top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Triomfboog van Konstantyn in Rome

NIKS KAN ONS VAN DIE LIEFDE VAN CHRISTUS SKEI NIE (9) – DEKOREER MET DIE ORDE: “VRIEND VAN JESUS”


Rom 8:38-39 – “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”


Vergelyk ook 1 Kor. 1:30 – “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.”


Paulus sluit hierdie gedeelte in die vorm van ‘n oorwinningslied af met ‘n oorweldige oortuiging, dat as God aan jou kant is niks of niemand enige regsgronde het teen jou nie. Die sterkste mag wat daar in die hele skepping kan wees, is in elk geval net ‘n stoffie in vergelyking met God se almag! Geen bedreiging van watter aard ookal, sal kan keer dat God se plan met ons as Sy kinders uitgevoer word nie. Calvyn sluit by Paulus aan deur te bevestig dat God nie net vír ons is nie, maar Sy Seun en Gees pleit ook vir ons, daarom sal dit moeilik wees om ‘n ander vers in die Bybel te kry wat die drie opeenvolgende fases van Jesus Christus se werk só duidelik kan uitdruk soos 1 Korintiërs 1:30 hierbo.


Ons gelowiges in Christus kan dus die toekoms met optimisme en met moed aanpak want jy weet: wat ookal gebeur, in Christus is ek meer as oorwinnaar en niks in die skepping kan my van die liefde van God skei nie! Christus is ons álles en dit is alles genade. Christus sê “julle is My vriende” (Joh. 15:14), en het ons as’t ware gedekoreer met ‘n oorwinningsmedalje: “Vriend van Jesus”. En wat die oorwinning nog meer triomfanteliker maak, is dat dit nie my goedheid of vriendelikheid of gaafheid was wat Christus se vriendskap gewen het nie. Nee, dit kom alles van Christus se kant af – Hy het dit moontlik gemaak – om Sy vriendskap te bewerkstellig en in stand te hou, moes Hy sy lewe vir my as Sy vriend aflê, daar by die kruis op Golgota.


“Jesus het hard uitgeroep: ‘Vader, in U hande gee Ek my gees oor.’ Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas” (Luk. 23:46). Dit is die einde van die marteling, en Jesus, alleen aan die kruis, praat vir die laaste keer. Eintlik was dit nie nodig om te praat nie, Sy Vader weet mos wat Hy dink? Hierdie woorde was nie net vir God bedoel nie, maar ook vir almal wat daar by die kruis gestaan het en alle gelowiges van vandag, én die toekoms, bedoel. Dit is ‘n vaste wete en waarborg wat ons het om, soos Jesus, berusting en vrede te vind by God. Met ’n enkele woord sluit Jesus Sy aardse bediening af. Sy sterwenswoord is ’n oorwinningswoord wat sal bly voortklink tot aan die voleinding van die wêreld.


Ons Meester en Heiland hang doodstil aan die kruis. Hy wat die doderyk kon oopmaak en die dooies weer lewend daar kon uithaal; wat met een woord die natuur kon beheer en storms stil maak; ‘n menigte mense kon kos gee deur twee vissies en vyf broodjies te verdeel; bose geeste laat wegvlug wanneer Hy naby hulle gekom het; blindes, lammes, siekes, melaatses, kon gesond maak, is nou dood. Hy het ná Sy laaste uitroep, Sy kop “vooroor laat sak”, aan die kruis lê Hy sy kop neer; dit is Sy rusplek. En daar het Hy die laaste asem uitgeblaas. Met hierdie daad neem Hy afskeid van die lewe op aarde en vertrou Hy sy gees toe aan Sy Vader.


Sy vertroue in God bly onwankelbaar! Jesus se lewe is nie geneem nie, Hy het dit gegee! Ons kan ook met sekerheid ons lewe, ons gees, aan God gee terwyl ons nog leef én wanneer ons eendag sterf, want Jesus het daardie pad vir ons moontlik gemaak. “Vriende van Jesus” het te make met die uitverkiesing. Ons het nie die inisiatief geneem en Jesus as ons leermeester gekies nie, Hy het ons uitgekies en ons geroep om Sy vriende te wees. Juis daarom is hierdie vriendskap so ’n kosbare besit en moet dit gekoester word deur die onderhouding van die groot gebod van die liefde.


Net soos die Romeine triomfboë het waarop hulle oorwinnings uitgebeeld is, het ons ook ons eie triomfboog: Die kruis, en daarop kan ons skryf: “In Christus is ek meer as oorwinnaar en niks in die skepping kan my van die liefde van God skei nie!” Hierdie oorwinning bestaan daarin, dat die liefdesband waarmee ons aan Christus gebind is, nie verbreek word deur die swaarkry in ons lewens nie. Hierdie band groei en triomfeer juis deur die ontberinge wat ons verduur. Die oorwinning bestaan nie ondanks die ontberinge nie, maar dit bestaan daarin. Ons kan waaragtig saam met Paulus bely: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”. Ons Hemelse Vriend het dit baie duidelik gemaak dat Hy “ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie” (Heb. 13:5). Hy is onfeilbaar en is altyd by ons.


“As jy glo in Christus, glo jy in oorwinning, dink jy oorwinning, bely jy oorwinning en leef jy oorwinning – oorwinning in Jesus Christus en daarom kan niks of niemand ons van hierdie liefdevolle oorwinning ontneem of skei nie!”

(Onbekende oorsprong aantekening in “The Protestant Standard”).


Gebed: Here, in ‘n wêreld waar daar soveel boosheid, haat, pyn en geweld, is, dank ek U vir die weelde van vryheid deur die oorwinning wat U vir my behaal het. Dankie dat U my ook met die “Orde van Vriend” beklee het en daarom bid ek vir elkeen wat nog doelloos hulle heil in die wêreld en by ander mense soek. Here, gee dat hulle ook sal besef dat U aarde toe gekom het om die dood te oorwin, sodat dié wat in U glo die ewige lewe het en daarom meer as oorwinnaars is deur U wat ons liefhet. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page