top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


GOD SE VERKIESING VAN ISRAEL (4) – WERKLIKE VADERSKAP!


Rom. 9:6b-7a – “Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie.”


Vergelyk ook Joh. 8:37-41a – “Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat My woorde nie ingang by julle vind nie. Ek praat oor wat Ek by My Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.’ Hulle het vir Hom gesê: ‘Ons vader is Abraham.’ Daarop sê Jesus vir hulle: ‘As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. Julle doen wat julle vader gedoen het.’


Die beginsel van skeiding binne die Joodse volk kom al van Abraham se tyd af. In die Nuwe Testament weet ons uit die briewe van Johannes, dat ‘n deel van die Jode nie in die waarheid van Jesus wou vashou en soos gelowiges optree nie (1 Joh. 2:28-3:10). Jesus het dieselfde probleem ondervind tydens Sy aardse optrede, die Jode wat Hom gevolg het, het nie soos volgelinge van Hom opgetree nie. Hulle “geloof” het bloot beteken dat die “gelowige” hom by Jesus skaar sonder dat daar werklik ‘n intense verhouding met Hom tot stand kom. Die plek wat die evangelie moes gekry het, word gevul deur vyandskap en moordplanne, daarom kán dit nie die gees van Abraham wees wat hulle besiel nie (Joh. 8:40).


Vir die Jode was Abraham naas Moses, die grootste geloofsheld in die geskiedenis en daarom het hulle gedink om ‘n afstammeling van hom te wees, is genoeg rede om ‘n kind van God te wees. Hulle het geglo dat Abraham se kindskap van God outomaties aan hulle oorgedra is. Alhoewel Jesus toegegee het dat die Jode die nageslag van Abraham is, tref Sy woorde: “Ek praat oor wat Ek by My Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het”, hulle tussen die oë. Hulle besef dat Hy die klem verskuif van die vleeslike afstamming na ’n geestelike verhouding en dit het hulle nie outomaties in kinders van God verander nie.


Die diepste rede vir sommige Jode se verwerping van die woorde van Jesus, is hulle verbondenheid aan hulle “vader”. Wie daardie “vader” is, begin sterk deurskemer deur Jesus se uitspraak: “Ek praat oor wat Ek by My Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.” Dit kom hierop neer dat Jesus in die allernouste verbinding met Sy Vader bly en Hy verkondig wat Hy in hemelse helderheid by die Vader sien. Sy verkondiging is die boodskap van bevryding uit die mag van die sonde. Daarteenoor is daar by die Jode nie ’n “sien” nie maar ’n “hoor”, omdat hulle in duisternis verkeer en alleen maar van die influisteringe van húlle “vader” afhanklik is.


Wat hulle van hulle “vader hoor”, doen hulle, en daardie “doen” is sonde. Dit word nou duidelik dat dit hier nie gaan om ’n teenstelling tussen Jesus se “Vader” en Abraham, die “vader” van die Jode nie, immers, hoe sou hulle kon “hoor” wat Abraham vir hulle sê? Veeleer gaan dit om die satan. Die punt is dat die mens wat sondig nie doen waarvan hy hou nie, hy doen waarvan sonde hou, waarvan sy “vader” van die leuen en die sonde ‘n ekspert in is! ‘n “Vader” wat hom gedurig verset teen God en vir hom ‘n menigte aanhangers op aarde vergader wat as “kinders van die duiwel” bekend staan.


Die Jode wóú nie verstaan wat Jesus sê nie. Vir hulle was dit maar net woorde waarvan hulle die betekenis of boodskap nie kon begryp nie. Hulle gesteldheid van hart is sodanig dat hulle weier om te glo, en wie nie glo nie, kan die uitsprake van Jesus ook nie verstaan nie. In die diepste gaan dit om die vraag: Wie is hulle geestelike vader? Hulle optrede teen Jesus bewys dat hulle kinders van die duiwel is want hulle bedink ongeregtigheid teen Jesus en tree met haat op teen Hom, hulle “broer” (1 Joh. 3:8-10). Dieselfde optrede by die gemeente van Rome het veroorsaak “dat daar by Paulus groot droefheid en voortdurende hartseer is oor sy broers, sy eie volksgenote” (v. 2). Die duiwel word voortdurend deur die sondige begeertes aangedryf en hy gebruik die mense wat sy gees geërf het, om aan sy wil uitvoering te gee.


Die volkome waarheid is alleen by God te vind en word deur Jesus Christus geopenbaar, maar die duiwel verset hom teen hierdie waarheid en teen Jesus, omdat die duiwel die teenoorgestelde van die waarheid beliggaam. “Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie” – hulle het Jesus doodgemaak, hulle het geweier om die waarheid te aanvaar en hulle het volhard in die leuen teen Jesus.


Daar moet ’n geestelike verwantskap met God bestaan voordat iemand die woorde van God kan aanvaar en gehoorsaam. Waar so ’n geestelike verwantskap nie bestaan nie, is dit onmoontlik om na die woorde van God te luister. ’n Mens moet ’n kind van God wees, om die woorde van God te kan glo. As jy nie glo wat Jesus gesê het en steeds sê nie, is dit ‘n duidelike bewys dat jy nie aan dieselfde gesin as Hy behoort nie en God dus nie jou Vader kan wees nie. Wie dink jý, is Jesus? Geen mens kan sommer net ‘n antwoord opmaak nie, want die waarheid blyk uit jou dade! Dit help nie net om ‘n lidmaat van ‘n gemeente te wees, en jy het nie ‘n intieme verhouding met Jesus nie. “Geloof sonder dade is dood” (Jak. 2:17), geloof moet uit dankbaarheid gedóén word.


“In Jesus sien ons alles wat ons van God kan weet; In Hom het ons ook alles wat ons ooit van God kan nodig hê” (Athanasius - 320 n.C.)


Gebed: Dankie Jesus dat U die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan het met U oorwinning aan die kruis. Hulle kan nou net in kettings agter U aan voortstrompel, terwyl U as die Groot Oorwinnaar vooruitstap. Dankie Vader dat U my saam met Christus lewend gemaak het deur my sondes aan die kruis vas te spyker (Kol. 2:14-15). Help my Here om my oog gevestig te hou op U met my aardse stryd teen die sonde. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page