top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING VAN DIE HEIDENNASIES (8) – GOD SE DEUR BLY OOP!


Rom. 11:23-24 – “En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent.”


Vergelyk ook 2 Kor. 12:8-9 – “Drie maal het ek die Here gebid dat (die doring in my vlees) van my weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”


God waak oor die genade as genade van die verlossing, en daarom word slegs diegene wie in Sy genade bly, gered. Dit is dan ook geensins uitgeslote dat ook die “uitgekapte mak takke op hulle ou boom geënt” kan word nie. As Israel, en die afgedwaaldes, maar net kan besef “as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, is God in staat om hulle terug te ent.” As God die heidene “uit die wilde olyf, waar ons van nature hoort”, téén die natuur kon inbring in die volk van God in, as Hy die ‘groot wonder’ van die verlossing van heidene kan verrig, hoeveel te meer kan Hy die ‘kleiner wonder’ van Israel, wat nog steeds ‘n bepaalde band aan “die wortel van die boom” behou het, weer terugbring in die gemeenskap van die verloste volk van God. Ons mag nie ‘n deur as toe beskou wat God oophou nie!


Charles Spurgeon vertel dat hy een aand huistoe gery het na ‘n uitputtende dag. Hy was uiters terneergedruk en het gedink aan Paulus se “doring in die vlees” en God gevra het om dit te verwyder. Charles het aan homself gedink as iemand wat met sy terneergedruktheid en moegheid besig is om ‘n hoë berg uit te klim en gewonder, wat sou gebeur as hy al die suurstof in die atmosfeer sou opgebruik, voordat hy die spits bereik het? God het hom geantwoord: “Haal maar diep en vrylik asem, mens, en maak jou longe behoorlik vol. My atmosfeer is vir jou voldoende.”


Net soos Paulus en Charles Spurgeon, voel ons dikwels dat die genade wat ons van God ontvang, te min is. Veral wanneer ‘n krisis, “’n doring in die vlees” word, is ons geneig om God te vra om môre se genade ook te gee. Maar ... “Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Dit is hoe God vir Paulus lei en bekwaam maak om te dien. Ons mag ook dalk dink dat ons nie genoeg genade ontvang het nie, veral wanneer ons die tragiese en treurige kant van ons aardse lewe aanskou, om saam te “oordeel” wanneer ons die verregaande onregverdigheid van mense bespreek, wat baat vind uit korrupsie, en daarmee wegkom. Die gevoel diep in ons wese is dat ons wat probeer om regverdig te leef, nie genoeg genade ontvang nie want in vergelyking met die onregverdiges, het ons niks.


Maar dan kom God en verseker ons, “My genade is vir jou genoeg.” Dit is alles wat jy nodig het. God gee in ons gelowiges in Christus, se gebede nie net iets nie, Hy het Homself klaar gegee! Maar Here, met respek, Ú genoeg is nie mý genoeg nie. Dan antwoord God keer op keer: “My kind, My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Jou krag lê nie in jou eie vermoëns nie, maar in My vermoë.” God se krag kom juis tot volle werking wanneer ons nie vol is van onsself en staatmaak op ons eie vermoëns, nie.


Die wonder van God se genade is dat Hy “ons uit die wilde olyf, waar ons van nature hoort, kon uitkap en teen ons natuur in op dié mak olyf kon ent.” God is sowerein en daarom lei Sy genade ons anders as wat onsself sou gekies het. Volgens ons het God se genade slegs waarde vir ons as dit aan sekere van óns vereistes en voorwaardes en versoeke voldoen. Is ons óóit daarmee tevrede? Nee! Daarom kan genade ook nie verdien word nie. Dit word uit liefde aan ons geskenk omdat ons in Jesus Christus glo. En as God vir Paulus sê: “My genade is vir jou genoeg ...”, dan moet Paulus verstaan dat sy geloof in Jesus Christus en die genade van God, sy lewe sal red!


En ons, en die res van Israel? “As ons en hulle nie in ons ongeloof volhard nie, sal ons ook geënt word.” “Deur die bloed van Sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al Sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het” (Ef. 1:7-8). Almal van ons het een of ander “doring in die vlees” waarvan ons baie graag sal wil ontslae raak, maar in die meeste gevalle sê God vir ons: “Nee, My genade is vereers genoeg.” Soos Paulus, kan ons vandag ook ervaar dat die verlossing en vryspraak wat ons kry op grond van ons geloof in Jesus Christus, maak dat alle “dorings” vir die wyle maar verdra kan word.


Indien God nie die “doring in jou vlees”, wil verwyder nie, maak Hom beslis nie minder God nie en ook nie minder almagtig en wonderlik nie, inteendeel, as Hy dit doen, sal jy op jou eie krag staatmaak in plaas van op Sy genade. Ons het juis leed en lyding, swakheid en flaters in ons lewe nodig om oortuig te word dat “God se genade vir ons genoeg is!” Leef daarom met volle vrymoedigheid en oorgawe vanuit God se ontferming.


“Genade is nie iets wat ‘n mens by voorbaat het nie. Dit is die konkrete guns wat God telkens aan ons gee na die mate waarin ons dit nodig het” (Prof. Willie Jonker).


Gebed: Almagtige Vader, gee my elke dag die genade om U te eer met ‘n Christushart, waarin daar niks van trots of hoogmoed is waartoe ek so geneig is nie. Gee dat ek my wysheid en insig, altyd by U sal soek en dat ek die beperktheid van my eie krag sal besef. Here, gee dat ek sal roem in U krag wat juis tot volle werking kom wanneer ek swak is. Hou my afhanklik van U krag sodat ek diensbaar kan wees in U koninkryk en kan leef met volle vrymoedigheid en oorgawe vanuit U ontferming. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page