top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

AAN GOD DIE EER (4) – GENADE ONBESKRYFLIK GROOT!

Rom. 11:33-36 – “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! ‘Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?’ Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”


Ons het gister se dagstuk geëindig met die vraag wie God vir jou is? Wie is God regtig? Daar is duisende beskrywings, teorieë en feite oor wie God regtig is, maar ek dink een van die beste beskrywings wat ek nog van God gehoor het, is dat God liefde IS! (1 Joh. 4:8). Deur Sy allesomvattende en allesdeurdringende (ver, wyd, hoog en diep) liefde en genade, is God die Een wat stukkende mense, met sy Seun se arms wat uitgestrek aan die kruis gehang het, deur genade uit die modder van die sonde uittel en hulle Koningskinders maak! God begin elke keer weer heeltemal van voor af met ons met nuwe hoop, want daar is ‘n ander weg, ‘n beter weg as die weg van die sonde.


“Wie ken die bedoeling van die Here?" God spesialiseer daarin om sondaarmense soos ek en jy, wat werklik niks het om Hom aan te bied nie, behalwe ‘n sak vol sonde wat ons skouers al krom getrek het deur al die swaar dra, terug te vat. En om te dink dat God bereid was om Sy allerbeste te gee om ons sondaars met Hom weer te versoen. Niemand het Hom ‘n “guns bewys, sodat Hy verplig is om iets terug te doen nie,” dit was deur God se onbeskryflike genade en liefde, dat Hy op daardie verskriklike Vrydag, sy Seun tot op die bitter einde laat koers hou het op die genadepad, vanaf Getsemane, op die Via Dolorosa tot by Golgota.


Ons het al só gewoond geraak om wanneer mense ons vra hoe dit gaan, te antwoord: “Nee wat, uitgespaar deur die genade.” Maar ervaar ons regtig God se genade? Besef ons regtig hoe onbeskryflik groot God se genade is? Philip Yancey vra ‘n ontsettende belangrike vraag in sy boek “What’s so amazing about grace? – glo ons werklik in genade ... en gee ons lewe dit net so kragtig te kenne as ons woorde?” Geen mens, maak nie saak hoe belangrik hulle is of hoe goed hulle ookal leef nie, kan iets doen “sodat God verplig is om iets terug te doen” nie. God skuld ons niks nie, maar Hy het duur betaal om Sy genade vir ons verniet te skenk!


Philip Yancey vra ook hoe ons genade kan meet? Wat leer die wêreld van God deur ons, sy gelowige volgelinge op aarde, dop te hou? Onverwyld kom die antwoord dat ons nie Sy genade verdien nie want ons tree nie op soos begenadigdes nie. Maar Goddank, “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.” Ek kan nie as sondaar God behaag, deur énige metode, om myself te verbeter nie, maar ek kan my tot Hom wend vir genade. En dan vind ek uit dat ek vir altyd ‘n begenadigde is want deur in Jesus Christus te glo, het ek genade uit God se hand ontvang. As onvolmaakte sondaar kyk ek nou deur lense wat met genade getint is, lense wat gekraak is, sodat God se genade daardeur kan skyn – “aan God behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”


“Man is broken. He lives by mending. The grace and love of God is the glue”

(Eugene O’Neill).


Gebed: Hemelse Vader, ek raak so maklik bederf met al die mooi en goeie dinge wat U doen, dat ek soms die werklike waarde van U genade vergeet. U genade en liefde het al só vanselfsprekend geword, dat ek nie eers meer opgewonde raak daaroor nie. Gees van Waarheid, herinner my asseblief elke oomblik daaraan dat God se genade en liefde ‘n kosbare skat is en dat ek niks daarvan verdien het nie. Herinner my daaraan dat dit God se genade en liefde is, dat dit die enigste kans was, om my ‘n nuwe mens te kon maak. Daarom wil ek daaroor sing en getuig en jubel – “aan God behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page