top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


NIKS KAN ONS VAN DIE LIEFDE VAN CHRISTUS SKEI NIE (10) – ONBETWYFELBARE VERSEKERING!


Rom 8:35-39 – “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”


Dit word vertel van ‘n ongelowige soldaat wat na nog ‘n fel aanval deur die vyand, hardop geskree het dat hy nie daar wil wees nie, nie deel van die oorlog wil wees nie. Honger, koud, bang en moedeloos het hy uitgesnik dat al waarna hy verlang is om vrede te hê en tuis by sy familie te wees. Een van die ander soldate het geantwoord: “Vriend, die enigste vrede wat jy op aarde ooit sal hê is om vrede met God te beleef, om te besef dat jy ‘n oorwinnaar is in Christus. Dit beteken nie dat jy nooit sal swaarkry nie maar in jou swaarkry kan jy verseker wees dat die Heilige Gees en Jesus Christus vir jou by God pleit.” Daarna het hy Romeine 8:35-39 vir die ongelowige gelees.


Later het die ongelowige erken dat indien dit waar is wat sy makker hom meegedeel het, daar selfs vir hom ook hoop is. Daar het vir hierdie ongelowige soldaat ‘n nuwe dag aangebreek – die lamp van die Woord het in sy donker hart en lewe ingeskyn en hy is uit sy sondenag waarin hy as ongelowige sondaar verkeer het, gered. Die lente van ‘n nuwe lewe het vir hom soos ‘n roosknop, ten volle oopgegaan. Nuuskierigheid het hom gedwing om meer te wil weet en onwetend het hy uit Daniël aangehaal: “Ek het dit al gehoor maar nie verstaan nie, waarop gaan dit alles uitloop?” (Dan. 12:8).


Dikwels kla mense dat hulle dit moeilik vind om te bly glo en te vertrou op God, veral wanneer die lewe teen jou draai, wanneer jy in wanhoop geen doel vir jou omstandighede kan vind nie en jy in die versoeking kom om God se dade te bevraagteken. Dit is een ding om sterk in jou geloof te staan wanneer alles net goed gaan en die son, spreekwoordelik, onafgebroke op jou skyn. Die toets van jou geloof kom egter wanneer die pyn en lyding van die wêreld, “die dood ons dag vir dag bedreig.”


Die essensie dan, is om met ‘n sterk geloof, God te bly vertrou. God het ons gelowiges vrygespreek van al ons sondes en Christus, die onskuldige, in ons plek veroordeel. My skuldbrief is aan die kruis vasgespyker, ek het amnestie gekry, die Gees het hierdie vryspraak vir my ‘n werklikheid gemaak en niemand, “niemand kan my van die liefde van God skei nie.” Ja, dit is maklik om soos die soldaat in ons storie, moedeloos te raak veral wanneer teenspoed of versoeking ons in die gesig staar, om dan oortuig te wees dat “geen lyding of benoudheid, honger, gevaar of swaard, geen dood of bose magte,” ons sal oorval nie.


Iemand het gesê dat ‘n onwrikbare geloof in Christus noodsaaklik is, maar dit nie altyd moontlik is nie. Hy kan met die beste teleskoop nie ver genoeg kyk om God se einddoel te sien nie en met die beste mikroskoop nie die verborge dieptes van God se plan naspeur nie. Maar wanneer hy in hierdie swakheid verkeer dat hy nie eers weet wat om te bid nie, pleit Christus én die Gees vir hom by God. Ons moet onthou dat die Almagtige God groter is as enige gedagte wat in ons verstand kan opkom. “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Oorwinnaars sal ons alles erf en drink uit die fontein van lewenswater, heerlik, rein. En God sal oor ons skyn” (Liedboek 602:5).


Maar Here, Paulus vra: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei?” Sonde bring verwydering, bring skeiding en dryf my weg. En skeiding bring smart of dit ’n egskeiding is of familie wat uitmekaar spat deur verkeerde keuses en besluite, of die dood wat my van ’n geliefde skei. Mense met Christelike oortuigings word verwar deur die leerstellings van mense wat beweer dat hulle met die gesag van Christus praat en selfs Christus ís. Hierdie mense is oortuigend in hulle pogings om ander te oorreed dat hulle vals teorieë eg is, en intussen veroorsaak hulle ontsettende pyn in hulle families en gemeenskap wat nie dieselfde sentiment deel nie. Here, hoe sal ek weet?


Ten einde al hierdie twyfel uit jou lewe uit te verban, is dit nodig om te weet dat elke teorie ondersoek moet word in die lig van God se woord. Niks wat nie op die basis van God se liefde deur die Heilige Gees geopenbaar word, “kan ons van die liefde van Christus skei nie.” In alles moet die eer van God gesoek en Sy liefde geopenbaar word. Indien dit nie die geval is nie, kan jy seker wees dat daardie leringe nie van die Heilige Gees is nie. Die Heilige Gees getuig nie alleen dat ek kind van God is nie, Hy getuig ook dat ek erfgenaam van God en erfgenaam saam met Christus is. Geen mens kan my vryspreek nie, net God kan. Ek wat deur Hom vrygespreek is, ek wat seker is dat ek aan Hom behoort, ek wat deur Sy Gees versterk word wanneer ek swak is, ek wat in verbondenheid met Hom lewe, ek wat deel het aan sy lyding, ek sal ook deel hê aan Sy heerlikheid. Wat ’n heerlike vooruitsig!


“Welke teenstand ons ook al vandag sien of ervaar, ons moet nie daaraan twyfel dat ons Here weer sal kom en deur al die ondernemings van die mens breek om ‘n pad vir sy Woord oop te maak” (Johannes Calvyn).


Gebed: God van liefde, ek kniel in stomme verwondering voor U neer oor U onpeilbare liefde, “die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” Dankie dat U liefde nie van verdienste afhang, of dat ek eers U liefde waardig moet wees nie. Daarom is dit verstommend, ek ontvang dit uit genade, dis gratis en verniet! Ek dank en loof U daarvoor! Ek wil net op die pad wees waar U Gees my lei want dit is vir my die beste – vir tyd en ewigheid. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page