top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


ISRAEL EN DIE EVANGELIE (2) – DIE REGTE INSIG!


Rom. 10:1-4 – “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word.”


Vergelyk ook Matt. 5:17-20 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry ...”


Paulus se vurige verlange dat sy broers (en susters), die Jode, gered word deur geloof in Christus, het soms geklink asof hy in konflik met hulle is. In sy brief aan die Christen gemeente in Rome, (veral vanaf Romeine 9), is deurspek met waarhede wat hulle nie wou hoor of aanvaar nie. Die fout wat Israel gemaak het, was om op hulle eie manier vryspraak te probeer kry, “hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie.”


Hulle het tevergeefs deur die onderhouding van die wet vryspraak probeer kry. Hulle het God se guns probeer wen om ‘n goeie lewe te lei deur die wet tot op die letter te onderhou, en eintlik nie besef dat hulle nóóit goed genoeg kan wees nie. Hulle was oortuig dat die betekenis van die wet juis was dat God met hulle tevrede sou wees, indien hulle die wet kon onderhou. Hulle wou nie besef dat daar geen alternatief is vir God se vryspraak nie, by hulle was dit ‘n hoogs emosionele saak, dat die vryspraak wat verkry word alleen deur geloof in Christus Jesus is!


Wat hy hier wil beklemtoon, is dat Israel aan die wet ’n betekenis toegeskryf het wat God nie bedoel het nie, en so in wettisisme verstrik geraak het. “Hulle wou niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle het probeer om dit op hulle eie manier te kry”, deur hulle te onderwerp aan wetsgehoorsaamheid. Hulle het hulle nie gesteur aan die feit dat geloof beteken om jou te onderwerp aan wat God uit genade in Christus met die mens wil doen nie. Hulle kon of wou nie insien dat Christus, in werklikheid die einddoel van die wet is waarvoor hulle hulle so beywer het nie.


Paulus “kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig.” Die skrifgeleerdes was verantwoordelik vir die opstel van al die reëls en regulasies terwyl die Fariseërs hulle afgesonder het van gewone daaglikse aktiwiteite om hierdie reëls en regulasies toe te pas en te verseker dat dit deur die volk toegepas word. Die Fariseërs was tot in die fynste besonderhede “vol ywer” en pligsgetrou aan die wet. Dit was vir hulle die wese, die kern van godsdiens. ‘n Godsdiens wat bestaan het uit ‘n magdom moets en moenies en behoorts.


Die skrifgeleerdes en Fariseërs het een beginsel onvolmaak aangegryp: God se wil moes in alles gesoek word en Sy volk moet hul hele lewe daaraan toewy om dit toe te pas. Hulle getrouheid het gepaard gegaan met hulle uiterlike optrede – hulle het gedink hoe méér hulle kon dóén van die wet, hoe meer sal hulle vir God kan beïndruk – kwantiteit in plaas van kwaliteit! Hulle leerboeke van reëls en regulasies, volgens húlle interpretasie, het dikker en belangriker geword as die Woord van God – Jesus Christus! Hulle keuse was die regte een maar waar hulle verkeerd gegaan het was om die wil van God tussen húlle magdom mensgemaakte reëls en regulasies te vind.


Wat is dan die regte beginsel? Is die wet van Moses nog nodig in ons moderne tyd? Het Christus dan nie vir ons die wet vervul nie? Waarom al die reëls as dit nie vir ons die saligheid inhou nie? Nee, die saligheid het ons reeds in Christus. Die regte beginsel is vir ons die reël van ons dankbaarheidslewe – dié een wat Jesus voor gekom het om “volle betekenis te laat kry.” Daarom kan die wet veeleer as ‘n blye boodskap gesien word en die bedoeling daarvan eerbiedig: Eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers – vir lewe – vir eiendom – vir ander mense – vir die waarheid – vir jouself sodat verkeerde begeertes nie beheer van jou neem nie. Jesus het nie die wet kom vervang nie, maar sekere aspekte daarvan wat glad nie by die wet gehoort het nie en later bygevoeg is deur die skrifgeleerdes, wat die wet verwring het.


Hierdie eerbied en respek het Jesus kom vervul! God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. Die wet van God is die “padkaart” wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as Sy verbondskinders is. Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie, maar liefde, liefde vir God en liefde vir ons naaste. Dit beteken om nie net met mooi godsdienstige woorde ons wetsgehoorsaamheid aan te prys nie maar om in ‘n persoonlike en innige gemeenskapverhouding met God te leef – om getrou te bly aan die God van die wet.


Dit is egter nie so maklik nie! Ons worstel telkens opnuut om in geloof na al die gebooie van God te leef. Saam met Paulus erken ons dat die sonde ‘n vastrapplek in ons lewe gekry het: ”Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer met die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is” (Rom. 7:21-23). God ken ons harte en ons bedoelings en daarom het ons as Christene ‘n groot verantwoordelikheid. As nuwe mense moet ons leef met ‘n nuwe styl en dit is net moontlik deur die leiding van die Heilige Gees.


“Godsdiens en geloof verskil radikaal. Godsdiens word gebou op eie ervaring. Geloof vertrou op God, al sê jou ervaring dat daar geen rede is om Hom te vertrou nie”

(Louis Berkhof).


Gebed: Hemel Vader, U het my geskape om hier op aarde as U verteenwoordiger op te tree. As gelowige is ek geroep om my gedragskodes op al die terreine van die samelewing toe te pas volgens die eise van U Woord. U staan in die middelpunt van my lewe. U wil en wet bepaal my sedes. Ek behoort anders te wees, maar Here, ek staan skuldig voor U en sou ek eintlik op pad wees verderf toe. Dankie, dankie, dankie, vir U genadegawe van die ewige lewe wat U aan my gee in Christus Jesus, ons Here. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page