top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING IS VIR ELKEEN WAT GLO (1) – DIE SKAT VAN DIE EVANGELIE IS NABY ONS!


Rom. 10:4-7 – “Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word. Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe. Maar van die vryspraak van die geloof sê hy: ‘Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,’ dit is, om Christus af te bring, ‘of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,’ dit is, om Christus uit die dood terug te bring.”


Vergelyk ook Deut. 30:11-14 – “Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.”


Paulus probeer om die ware weg van die vryspraak nou te verduidelik. Die ware weg kán nie deur die wet verkry word nie, want die wet is nie gegee as ‘n middel om die saligheid mee te verdien nie, soos die Jode ongelukkig verkeerdelik gedink het. Christus is “die einde van die wet” in hierdie sin. Dit beteken egter nie dat Hy die wet ophef nie, Hy het volkome aan die eise van die wet voldoen en die veroordelende straf wat die oortreding van die wet meebring, gedra toe Hy aan die kruis uitgestotter het: “Dit is volbring!” Ons sondeskuld is ten volle betaal toe Hy aan die kruis vasgespyker is. Geen gelowige in Christus hoef ooit weer te vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” nie, Jesus het dit volbring, volkome, vir eens en vir altyd!


Daar is dus net één weg oop tot vryspraak: Die omhelsing van Christus deur die geloof want Christus is die doel, die vervulling en die samevatting van die wet. Wie sy of haar eie vryspraak wil bewerkstellig, moet besef dat hulle die hele wet volkome sal moet onderhou, en dit is menslik onmoontlik, géén mens kan die wet volkome en in alle opsigte uitvoer of onderhou nie. Dit is die fout wat die Jode gemaak het – hulle het gedink dat ‘n mens eers in eie krag die wil van God moet doen om die lewe as beloning te kan ontvang, en eintlik het hulle daardeur die oordeel op hulleself gebring. Die evangelie was baie nader aan hulle as wat hulle gedink het, as hulle dit maar net wou aanvaar.


Die funksie van die wet is deur Jesus opnuut geïnterpreteer. Ons sou in die oordeel van God veroordeel moes word maar deur die genade van God het Christus die essensie van die wil van God daarin gesoek en dit self vervul, terwyl Hy ook die oortredinge van ons op Hom geneem het in Sy kruisdood. Wie Christus se verdienste aanvaar, ondervind die wet nie meer as ’n oormagtige vyand of neerdrukkend of selfs beperkend nie, maar as die wegwyser, die padkaart wat ons help om die lewe met vreugde te kan geniet. Dit word dan “die wet wat vry maak,” vir ’n bevryde lewe.


Wie dié wet as ‘n wegwyser moedswillig verontagsaam, moet egter weet dat dit ’n blywende maatstaf is waaraan sy lewe in die eindoordeel beoordeel sal word. Dit sal aan die lig bring of hy werklik vrygemaak is en of hy begryp het wat daardie vryheid behels: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het , of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor. 5:10).


Ons moet Jesus Christus net as Verlosser aanneem en in Hom glo. Jesus het nie halwe werk gedoen nie, dit is volbring en genoeg, vir alle ewigheid! Ongelukkig is daar mense wat gevange gehou word deur hulle godsdiens – ‘n godsdiens wat gaan oor iets wat jy moet doen om jou god tevrede te stel; om sy guns te wen; om te keer dat hy jou straf; om seker te maak hy sal vir jou goed wees.


Ons Christengelowiges se God werk nie met ‘n sterretjiestelsel nie – “As jy nou die hele week mooi soet is en al jou godsdienstige takies doen, dan kry jy ‘n beloning Sondag!” Ons het klaar ons beloning ontvang, Jesus het daarvoor aan die kruis met Sy bloed betaal, vir eens en vir altyd: “Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat u wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het” (Heb. 10:5).


“Doen soveel goed jy kan. Op soveel maniere as wat jy kan. Op soveel plekke as wat jy kan. Aan soveel mense soos jy kan. So dikwels as wat jy kan. En so lank as wat jy kan”

(John Wesley).


Gebed: Dankie Jesus, dat U volkome aan God se eise voldoen het, dit volbring het, afgehandel het vir alle ewigheid en ek daardeur my beloning by U kon ontvang reeds by die kruis. In dankbaarheid gee ek myself weer opnuut aan U. Help my om my lewenstaak op aarde uit te leef, ek met ‘n Christushart sal liefhê en my hande nie moeg sal word om U wil te doen nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page