top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE HEERLIKHEID WAT KOM (7) – DEEL VAN GOD SE HUISGESIN (1)!


Rom. 8:28-29 – “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.”


Vergelyk ook Fil. 3:21 – “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.”


Ons het in die voorafgaande verse waargeneem dat die Gees self vir ons by God pleit met versugtinge. Intussen kan “ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Dit beteken egter nie dat God nou alle teëspoed van ons af weghou nie, maar dat Hy alles tot ons beswil gebruik. Die feit dat “ons weet”, veroorsaak dat elke stukkie lyding en swaarkry wat ons nou mismoedig maak, nooit ons permanent van stryk sal en kan bring nie, want dit is deel van God se groter plan met ons.


God se pad met ons gelowiges is ‘n triomftog, die versugtinge verander nou in ‘n triomfroep. Hierdie triomfroep is die sekerheid dat “ons weet dat God alles ten goede laat meewerk”, en dit sluit “alles” in, selfs ons lyding. As God se uitverkorenes het Hy ons “bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” Hoe meer ons as Christene groei, hoe meer verander ons na die beeld van Christus: “Die heerlikheid wat ons uitstraal, neem steeds toe” (2 Kor. 3:18b), en al is dit nou nog onvolkome, “sal God ons nederige liggame verander om soos Christus se verheerlikte liggaam te wees.”


Ons gelowiges is dus bestem om in die toekomstige heerlikheid, aan Jesus se beeld gelykvormig te wees. God se genadewerk bestaan, onder andere, uit vyf hoof elemente van die reddingsproses, om ons gelykvormig aan die beeld van Christus te maak. Paulus beperk hom tot dinge wat God alléén doen in hierdie reddingsproses, die mens se aktiewe betrokkenheid is ongelukkig gebrekkig en feilbaar. Ons kyk vandag na twee van die elemente.


God is besig om vir Homself ‘n huisgesin te skep en Hy gebruik alle lewensomstandighede en -gebeure as instrumente in die proses. Daar is dus planmatigheid, koers en bestemming in die lewe van elkeen wat deel het aan hierdie proses!


Maar dit geld nie van alle mense nie. Dit is net waar van diegene wat vir “God liefhet”: “Die liefde vir God bestaan daarin dat ons Sy gebooie bewaar” (1 Joh. 5:3). God begin Sy reddingsproses by dié wat Hy lank tevore “uitverkies” het. Hy het dus ‘n plan met ons: “om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun”. Tydens ons lewe word ons dan deur God “geroep” – dit is God se skeppende en lewendmakende spreke wat die wedergeboorte in ‘n sondaar bewerkstellig en hom so uit sy geestelike dood opwek tot die ewige lewe in Christus. Presies hier begin die toepassing, die verwerkliking van redding in ‘n sondaar se lewe. Só skep God immers altyd – deur Sy gesagvolle waarheidswoord: “Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het” (Jak. 1:18).


“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (1 Kor. 17-18a). Hy lei ons úit die versoeking en verleiding uit. Sy Gees lei ons verder deur die Lewende Woord in die Waarheid na die Weg van die Lewe! Gelowiges in Jesus Christus is die eerste deel van God se herskepping wat bedoel is vir die hemel. God is vrygewig, God is genadig, God voorsien net die beste – daarop kan ons staat maak. Daarvoor kan ons bid. Daarvoor kan ons geduldig wag want ons is “eerstelinge van alles wat Hy geskep het.”


“’n Mens belewe jou kindskap van God die Vader nie deur diep daaroor te sit en peins nie; maar eers wanneer jy soos Christus begin optree” (Ferdinand Deist).


Gebed: Dankie vir U goedheid Heer. Dankie dat U my uit genade herskep het en nuut gemaak het deur Jesus, ons Vleesgeworde Woord. Help my o Gees dat ek as nuutgemaakte wese, standvastig sal bly en sal leef as medewerker in U koninkryk. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page