top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE TOEKOMS VAN ISRAEL (3) – DIE HERE HOU MY VAS!


Rom. 11:29 – “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.”


Vergelyk ook Joh. 10:28-30 – “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.’ ”


Baie mense neem hierdie twee teksverse uit God se Woord, as ‘n vrypas vir die lewe aan. Baie sal ook bevestig dat wanneer hulle sterwe, hulle honderd persent seker is dat hulle hemel toe gaan want Paulus beklemtoon dit in Romeine 11:29 én Jesus bekragtig dit in Johannes 10:28. Dit klink alles goed en mooi en God is onveranderlik in Sy trou, daarom kan ons nou maar op aarde leef soos ons wil. Kan ons nou maar leef soos ons wil? Spot ons nie dalk met God nie, sal ons nie dalk oes wat ons saai nie? (Gal. 6:7). Dit klink mooi om te sê ek is ‘n Christen, maar is ek ‘n dissipel? Jesus dra my in Sy hande en “niemand sal hulle uit sy hand ruk nie.” Maar wanneer sit Hy my neer en wat gaan gebeur as Hy my neersit?


Jesus verklaar in die evangelie volgens Johannes dat Hy vir Sy “skape” die ewige lewe gee: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” En dan bevestig Hy sy woorde met nadruk: “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” VERRUKLIK!! Lees dit weer! Is dit nie elke gelowige in Jesus Christus, se lewenspolis nie?


Die “ewige lewe” is ’n lewe waaraan die dood nooit ’n einde kan maak nie, en wat deur blywende geluksaligheid gekenmerk word. Dit is nie net in die toekoms weggelê nie, maar Jesus gee dit nóú reeds in hierdie lewe. Met hierdie toesegging bevestig Jesus dat Hy veel meer vir Sy skape kan doen as ’n aardse herder. Hy beskik oor die mag om lewe te skenk wat oor die dood heen strek, en so iets kan alleen God doen, en “Hy en die Vader is een!” Jesus bevestig Sy goddelikheid deur weer na Sy eenheid met Sy Vader te verwys.


Die “skape” wat so begenadig is, sal “nooit verlore gaan” nie. Hulle kan nie “van die herder afgedwaal raak” en buite sy bereik en bewaring beland nie. So iets sal nooit gebeur nie. As iemand eenmaal in wáárheid die “skaap” van hierdie goeie Herder geword het, sal die Herder sy eiendom bewaar. Hiervolgens wys Jesus weer op die verkiesende genade van God en met nadruk word hierdie versekering herhaal: “Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” Geen dief of rower kan so slu en sterk wees dat hy ’n kind van God uit die mag van Jesus Christus kan ruk nie.


Al is ons gelowiges in Jesus Christus geneig tot twyfel en kom selfs tot ’n val, kan ons daarvan verseker wees, Jesus sal ons nooit loslaat nie: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne” (Jes. 43:1-2).


Dit is die enigste ware basis van sekerheid in hierdie lewe – dat Jesus my vashou. Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom of haar vashou sal ooit wil los nie! Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom vashou sal ooit sê: “Ag nou hoef ek nie meer om te gee nie, Hý hou my mos ...” Nee!! Daarom sê die Here uitdruklik: “Dit is húlle wat My VOLG” (Joh. 10:27). Dit gaan oor hoe sterk ek Sy hand vashou en Hom volg. Dit is Jesus Christus se vashou, wat my vashou tot gevolg het en aan die gang hou. Ek kan nie nou maar maak en leef soos ek wil nie, maar uit dankbaarheid vashou sodat ek nie uit Sy hande val nie.


Juis die feit en die wete dat Jesus my nie los wanneer ek Hom los nie, wanneer ek struikel of verval in een of ander sonde, maak dat ek Hom nie wíl los nie! Natuurlik voel dit soms asof ‘n mens uit Jesus se hande geval het, maar dit is net ‘n gevoel van kleingeloof wat in mens posvat. Die feit dat Jesus Christus as Plaasvervanger vir my sondes vasgespyker is aan ‘n kruis, wéét ek Hy sal my nie neersit en ek my knieë nerwe af val nie. Hy ken my en verkies om my liewer vas te hou want Hy weet dit is die veiligste plek vir my. In Sy deurboorde hande is ek veilig en kan Hy elke oomblik ‘n ogie oor my hou. God gaan nooit terug op Sy planne nie. Wanneer ons ons planne in lyn met God se visie vir ons bring, is ons lewe by God gewaarborg. “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie” (Ps. 136:1).


“Ons kan op geen manier God se guns wen of Sy vryspraak verdien nie, en ons hoef ook nie. Van begin tot einde is dit ‘n saak van gratis genade” (William Barclay).


Gebed: Here Jesus, in U Naam lê my ewige behoud en is my toekoms gewaarborg! As gesalfde Profeet dui U vir my die pad van verlossing aan. As gesalfde Priester van God bewerkstellig U hierdie verlossing deur U offer. Dankie dat U heers as Gesalfde Koning van God oor my sodat ek nooit uit God se gratis genade kan wegraak nie, “niemand my uit U hand kan ruk nie.” Dankie dat U terselfdertyd ook oor die duiwel heers sodat hy my nie kan vernietig of van U af weglei nie! Ek bid vir elkeen wat nog nie U as Herder se stem gehoor het nie, of gehoor het en nie glo nie, dat hulle die regte en enigste Ingang na die hemel sal vind, die Ingang, Jesus Christus! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page