top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


NIKS KAN ONS VAN DIE LIEFDE VAN CHRISTUS SKEI NIE (1) – GOD VIR ONS!


Rom 8:31 – “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?”


Vergelyk ook Heb. 13:5-6 – “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?”


Paulus het vanaf Romeine 5:1 breedvoerig en oortuigend gewys dat ons gelowiges, vrygespreektes en daarom, nuwe mense is. Dit kan dus nie anders dat hy hierdie gedeelte met ‘n triomflied afsluit nie. En om hierdie triomflied te beklemtoon, vra hy vyf vrae, vrae wat eintlik nie vir ons nuut is nie, want ons het sekerlik een of ander tyd dieselfde vrae al gevra. Ek glo ons het egter elkeen ons eie antwoorde op die vrae gehad!


Inderdaad, Paulus se eerste vraag is: “As God vír ons is, wie kan dan teen ons wees?” As God aan my kant is, wat wil ek meer hê? Ek meen, ek kan nie anders as om saam met Paulus ook hierdie gevolgtrekking te maak nie – “al hierdie dinge” gee die rede: “Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (v. 17).


Die slegte nuus is egter, dit beteken nie dat ons geen teenstanders sal hê nie. Dit sal indruis in elke Christen se ervaring. Dit staan vas dat die wêreld, wat onder heerskappy staan van “satan, die owerste van die wêreld”, die volgelinge van Jesus sal haat omdat hulle die Naam van Jesus bely. Dit is nie iets nuuts wat oor ons sal kom nie, maar dit is die volgehoue houding van die wêreld teenoor Jesus want ons leef wel ín die wêreld, maar “behoort nie aan die wêreld nie” (Joh. 15:19b). Die feit dat die wêreld ons haat, is die bevestiging dat ons aan Christus behoort.


Daar is baie mense wat verwerp voel en glo dat niemand hulle liefhet nie. Die oorsake is wel bekend aan elkeen en die verskeidenheid kan ‘n legio redes wees van gebroke verhoudings, teleurstelling en ontnugtering. Tog, wanneer ons daardie punt bereik het dat ons voel die lewe niks verder het om te bied nie, sê Paulus: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” Ons klein verstandjies kan nie begryp hoe groot God se liefde en genade is nie, en dít nie vir sogenaamde wonderlike mense nie, maar sondaarmense, ek en jy! “God is vir ons” – vier wonderlike woorde wat vandag steeds van toepassing is op “elkeen wat glo dat God mens kom word het” (Joh. 1:14), sodat ons nooit in die steek gelaat kan word nie.


Wanneer almal jou verlaat het, jou vriende teen jou gedraai het omdat jou Christenskap aanstoot gee vir hulle tipe lewenswandel; jou kinders skaam geword het vir jou omdat jy nie inpas by hulle lewensstyl nie; Onthou, God is nie en het jou nie verlaat nie. Daarom het Jesus Christus aan die kruis met ‘n laaste sterwende stem hard uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark. 15:34). Daardie uitroep van Jesus was sodat ek en jy nóóit weer verlate van God sal wees nie!


“God is elke oomblik vir ons”, nou terwyl jy hier lees, elke sekonde, minuut, uur, 24/7. Hy was nie eens op ‘n tyd, of sal nie eers eendag wees nie, Hy ís. Ons hoef nie in ‘n tou te staan om dit te hoor nie of môre weer terug te kom omdat die “sisteem af is” nie, Hy ís nou by ons! Die wonderlike hiervan is dat God se teenwoordigheid nie na ons modderspore vol sonde kyk wat oral agter ons lê nie, Hy het reeds ons kronkelpaadjies uitgevee met Sy kruisuitveer!


“God is vir ons”, Hy kies ons part; Hy nooi ons elke oomblik uit om met Hom in gebed te praat en Sy troonsaal in te stap. Hy deurdrenk ons met Sy hemelse krag. Hy moedig ons gedurig aan om nie moed op te gee nie; Hy leer ons deur Sy Gees om droefheid te hanteer – “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie” (Job 2:10b).


“God is vir ons”, “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer” (Jes. 49:6). Iemand het dit eendag treffend soos volg uitgedruk: As God ’n kalender gehad het, sou jou verjaardag datum daarop omkring gewees het. As Hy ’n motor bestuur het, sou jou naam op die bufferplakker gestaan het. En as daar ’n boom in die hemel is, sal jou naam in die bas uitgekerf gewees het. Ons hoef nie God te probeer beïndruk nie, Hy ken ons.


Ten spyte van wat mense sê of doen, ten spyte van ons gevoelens van neerslagtigheid en lyding, is die genade en liefde van God in ons. Hy vul ons daagliks met nuwe hoop en vertroue want “God is vir ons”.


“Al wat ons nodig het, is ‘n gelowige hart. God sal ons as’t ware met die hand lei; daarom moet ons meer konsentreer op ons liefde vir Hom as op ons vrees vir mislukking”

(Francois Fénelon).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek in U ‘n veilige vesting vind. Dankie dat U liefde my ook deur donker dieptes dra. Dankie dat U vir my is, daarom kan niks of niemand teen my wees nie. Ek glo dit en ek vertrou dit. Laat U Gees my gedurig daaraan herinner. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page