top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS (5) – NEDERIGHEID AS GAWE VAN GENADE!


Rom. 12:3 – “Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.”


Vergelyk ook Spr. 27:2 – “Laat dit aan ‘n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie; laat dit uit ‘n ander se mond kom, nie uit joune nie.”


Na die algemene oproep tot ‘n lewe wat aan God gewy is (Romeine 12:1-2), gaan Paulus nou voort om die vervulling van ons roeping uit te spel. Om te kan onderskei wat die wil van God is, is dit eerstens noodsaaklik, dat niemand ooit vir God ’n “heilige en aanneemlike offer” kan wees as ons ’n te hoë selfbesef het en meer van ons dink as wat ’n mens van jouself behoort te dink nie. Die hoë dunk van ’n mens self, die ambisie en strewe na hoë dinge is tipies van die norm van hierdie wêreld en vorm die direkte teenpool van wat vir God goed en aanneemlik en volmaak is. Wie daardeur beheers word, kan nie werklik na God se wil vir die lewe vra nie, hy word sy eie klein godjie.


Paulus sê nié dat beskeidenheid of nederigheid beteken om niks van onsself, ons gawes en ons diens te dink nie, nee, dit bestaan daarin dat ’n mens jou liewer daarop toelê om beskeie te wees in ooreenstemming met die “maat van die geloof” wat God aan elkeen toebedeel het. Nederigheid beteken ook nie om ‘n swak selfbeeld te hê nie, dit is om nie van jouself méér te dink as wat jy van jouself behóórt te dink nie. Dit beteken dat ons in geestelike nugterheid nie allerlei wonderlike gedagtes oor onsself sal hê nie. “Ons dink nie minder van onsself nie, net minder aan onsself” (Rick Warren).


Die gawes wat God aan ons toebedeel het, moet in nederigheid aanvaar en in dankbaarheid, aan God en ons naaste, toegewy word. Wie dit doen, sal vanself beskeie wees, maar dan met ’n beskeidenheid wat gedra word deur die wete dat God aan élkeen gawes en geloofskrag toebedeel het en daarom verwag dat elkeen sy/haar deel in die gemeente moet doen. Ons moenie die fout maak om ons wandel met Christus te meet aan die goeie werk wat ons in die gemeente verrig, in plaas van aan Sy teenwoordigheid in ons lewe, nie! Om jou gawes ook te meet teenoor ander, is om uit God se genade te beweeg.


Beskeidenheid of nederigheid is seker die moeilikste eienskap om te hê, veral in vandag se wêreld waarin ons leef. Elkeen wil sy eie ding doen, wil sy staal wys en gewoonlik gaan dit gepaard met hardheid en soms robuustheid. Om selfbehoud toe te pas moet mens ‘n maak-en-breek tipe wees. Beskeie mense is gewoonlik die ja-meneer-goed-meneer outjies wat sonder ruggraat maar elke dag na ander se pype dans, en ons wil nie só wees nie. Meeste mense is gesteld op prestasie. Ons is altyd besig om te vergelyk, ander moet meer van my dink, ek moet net beter vaar as ander, ek moet net meer hê as ander. En ‘let’s face it,’ dit is darem lekker as ander my prys en my vertel hoe oulik, flink en fyn ek nou eintlik is. En gou, baie gou, voor ons weet, maak nederigheid plek vir arrogansie en hoogmoedigheid. Waar ek bly, wat ek ry, en wat ek kry, maak nié deel uit van nederigheid nie.


Maar ... as jy jou roeping as Christen met erns aanvaar, “dink jy nie meer van jouself as wat jy behoort te dink nie.” Nee, jy “lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan jou toebedeel het.” Ons word geroep tot ‘n heilige lewe, ‘n toegewyde lewe waarin dit nodig is om in afhanklikheid, die wil van God te soek en te gehoorsaam. Ons “lewenswandel is in ooreenstemming met die roeping wat ons van God ontvang het” (Ef. 4:1). Waar begin ek? Ons hoef nie te loop en vertel wie en wat ons is, wie ons ken en wat ons al vermag het nie. Gaan staan maar net by die voet van die kruis, en dink hieroor na: Hy wat my as Sy verteenwoordiger geskep het, na Sy beeld, Hy wat die Almagtige is, Hy wat die Alfa en die Omega is, het gekies om vir my te sterf eerder as om sonder my te lewe – as ek wil roem, roem daaroor, en ek kan, want ek het rede.


“As jy beskeie is, kan niks jou raak nie: nóg lof nóg veragting, want jy weet presies wat jy is: net ‘n instrument wat God wil gebruik” (Moeder Teresa).


Gebed: Here, help my om my dwase stryd van vernaamheid te los en U krag te aanvaar sodat ek na U welbehae kan leef. Skenk my die krag dat my verhouding met U en met mense my skatryk sal maak. Die pad van nederige diensbaarheid is nie rigtingloos, koersloos of donker nie en ek kan nie verdwaal nie. Saam met Paulus wil ek bely: “Wat my betref, mag God my verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van onse Here Jesus Christus” (Gal. 6:14). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page