top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING IS VIR ELKEEN WAT GLO (8) – HARDKOPPIGHEID KOS JOU DUUR!


Rom. 10:19-21 – “Of ‘n ander vraag: Het Israel dit dan nie verstaan nie? In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê: ‘Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie ‘n volk is nie, en julle kwaad maak oor ‘n volk wat nie julle kennis het nie.’ En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God: ‘Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie, Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie.’ Maar van Israel sê Hy: ‘Dag vir dag het Ek my hande uitgesteek na ‘n ongehoorsame en weerspannige volk.’ ”


Vergelyk weer Rom. 9:30 – “Heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof.”


Paulus het eintlik reeds die vrae beantwoord deur te bevestig dat Israel tóg die evangelie gehoor het, maar nou wonder hy of "hulle dit verstaan het?" Indien dit vir hulle onverstaanbaar was, was dit dalk ‘n verontskuldiging vir die feit dat hulle nie geglo het nie. Dit kon ook nie moontlik wees nie want eerstens was hulle in die besondere bevoorregte posisie om as God se verbondsvolk geseën te wees in die beloofde land.


Hulle het egter die Here verruil vir ander gode met die gevolg dat God “hulle jaloers gemaak het op mense wat nie ‘n volk is nie, en hulle kwaad gemaak het oor ‘n volk wat nie hulle kennis het nie” (Deut. 32:21). Die bedoeling was dat Israel met jaloersheid, spyt en woede moes sien hoe “onverstandige” mense wat nie dieselfde geestelike voorregte as hulle gedeel het nie, God se heil deelagtig word, terwyl hulle dit verloor. Indien die onverstandiges wat niks van God geweet het nie, die evangelie verstaan, móés Israel ook, maar hulle het hulle harte daarvoor toegesluit en wóú dit nie verstaan nie.


Tweedens verklaar Paulus dat Jesaja selfs durf God aanhaal en dat God “gesê het: ‘Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie, Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie’ ” (Jes. 65:1). Daarmee bedoel hy dat wat Jesaja sê, sulke geweldige implikasies het, dat ’n mens dit byna nie kan waag om hom dit na te sê nie. Wat Jesaja sê, is egter die kern van die boodskap van genade: “God laat Hom vind deur mense wie nie na Hom gesoek of gevra het nie.” Israel was in ’n bevoorregte posisie in vergelyking met die heidene en kón dus na God vra en Hom soek. Tog het God Hom nie deur hulle laat vind nie, omdat Israel op ’n verkeerde manier na Hom gesoek het – langs die weg van die wetswerke en nie langs die weg van die geloof nie. Israel wou nie van genade alleen lewe nie, daarom het God Israel in ‘n sekere sin jaloers gemaak deur Hom te laat vind deur heidene wat nie na Hom gevra het nie (Rom. 9:30).


Derdens beklemtoon Jesaja dat God alles van Sy kant af probeer het om Israel van die evangelie te oortuig: “Maar, dag vir dag het Ek my hande uitgesteek na ‘n ongehoorsame en weerspannige volk, ‘n opstandige volk wat ‘n pad geloop het wat nie goed is nie, wat hulle eie kop gevolg het.”’ (Jes. 65:2). Dat Israel dus die vryspraak verloor het, is nie God se skuld nie. Israel wóú nie na die evangelie luister nie, maar het hulle eie kop gevolg en nie die geloofsweg waarop God hulle wou lei, volg nie. Israel kan nie onskuldig pleit nie. Hulle was te trots vir die genade.


Ou Paulus het sy uiterste bes probeer om te verduidelik wat hier aan die gang is, en net soos die Jode van sy tyd, bevind só baie mense vandag nog hulleself in dieselfde gevaarlike posisie waar Godsdiens nie meer ‘n hoë prioriteit geniet nie. Dit beteken miskien dat hulle nie gekant is teen die Christendom nie en dit gaan ook nie juis te sleg met hulle nie, maar hardkoppigheid en eiewilligheid lei hulle dalk aan ‘n “laat-maar-gaan” sindroom – ons sal eendag ...! Die evangelie van Jesus Christus is inderdaad ‘n skat wat naby ons is, só naby dat selfs ‘n klein kindjie dit kan ontdek en aanneem.


Die evangelie van Jesus Christus vra van ons om ons hardkoppigheid prys te gee, dat jy jouself sal onttroon en God op jou troon sal plaas. Ons word nie gered deur ons goeie werke om gedien te word nie maar word gered om God te dien en vir Hom te werk - dit is die gevolg van ‘n saligmakende geloof. Om gered te wees en as individu daaraan vas te klou, die Here te bedank dat Hy ons gered het en niks daaraan doen nie, beteken niks. Ons is gered met die doel om God te verheerlik deur dade van liefde, ons evangelie skoene aan te trek en na ander mense te stap en hulle die Goeie Nuus mee te deel, sodat hulle ook van Jesus Christus weet - te getuig!


Alle Christene is “glo-mense” anders kan ons nie gered word nie. Maar alle Christene moet “doen-mense” ook word om ons dankbaarheid te toon dat ons gered is. “Solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. Daarom word daar gesê: ‘Vandag as julle Sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie ...” (Heb. 3:13-15a). Deur die Goeie Nuus te gaan oorvertel terwyl daar nog ‘n “vandag” is, word God se genade van mens tot mens, die wêreld ingedra. Trek jou evangelie skoene aan en gaan spoor mense aan sodat niemand deur misleiding verhard word nie!


“Soos ‘n motor gemaak is om met brandstof te werk, só het God die menslike masjien ontwerp om Hom as brandstof te gebruik. Hy is self die ‘petrol’ wat ons gees moet verbrand – niks anders kan ons ooit so volmaak laat funksioneer as Hy wat ons ontwerp het nie”

(CS Lewis).


Gebed: Here, ek skiet so ver tekort in my pogings om ‘n behoorlike dissipel van U te kan wees. Stuur my uit om deur U genade, nie iets deur my werke of dade te gaan verdien nie, stuur my om my redding te gaan bewys: “God het (my) gemaak wat (ek) nou is: in Christus het Hy (my) geskep om (my) lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy (my) bestem het” (Ef. 2:10). Here, skenk my die genade om my lewe in ooreenstemming met U wil in te rig, laat my in volkome afhanklikheid myself in dankbaarheid op U genade rig, want wanneer my hande leeg is, vul U dit met U rykdomme. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page