top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


ISRAEL EN DIE EVANGELIE (3) – YWER VIR GOD!


Rom. 10:1-2 – “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig.”


Vergelyk ook Sag. 4:6 – “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here.”


As gevolg van Paulus se verbondenheid aan Israel, kon hy met vrymoedigheid getuig van hulle "ywer vir God." Sy hartewens was om vir hulle te bid dat God hulle moet red want hulle ywer was sonder insig. Voor sy bekering was hy ook vol drif en ywer, ‘n ywer wat hy gebruik het om die Kerk mee te vervolg want sy ywer was sonder insig! Sy ywer was negatief aangewend en niemand het voordeel daaruit getrek nie, selfs nie hy nie. Hy kon dus uit eie ondervinding, vir hulle bid dat Israel nie dieselfde foute maak, wat hy gemaak het voor sy bekering nie.


Het ons nog ‘n ywer vir God – is ons nog passievol vir Hom? Is ons nog toegewyd aan Hom – staan ons nog op vir Sy Naam? Toe ek Romeine 10:1-2 lees, het ek aan die Israel gedink van die Ou Testament wat in 1 Samuel 17 met ‘n onvoorstelbare krisis gekonfronteer is. ‘n Besondere uitdaging word aan koning Saul gerig: nomineer iemand om teen Goliat, die reus van die Filistyne te veg; die een wat verloor maak daarmee sy hele volk tot slawe van die oorwinnaar.


Saul maak sy somme – sy sigbare wêreld bestaan uit manskappe met skilde en swaarde en hy besef sy onmag teenoor die oormag. Die geloofsoog van Saul sien dieselfde dinge as die ongeloofsoog van die reus Goliat. As gesalfde van God vergeet hy dat sy krag nie in sy militêre mag geleë is nie, maar in die Een in wie se Naam hy gesalf is. Dit is eers wanneer Dawid op die toneel verskyn dat dit werklikheid word: Die vrees wat Saul verlam, inspireer vir Dawid, want hy wéét dat “die Here nie deur spies of swaard verlos nie ... en dat Hy in staat is om die mag van die magtiges, te beskaam en die oorwinning aan hulle te gee” (1 Sam. 17:47). Dawid se somme bestaan nie uit die reus wat hy moet konfronteer nie, maar die passie wat Hy vir God het.


Die selfvertroue van Goliat teenoor die Godsvertroue van Dawid; die berekeninge van Saul teenoor die kinderlike vertroue van Dawid in die Here, bestaan vandag nog. Menigte van ons is “vol ywer vir God, maar sonder die regte insig.” Ons weet ook van die sterk mense rondom ons, luidrugtig en selftevrede met hulle eie prestasies. Ons sien en hoor ook die geraas van mense wat met gebulte spiere en in eie krag die heil soek in hulle eie vermoëns. Vandag se reuse is weliswaar in verskillende gestaltes – hulle wat God se eer aantas, wat God en Sy saak teenstaan of bestry, selfs hulle aardse christusse gemaak het en ook so noem??


Ons almal kom een of ander tyd by ’n kruispad te staan waar ons die vraag vra: Wat maak ek nou eintlik hier? Wat is my doel op aarde? En dikwels word die antwoord verder weggejaag met ’n minderwaardigheidsgevoel wat oor ons neer daal, want ons kan die Goliatte in ons lewe nie konfronteer nie. Maar dis wonderlik om te weet dat God nog voor my geboorte al betrokke was by my. Nog voor ek aanmekaar geweef is in die buik van my moeder, het Hy al die volmaakte prentjie van my in Sy gedagtes gehad (Jer. 1:5).


Miskien is dit omdat ons berekeninge vir ons gesê het dat ons reeds die stryd verloor het. Miskien het die “reuse” van die lewe al so houvas op ons dat ons hulle nie eers meer as ‘n bedreiging beskou nie. ‘n Ander moontlikheid is dat dit nie meer belangrik is om op te staan vir God se eer nie, nie meer ywerig is vir Hom nie. Goddelike ywer is ‘n standvastige ywer, ‘n ywer vir Hom in Christus, ‘n ywer om Sy wil en koninkryk eerste te stel, nié ‘n mensgemaakte koninkryk nie. As gelowiges in Christus, leef ons in geloof, ‘n ywer om standvastig te bly wat daagliks deur die inwonende Heilige Gees bewerkstellig word.


En dis waarvoor Paulus bid in 2 Tessalonisense 1:11: “Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.” Kom ons los die gesukkel en gestoei met ons selfwaarde en ons soort ywer en sê hardop: Ek was al in God se gedagtes nog voordat my ouers planne begin beraam het om kinders te kry. Dis nou my en jou verantwoordelikheid om by God seker te maak wat die plan is. En dan moet ons in aksie kom om God se plan vir ons lewe met ywer en insig voluit uit te leef, sonder enige onsekerheid oor ons waarde in God se oë.


“Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk, of insig of kennis of wysheid nie” (Pred. 9:10)


Gebed: Dankie hemelse Vader, dat U tot die geveg toegetree het om die sonde te vernietig. Daarom kan ek nie nou agteroor sit en verder niks doen, of vir iemand wag om my “geveg” op aarde voort te sit nie. Nee, ek gaan my klippie optel om die “reuse” met ywer en insig te oorwin. Help my Here, want die reuse is groot. Hou my passievol vir U woord, maak my gehoorsaam vir U wil, lê die strydkreet in my hart: “Jy kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige” (1 Sam. 17:45a). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page