top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING VAN DIE HEIDENNASIES (1) – KANS VIR OMDRAAI: GEEN AFGUNS TOELAATBAAR!


Rom. 11:11-12 – ”‘n Ander vraag is: Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie! Maar deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom om die Jode jaloers te maak. As hulle val ‘n verryking vir die wêreld beteken het en hulle klein oorblyfseltjie ‘n verryking van die heidennasies, hoeveel te meer sal dit dan nie tot seën wees as die Jode se volle getal gelowig sou word nie!”


Vergelyk ook Sag. 8:23 – “So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: ‘Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”


Paulus het vir ons in die voorafgaande dele die droewige toestand waarin Israel hulle in die verlede en hede bevind het, voorgehou. Afgesien van die klein groepie wat God uit genade laat oorbly het, die “oorblyfseltjie”, wat hou die toekoms in vir die res van Israel, en wat beteken dit vir ons as gelowiges in Jesus Christus? “Het Israel se struikeling hulle finale val beteken?” Paulus is oortuig dat hulle struikeling afgestuur het op ‘n besliste val, maar dit nooit God se bedoeling was dat Israel in die verderf moet beland nie, God het daarom die deur vir hulle laat oopstaan, daar is nog hoop en kans vir omdraai, vir elkeen wat sy geloof in Jesus Christus bely!


Israel het die roeping gehad om die lig van God se openbaring na al die heidenennasies rondom hulle uit te straal en só op te tree dat die heidene jaloers sou word, sodat ander dit onweerstaanbaar sou vind om hulle weg na God toe sou vind. Maar, die oorgrote meerderheid van Israel het gefaal in hulle doel en selfs die evangelie verwerp. God het hulle verwerping en verharding toegelaat maar wonderbaarlik genoeg, het God juis die Jode se verset gebruik om die evangelie na die heidene en na ons toe, te laat versprei.


Tweedens, gebruik God die begenadiging van die heidene óók as ‘n heilige doel, sodat Israel by die aanskouing van die genade waarin die heidene deel, jaloers sou word en die deur van genade wat God vir hulle oop gelos het, sou gebruik om hulle tot besinning te bring en self ook tot die verlossing gelei kan word, en "dan ook tot seën wees as die Jode se volle getal gelowig sou word.”


Hoe kan ons dit vandag toepas – is dit nog moontlik om mense in ‘n post-Christelike era, vanuit die rykdom van God se genade deur die voorbeeld van jou lewe, ongelowiges of selfs sogenaamde gelowiges, jaloers te kan maak? Die tendens het egter dikwels ‘n teenoorgestelde uitwerking: gelowiges raak jaloers op die klaarblyklike rykdom en sukses van die ongelowiges. Jaloesie is die mees hartstogtelike vorm van egoïsme, dit soek net eie oorwinning. Dit is daardie sogenaamde groenoogmonster wat aanhoudend knaag aan die hart en baie mense van die mooi en edel beroof.


In die Oekraïne staan daar ‘n monument wat die inwoners herinner aan die vernietigende krag van jaloesie wanneer dit in die hart toegelaat word. Die beeld se arms is verleng en die hande groot en grof, want jaloesie strek die hande altyd verder om die goeie wat ander besit, vas te gryp. Die een oor is groot en hang na onder want die jaloerse mens luister altyd na die stemme van hulle wat benede is, stemme van haat en agterdog, nooit na die Stemme uit die hemel nie. Die groen paddakop se oë bol na buite en is soos die jaloerse mens, verdof en kortsigtig. Die tong steek by die mond uit want alles wat dit sê is met jaloesie, bedrieglik en duiwels, dubbelhartig en wreed. Bo-oor die jaloerse hart is versierde kettings om vals wyshede te beklemtoon.


Al hierdie dinge is selfverheffing en stel ‘n baie hoë premie op ‘n mens se eie werke en wyshede. Dit is ‘n duiwelse wysheid wat sy oorsprong in ‘n ongesonde hart het wat gevul is met twis, naywer, selfsug en eie belang. (Dan is daar diegene wat dit koppel aan sterk leiereienskappe? Ongelooflik!!!). “Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, duiwels, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade” (Jak. 3:15-16).


Jaloesie en selfsug is nie deel van wysheid nie, dit is ‘n ek-gesentreerde selfliefde wat met my wysheid spog terwyl ek voorgee dat ek die heil van ander soek. Die spreekwoord dat die gras aan die anderkant van die draad altyd groener lyk, is nie waar in hierdie geval nie – ons gelowiges deel in Christus se heerlikheid. Ongelowiges het rede om jaloers te wees op ons gelowiges, want ons het iets waarna elke mens heimlik smag: vryspraak deur God! Ons het God se genadegawe ontvang “en die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23b). ‘n Lewe sonder die drie-enige God is leeg en niksseggend! Is jou lewe van so aard dat ander sal sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”


“Te veel Christene is jaloers op sondaars se plesier én op heiliges se blydskap omdat hulle nie een van die twee het nie” (Martin Luther).


Gebed: Here, vergewe my vir enige sweem van jaloesie of afguns wat my lewe kan binnesluip. Verbreek hierdie duiwelse siklus omdat dit veroorsaak dat ek my nie kan verbly in die geestelike oorwinnings van ander kinders van U nie. Maak vrede in my hart wanneer ander iets ontvang wat ek dink, eintlik my toekom. Maak my nederig, laat my in U heerlikheid deel want niks hier op aarde is regtig so belangrik dat ek my hart daaroor met bitterheid hoef te vul nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page