top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE OORBLYFSEL VAN ISRAEL (3) – NIE UIT VERDIENSTE NIE, MAAR GENADE ALLEEN!


Rom. 11:6-10 – “En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie. Waarop kom dit dan neer? Hierop: wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry. Die ander is verhard, soos daar geskrywe staan: ‘God het aan hulle ‘n gees gegee wat hulle bedwelm het: oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie, tot vandag toe nog.’ En Dawid sê: ‘Mag hulle maaltye vir hulle ‘n vangstrik en ‘n val word en ‘n struikelblok en ‘n straf. Mag hulle oë verduister word dat hulle nie sien nie; en buig hulle rug vir altyd krom.’ ”


Vergelyk ook 1 Tim. 1:9 – Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”


Een ding wat elke Christen-gelowige móét verstaan, is dat die trou van die Here vir geen oomblik ons eie verantwoordelikheid ophef nie. Wat vir Israel geld, geld natuurlik vir alle volke. Volke word gered en bestaan vir ewig voort, net in hulle Christen-gelowiges – teenoor die klein begenadigde “oorblyfsel”, is daar die oorgrote meerderheid van die Jode wat besluit het om hulle eie pad te loop. Diegene wat nie God se genade in Christus aanvaar nie, gaan verlore: “Wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry.” Jou volksverband gaan jou nie red nie, net geloof in Christus Jesus deur God se genade alleen!


Paulus vat die betekenis van die voorafgaande saam, deur te sê dat die redding van sommige uit Israel nooit op grond van wettiese godsdienstigheid geskied het, soos dit in ooreenstemming met die leer van hulle geestelike leiers eintlik sou moes gewees het, en soos Israel daarna gestrewe het nie – “Israel, daarenteen, het ‘n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so ‘n wet het hulle nie uitgekom nie” (Rom. 9:31).


Ons het in vorige dagstukke gesien hoe God ons vorm soos ‘n Pottebakker met Sy klei doen – Sy handewerk vorm ons tot mense wat tot geloof in Jesus Christus kom: “Julle is inderdaad uit genade gered. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie ... Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:9-10).


Daarenteen, “tot vandag toe nog verhard God, en gee aan hulle ‘n gees wat hulle bedwelm, oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie,” aan diegene wat met Sy genade speel en hulle aanhou verset teen Hom en nie in afhanklikheid na Sy stem wíl luister nie. Ons kan nie God se geskenk van genade aanvaar en dan gaan leef soos ons wil nie. God is getrou en regverdig, maar “ons moet ons nie laat mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ons saai sal ons ook oes” (Gal. 6:7).


Met ‘n reeks aanhalings uit die Skrif teken Paulus hier die verharding wat oor Israel gekom het, as ‘n mag van verblinding wat hulle gevange hou en ‘n oordeel wat hulle juis in hulle bevoorregte posisie des te harder tref – dit is deel van hulle straf omdat hulle moedswillig nie gehoor aan God se Woord gegee het nie. Hulle het oorvloed van God se “tafel” af ontvang maar hierdie oorvloed het gelei tot hulle struikeling – hulle het dit as vanselfsprekend beskou om net te ontvang en dit het gelei na ‘n gevoel van onafhanklikheid van God – God se genade was vir hulle nie meer genoeg nie. Blindelings het hulle hul eie pad geloop wat gelei het tot ‘n toestand van gebrokenheid sodat hulle geboë rue nie meer regop kon kom nie – “hulle oë het verduister en hulle rue het krom geraak.”


“Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees.” Niks is vanselfsprekend nie, alles wat geskep is, is deur die Almag van God en tot sy eer en verheerliking geskep. Dit sluit ook ons alledaagse dinge in. Wat ons ook al besit en wat ons is, is God se wil en dit bied aan ons ‘n eenvoudige en duidelike rede om God te verheerlik, “toegewy te wees aan Hom”: “Of julle eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor. 10:31). Deel van afhanklikheid van God is om beter te voel wanneer ons die kerk uitstap as toe ons dit binne gestap het. Ons gedagtes is gereinig deur die musiek en aanbidding. Ons stem saam met die heilige waarhede van die evangelie soos dit deur Sy “gestuurde” gelees en uitgespreek is, ons is by wyse van spreke gevul met dit wat die Gees vir ons uitgestort het – wat maak ons dan hiermee?


As refleksie op die liefdeswerk van Jesus Christus, (deur Sy menswording het Hy sy heerlikheid ter wille van ons “opgeoffer”), moet ons as Sy gesante, in ons toewyding soek na God se lof as diens ná die erediens; God se lof soek as lewe in die gebed ná die kerkgebede; God se lof soek as lied in praktyk ná die lied in die kerk; God in ons alledaagse bestaan soek. Dit is dáár waar ons Hom sal vind! Ons moet dit egter nie vir onsself hou nie, maar vanuit die oorvloed van genade in ons eie lewe, gaan deel met ander: “Aangesien (ons) alles in oorvloed het, geloof, die gawe om (ons) woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer, en ons liefde vir (ander), wees dan in liefdeswerk oorvloedig” (2 Kor. 8:7).


“Totdat die mens niks is nie, kan God niks met hom doen nie.” (Martin Luther).


Gebed: Hemel Vader, vergewe my my valse vertroue in my eggosentriese selfvoldaanheid. Ek het werklik niks om oor hoogmoedig te wees nie. Help my om in nederige afhanklikheid só te leef dat U geëer word. Help my om al my emosies en gedagtes op U te rig en na U te luister – Here, om werklik afhanklik van U te wees, want ek het behoefte aan U. Stroop my siel van alles wat onrein en sleg is, van hebsug, jaloesie en selfaanbidding. “U het my gered en my geroep om aan U toegewy te wees”, skenk my die “onbeperkte ywer om in U liefdeswerk oorvloedig te wees.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page