top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING IS VIR ELKEEN WAT GLO (6) – VIVA VOX EVANGELII!


Rom. 10:15b – Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.’ ”


Vergelyk ook 2 Kor. 2:14-17 – “Aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat verlore gaan is dit ‘n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ‘n lewensgeur wat lewe wek. En wie is tot sulke dinge in staat? Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.”


Paulus het in Romeine 10:14-15 vir ons ‘n paar besliste Christelike “riglyne” uit God se Woord gegee waaraan ons kan vashou. Namate ons met toewyding groei en standvastig bly aan Sy Woord wat goed is en dit beoefen, maak die Gees ons sterker en kan ons verbly word in die werklikheid van hoop. Wanneer swaar en pynlike tye ons gelowiges se pad moeisamer maak, en dit soms voel dat dit onhoudbaar word, kán ons vir seker weet ons het ‘n lewe by God, nie net in die toekoms nie, maar ook die hede. Ons gelowiges in Christus Jesus het ‘n verantwoordelikheid om ons denke, ons lewe, ons álles, onder nuwe Bestuur te plaas, want “ons is lede van dieselfde liggaam” (Ef. 4:25b).


Met God as ons Bestuurder en Christus se Gees wat ons in Sy waarheid lei, verhelder ons verstand, kry ons insig en groei ons geloofsekerheid dat Jesus vir ál ons sondes gesterf het, dié wat ons reeds gedoen het, dié wat ons nog gaan doen en selfs dié waarvan ons nie eers weet nie! Maar, ons kan nie ‘n huis met net een steen bou nie, ons het mekaar nodig om ‘n verskil te maak in ons gesin, familie, gemeente en gemeenskap. Oorgawe aan nuwe Bestuur is ‘n voortdurende en gereelde stryd teen alles wat in die pad kom van volle toewyding aan God. Dit is egter moontlik want “ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13).


Hoe word en bly dit moontlik om toegewy te bly? “Moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om te gaan, na mekaar omsien, mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Heb. 10:24-25). Deur Sy Gees leer ons uit die Boek van God die Alwyse en kan “ek die Here prys in die samekoms van die gemeente” (Ps. 26:12). Wysheid wat nie uit die Woord van God kom nie, is eiewysheid en dit verval in valse wysheid!


Tweedens mag ons nie los van mekaar staan nie want dan mis ons die liefde, krag en vrede van God. Ons is aan mekaar verbind deur God se onverbreekbare verbond met ons. Daar is vandag meer mense buite die kerk as binne. Ons moet “uitgaan in die strate en gangetjies van die stad en die armes, kreupeles, blindes en verlamdes gaan haal en saamneem kerk toe sodat dit vol kan word” (Luk. 14:21-23). Om ander te help is om God se voete en hande op aarde te wees – “Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei” (Kol. 2:19). Dit help dus nie net om kerk toe te gaan en ‘n passasier te wil wees nie, dit maak net so min van jou ‘n Christen as wat jy ‘n motor word wanneer jy ‘n motorhawe binnegaan – jy is daar om te help om mense se leë lewens te vul met die evangelie – jy is die kerk!


Dit is ook nodig om “eensgesind met mekaar te wees, een in liefde, een van hart en een in strewe” (Fil. 1:1-8). God se gemeente is soos een liggaam waar elke lid, ‘n bepaalde gawe van Sy Gees ontvang het en dit aan te wend, saam te dink en te doen om die hele liggaam in God se Koninkryk op te bou – “Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde” (Ef. 4:16). Om geestelik te groei na Jesus toe moet ons Hom nie net ken nie, ons moet in Hom wees, by Hom, naby Hom (Ef. 1 :13-16).


“By die samekomste van die gemeente” word ons stil voor God, bid ons vir ander en onsself en is die leraar ‘n voorspraak vir almal. Koester gedurig ‘n verwagting van goeie dinge in die wete dat dit in ooreenstemming met God se wil is vir jou lewe. Daar lê krag in gesamentlike gebed, al voel dit soms dat ons nie alles kan uitdruk in woorde nie, wéét ons die Gees verander ons stamelende en eenvoudige woordjies in hemeltaal: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom. 8:26).


Iemand het gesê dat “gehoorsaamheid aan God die merkteken is van ‘n toegewyde lewe.” Ons oorwinning is gewaarborg in Christus wat die wêreld reeds oorwin het en daarom maak Hy ons óók oorwinnaars (Joh. 16:33) – “Aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus.” Met die hulp van die Here kan ons ‘n gesamentlike krag wees teen die verdeeldheid, hartseer, pyn, verwarring en onsekerheid wat daar in die wêreld rondom ons is. As gelowiges in Christus Jesus, kan ons dit nie op ons eie doen nie, ons het mekaar se ondersteuning, liefde, simpatie, bemoediging, raad en voorbidding nodig om saam te bou, te bid, sing, te dra en te stry teen die bose (Ef. 6:12). By die kerk kry ons krag om verder te kan dien! “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring ... omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.”


“Waar ook al die Woord van God suiwer verkondig word, dáár bestaan die kerk van Christus, al is dit ‘n gemeenskap vol foute” (Johannes Calvyn).


Gebed: “Vader, Seun en Gees, werk in U gemeente, Here. Reinig ons deur U genade, laat ons offers heilig wees, U is heilig, maak óns heilig deur die werking van U Gees” (Liedboek 475:2). Kom my lewe binne sodat ek ‘n positiewe bydrae sal lewer om die eenheid van U liggaam, ons wat die kerk is, te bewaar. Laat ek nie van “die samekomste van die gemeente” wegbly nie, skenk my deur U gees dáár die krag om verder te gaan dien. Help my om my deel te doen om ware gemeenskap onder gelowiges in Christus te bewerkstellig. Ek bid dat U, Heilige Gees, die Inspirasie en Interpreteerder van die Ware Woord sal wees en dat U hulle wat in die donker van onwaarhede hulle bevind, sal lei na die vleesgeworde Woord, Jesus Christus, ons Enigste Verlosser. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page