top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Jesus klop aan jou deur: Aan sy kant is geen deurknop of sleutel nie.

Hy wag vir jou om Sy stem te hoor en oop te maak.

DIE VERLOSSING VAN DIE HEIDENNASIES (5) – HOOGMOED PAS NIE BY ‘N CHRISTEN NIE!

Rom. 11:18-22 – “Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou. Jy sal wel sê: ‘Takke is uitgekap sodat ék daar geënt kon word.’ Dis waar. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie; jy is daar geënt omdat jy glo. Moenie daaroor hoogmoedig wees nie; hou rekening met God; want as Hy die natuurlike takke nie ontsien het nie, sal Hy jou dalk ook nie ontsien nie. Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.”


Vergelyk ook Spr. 6:16-19 – “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.”


Paulus brei nou verder uit deur steeds die voorbeeld van die boom te gebruik, terwyl hy die Christene uit die heidennasies waarsku teen selfverheffing. Hulle moet onthou dat die afvallige deel van Israel hulle plek aan die “heilsboom” verloor het deur hulle ongeloof, en die Christene dié plek deur geloof in Jesus Christus, ontvang het. Israel moes God se genade as genade aanvaar en God se beloftes gelowig toegeëin het, maar hulle het nie, en daarom het die afvalliges geen deel in God se heilsplan nie. Die Christene uit die heidennasies moet daarom weet dat hulle verlossing uit genade is.


Hoogmoed is die toppunt van God se lys van dinge wat Hy haat, wat Hy eintlik deur harde woorde verafsku: “Ek haat hoogmoed en hovaardigheid” (Spr. 8:13); “Die Here het ‘n afsku aan ‘n verwaande mens” (Spr. 16:5); “Julle moet nie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie” (1 Sam. 2:3); “Op hoogmoed volg ondergang , op selfverheffing volg die val” (Spr. 16:18); “Die Here breek die hoogmoedige se huis af” (Spr. 15:25) en dan is dit eintlik geen verrassing nie as Salomo vir ons in Spreuke 6:16-19 hoogmoed heel bo op Sy lys plaas: “die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed ...” Ons het regtig geen rede om hoogmoedig of arrogant te wees nie, rede tot dankbaarheid is al wat ons wel kan hê, dankbaarheid vir alles wat God aan ons, onverdiend gegee het.


God wat alles van ons weet, verafsku hoogmoed want Hy weet dat hierdie sonde, die mens laat ly aan vergeetagtigheid en daarom ons waarsku: “Wanneer jou goud en silwer al hoe meer word, raak jy so hoogmoedig dat jy van God vergeet” (Deut. 8:13-14). Hoogmoed laat ons koppe swel en ons breine krimp! Klink dit onlogies? Inteendeel, voorspoed en aardse besittings skuif God uit tot op die kantlyn – sukses skep by menigte mense die indruk dat hulle sélf alles kan vermag, sélf oorleef, sélf tot alles in staat is – dat ons nie God nodig het nie. Dan vergeet ons dat God ons ook uit niks geskep het, dat ons van stof gemaak is, dat ons van sonde en eintlik, van onsself gered is, dat ons almal sondaars is en almal voor God gelyk is, dat “dit nie jy is wat die wortel dra nie, die wortel dra jou!


Mense is skuldig aan hoogmoed wanneer hulle so seker is van hulle eie vermoëns dat hulle feitlik geen respek vir God of hulle medemens toon nie. Hulle wêreld draai om hulle eie egos. Wat eintlik nodig is, is om weer by die voet van die kruis te gaan staan en te besef dat Hy wat die Almagtige is, wat alles geskep het, het gekies om eerder vir ons te sterf as om sonder ons te leef! As ons dan wil roem of hoogmoedig wees, kom ons roem saam met Paulus: “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14).


Die probleem egter van hierdie selfverheffing, is dat mens vinnig net soos die wêreld word, lyk en praat – ‘n wêreld wat mens só insuig en verswelg dat jy later sonder God begin leef. Die wêreldvreugdes sluk jou onbewustelik in dat jy jouself nie meer in die spieël kan erken nie. Met ons menslike swakheid van hoogmoedigheid en selfsugtige belange, staan ons skuldig voor God met GROOT sondes en is dit maklik om te sê: “Die duiwel het my so gemaak.” Die waarheid is egter, ons het dit toegelaat!


Met die genade van God kan ons ‘n suksesvolle aksie loods teen die invloed van die duiwel sodat Hy van ons sal wegvlug. Om hierdie bose kringloop van onder andere, selfsug en hoogmoed, met die duiwel te verbreek, gee Jakobus ‘n besliste en uitnemende instruksie: “Onderwerp julle dan aan God” (Jak. 4:7). Kom tot inkeer – kies die heilspad want die blydskap en genot van die wêreld eindig in droefheid – ons toekoms by God word op die spel geplaas. Selfvernedering voor God deur skulderkenning en ’n besef van afhanklikheid is die mens se verpligting.


Jesus wil graag welkom wees in ons lewe. Hy klop en wag dat ons oopmaak en Hom innooi. Hy forseer Homself nie af op enigiemand nie, dis jou eie keuse of jy nie te hoogmoedig en selfverheffend is om Sy stem te wil hoor en Hom nie innooi nie. As ons egter Sy stem hoor en die deur oopmaak, sal Hy saam met ons ‘n feesmaal hou (Op. 3:20). God se reaksie hierop is oorweldigend. Hy buig telkens af na ons toe – “As ons tot God nader, sal Hy tot ons nader” (Jak. 4:8). Hy verneder of verwyt ons nie, maar “Hy verhoog ons” (Jak. 4:10) as Sy kind. Hy maak ons nuut! Dáároor kan ons weer uitbundige lewensvreugde ervaar sonder hoogmoedigheid. “Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.”


“Solank hoogmoed in ‘n mens se hart woon, kan jy God nie sien nie” (C.S. Lewis).


Gebed: Here, wanneer ek vasklou aan my vernaamheid en my ego só groot raak dat ek God nie meer raaksien nie, wys my deur my geestesoog, hoe U besig is om U dissipels se voete te was. Dankie Here dat ek nie hoef te twyfel of U na my gebed luister nie. Al ken ek my swakhede en weet ek wie ek is, weet U dit ook en daarom luister U wanneer ek in afhanklikheid tot U bid. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page