en juis met hierdie hopeloos ontoereikende instrumente, doen Hy sy magtige werk op aarde”

(Robert Girard).


Gebed: Hemelse Vader, maak my oop vir die werk van die Gees om my gawes te ontdek en tot U eer aan te wend. “U gee U gawes net soos U wil; almal is diensbaar, elk met verskil. Vul met U Gees my, breekbare kruik, dat U my oral nuttig gebruik” (Lied 528:3). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page