top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


NIKS KAN ONS VAN DIE LIEFDE VAN CHRISTUS SKEI NIE (2) – GOD SAL VOORSIEN!


Rom 8:32 – “Hy het Sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie?”


Vergelyk ook Matt. 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie ... ”


Paulus gaan sy tweede vraag voor, deur eers God se liefde vir ons, Sy kinders te beklemtoon met Jesus se sterwe aan die kruis – “God het Sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. God het Sy eie Seun nie gespaar nie”, want Sy liefde is geen spaarsame liefde nie. Waar God bereid was om tot sulke uiterstes te gaan, spreek dit vanself dat Hy aan sy kinders ook “al die ander dinge saam met Christus” uit genade, sal skenk. Wie aan Christus verbind is, ontvang uiteindelik alles wat Hy verkry het: “die volle hemelse erfenis van die ewige heerlikheid (v. 17). Alles is egter nie dieselfde as enigiets nie, dit sluit slegs alles in wat volgens God se raadsplan vir Sy kinders bestem is.


Paulus se vraag handel eintlik oor God se voorsiening. As God bereid was om ons Sy Seun, hierdie grootste van alle geskenke, te gee, sal Hy nie ook volgens Sy raadsplan, in al ons behoeftes voorsien nie? Ons eerste reaksie is gewoonlik: “Ja, maar...” Ons bly steeds bekommerd – oor môre, ons toekoms, ons werk, ons kinders, alles.


Gesprekke deesdae gaan meestal oor die toekoms wat maar donker lyk en dan volg ‘n hele relaas oor die sogenaamde “feite” daaroor. Elkeen se storie is meer verdoemend as die ander. Daar is volgens hierdie “kenners” nie meer ‘n toekoms in Suid-Afrika nie. Wanneer ons as gelowiges probeer om positief te verwys na Jesus se versoek om nie bekommerd te wees nie, word jy vinnig stil gemaak en daaraan herinner dat Jesus eenvoudige blommetjies en voëltjies wil vergelyk met mense se sukkelbestaan. En hulle redenasie: met respek, Jesus verstaan nie hoe die wêreld nóú daar uitsien nie.


Daar is baie mense wat wonder oor die stukkie pad wat God vir hulle afgemeet het, mense met verpletterde drome, hartseer en moeilikhede, mense wat nie weet waar hulle volgende stukkie kos vandaan gaan kom nie. Werk afleggings is aan die orde van die dag. Gegradueerders sit by die huis, hulle toekomsdrome is aan flarde. Die werkloosheidsyfer in S.A. styg daagliks. Ons mooi land van weleer, is deur ‘n onbekwame regering in die grond in bestuur tot rommelstatus. Moet ons gevoelloos oor die lewe kyk? Met respek, tydens Sy bekende Bergpreek, het Jesus seker nie veralgemeen met hierdie versoek “dat ons nie bekommerd of besorgd oor ons lewe” moet wees nie. Weet Jesus wat werklike armoede beteken? As ons die huidige moeilike ekonomiese omstandighede in oënskou neem, kan ons nie anders as om bekommerd te wees nie.


Jesus verwys nêrens dat ons nie moet werk om kos en klere te verdien nie of om vir jou lewensonderhoud, van genade alleen, afhanklik te wees nie. Jesus wys kommer af, nie voorsorg nie! Jesus erken juis die mens se kommer as ‘n lewensnoodsaaklikheid, daarom wil Hy raad gee. Hy wil God se versorgende liefde oordra, God wat steeds omgee ten spyte van elke dag se kommer. Die God wat tot dusver voorsien het en nooit die werke van Sy hande laat vaar nie. God het te groot prys betaal om nou Sy versorging te staak. Hy bly steeds in beheer. Dít is waaroor dit gaan.


Baie mense besef nie dat ons tans dieselfde toekoms beleef waaroor ons tien of selfs twintig jaar gelede, oor bekommerd was nie. Boonop het ons dit oorleef en maak ons dit daagliks nog steeds op die een of ander manier. Verstommend né! Nee, dit is nie verstommend nie. Dit is genade. Dit is alles aan God te danke. Hy is getrou. Hy sorg nog elke dag en voorsien ons van genadebrood. Ja, daar is miskien nie elke dag botter op die brood nie maar God het immers gesorg dat ons vandag gehaal het. Hy het gesorg dat ek vir vandag iets het om aan te trek, ‘n kombers vir die koue het en ietsie vir die maag.


Wanneer ons God volkome vertrou, kan ons vry word van lewensangs, stres en bekommernisse. Kommer wat die brein moeg maak, tas die liggaam ook aan. Dit affekteer mens se oordeel, besluitneming en maak jou allerhande onwaarhede bekend. Dit is om ‘n mosie van wantroue teen ons Hemelse Vader in te stel! Dit is al waaroor jy later kan dink – jou bekommernisse en sorge. Dit is presies satan se doelwit – om ons te laat twyfel in God se voorsiening. Dit beteken nie nou om agteroor te gaan sit en wag dat God gaan voorsien nie. Die feit dat ons nie moet bekommer nie, stel ons steeds ‘n verantwoordelikheid om voorsorg te tref.


Martin Luther het die volgende gesê: “Ons kan niks doen aan die voëls van kommer en sorg wat oor ons koppe vlieg nie maar ons kan keer dat hulle nie in ons hare kom nes maak nie.” Sal God Homself vir ons, aan ’n kruis laat spyker om dan maar net van ons te vergeet, om dan maar net ons gebede te verontagsaam? Soms dink ons tog so. En hoekom? Dalk omdat ons verstandjies werklik te klein is om God se liefde en genade te verstaan. Buitendien, het jy al ‘n kraai met plooie gesien? (Kyk na die voëls – Matt. 6:26a).


“Dat God voorsien, beteken dat daar ‘n kreatiewe en reddende oplossing in elke situasie moontlik is. God se voorsiening beteken dat die bose magte wat ons wil oorweldig nie ‘n permanente greep op ons kan behou nie en die band waarmee Sy liefde aan ons bind, nie verbreek kan word nie” (Paul Tillich).


Gebed: God van my lewe, die laste van die lewe wat ek dra, skaaf my skouers stukkend. Die pad wat ek elke dag loop lyk maar vaal en eindeloos. Ek bekommer my siek oor die toekoms maar dit is omdat ek soos ‘n kleingelowige dink dat U rustig slaap terwyl my lewensbootjie sink. Dankie dat ek my bekommernis by U kan laat na elke dag se swoeg. Die lewe is vir sommige mense nie meer ‘n lied nie, daarom bid ek vir hulle wat moed verloor het en wie se hoop elke dag taan. Ek weet U sal ons red van die skadu’s om en binne ons. Dankie dat U ons veilig deur alles gedra het en steeds sal dra. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page