top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING IS VIR ELKEEN WAT GLO (3) – GLO, BELY EN WORD GERED!


Rom. 10:9 – “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”


Vergelyk ook Jer. 31:31 en 33 – “Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. Ek sal my woord op hulle harte skryf en in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”


Geloof is vir baie Christene van vandag gekompliseerd. Baie boeke is al daaroor geskryf en miljoene woorde daaroor gepreek, bespreek en ge-uiter – alles pogings om mense te help. Toe Paulus hierdie brief van hom aan die gelowiges in Rome geskryf het, was dit vir hulle waarskynlik nog méér gekompliseerd. Ons moet onthou dat Paulus hier aan Ou Testamentiese Christen-Jode en bekeerlinge uit die geledere van nie-Jode, wat die Joodse geloof aangeneem het en later Christene geword het, geskryf het.


Wat was so gekompliseerd vir hulle? Die woord “Here” het vir hulle ‘n dubbele betekenis gehad wat as dit vertaal word, in Grieks onder andere, “Kurios” beteken en in Hebreeus “Adonai”. Hierdie jong Christen-gemeente het in die stad Rome, met meer as ‘n miljoen mense gewoon waar die Romeine die keiser as die “Kurios” aangespreek het. Hy was die hoogste gesag en het gehoorsaamheid vereis. “Om met jou mond te bely dat Jesus die Here is”, is om te sê die keiser is nie die Here nie, maar Jesus is – die keiser is nie die hoogste gesag in my lewe nie maar Jesus is. Ek gehoorsaam dus vir Jesus en nie die keiser nie! Paulus, hoe nou gemaak in hierdie keiserstad?


Vir Paulus was dit egter ‘n uitgemaakte saak – verlossing is alleen vir elkeen wat glo in Jesus Christus, ons Here! Hy roep ons op tot oorgawe en geloof in Christus, om verlossing ons eie te maak. Dit is tog die doelwit van alle Christene. Deur die daad van geloof en die daad van belydenis, vorm dit saam die één daad van toeëiening van die vryspraak wat deur ons God van genade gegee word.


Hoe word hierdie woord so in ons gevestig dat dit in ons mond en in ons hart is? “In jou hart” wil sekerlik sê dat hierdie nie sommer maar net iets is wat gesê word sodat ek iemand kan beïndruk wat my dan sal beloon vir wat ek gesê het nie. “In jou hart” wil sê hierdie woord het ‘n wesenlike deel van my lewe geword wat daadwerklik bevéstig dat Jesus Christus die Here is.


Daarmee erken ek God het Hom uit die dood opgewek en as Nuwe Testamentiese gelowige, woon en werk die Heilige Gees in my. “Hy skryf die woord, die goeie nuus, op ons harte en lê dit vas in ons gedagte.” Dan behoort ons te besef wie God is – die God wat wil hê ons moet in ‘n persoonlike verhouding met Hom staan, Hom sal aanroep en “met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het,” dat elke knie sal buig en elke tong sal bely, dat Jesus die Here is!


Niemand kan die koninkryk van God ingaan slegs deur godsdienstige ervaring nie. Die wesenlike daarvan is geloof in Jesus Christus en die ervaring daarvan, vereis totale oorgawe aan Hom! Daarom het God deur Sy genade besluit om deur die prediking wat vir die wêreld, die sogenaamde slim woordvoerders en leermeesters onsin is, dié te red wat glo: “Die Jode vra wondertekens, en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke (en ons gelowiges), is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense” (1 Kor. 1:22-25).


Vir Paulus en vir ons gelowiges is die belydenis van Jesus Christus se opstanding uit die dood, ‘n 30cm verhouding: van die hart tot die mond, ‘n liniaal lengte. As ons nie die opstanding van Jesus Christus glo en dit bely nie, “is ons geloof waardeloos en is ons nog gevange in ons sondes” (1 Kor. 15:17). Hierdie toestand sou lei tot die ontkenning van jou geloof, ‘n ontkenning dat “God het ...... so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat ...... wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). Vul jou naam in die oop spasies in – 30 woorde, soortgelyk aan die 30cm liniaal verhouding. Liniaal in Engels is ‘n ruler – maak dit jou eie en bely “Jesus Christ is the Ruler of my life!” Nie die keiser, of die koning, of enigiemand anders nie.


“God het in Jesus Christus alles gedoen wat vir ons redding gedoen kon word. Alle ander godsdienste draai om wat die mens nog moet doen om vryspraak te kry met pogings van die mens se kant af om by God uit te kom, terwyl Hy al reeds in Christus na ons toe gekom het” (Malcolm Smith).


Gebed: Almagtige God, Vader van Jesus Christus, dankie dat U my as sondaar verwelkom het, my beklee het in Christus se geregtigheid, berou in my hart verwek oor my sondes en my daarvan vergewe en my ‘n nuwe mens maak, my ook U kind gemaak het. En al wat ek moet doen is om met my mond te bely dat Jesus die Here is, en met my hart glo dat U Hom uit die dood opgewek het, dan sal ek gered word. Heilige Gees, versterk my deur ons Vader se genade, dat my geloof in Jesus Christus my Verlosser, nie sal taan nie en dat ek elke dag daarin standvastig sal bly. Ek dra ook elkeen aan U op wat hulle steeds in die donker van die sonde bevind, om ‘n”u-turn” te maak en hulle ten volle oor te gee aan die lewende Christus, sodat hulle ook deel van God se familie word, en die ongekende liefde, vreugde en vrede in Hom kan vind. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page