top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE HEERLIKHEID WAT KOM (4) – HEMELTAAL!


Rom. 8:26-27 – “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.”


Vergelyk ook Ef. 6:18b – “Smeek God by elke geleentheid deur die Gees.”


Paulus het in gister se dagstuk beskryf hoe dit moet voel om niks meer te hê om aan vas te hou nie, hoe pynlik dit is om met versugting te ly; die lewe wat soms sonder ‘n ‘handvatsel’ is om aan vas te hou en jy hulpeloos vasgevang is in ‘n netwerk van lyding. Die swaar wat ‘n mens moet verduur strek soms ver bokant jou menslike kragte en jy voel vasgevang soos ‘n moeder in barensnood. Die belangrikste wat ons moet weet wanneer ons ook vasgevang is in al hierdie gesug, dit word gehoor en verhoor – God self, sorg daarvoor – “want die Gees van God woon mos in ons” (v. 9). Hy kan nie anders as om te hoor wat ons sug nie, selfs daardie sugte wat ons nie onder woorde kan bring nie!


Ons kan dus verseker wees die Gees hoor dit nie net nie, Hy doen ook iets daaraan: “En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.” Deurgrond is meer as net hoor: deurgrond beteken dat God kyk vanuit Sy heerlike bedoeling met ons lewe, deur tot by ons werklike behoeftes. Hy gee nie altyd wat ons begeer, of so graag wil hê nie, maar wel wat ons benodig.


Christen-wees is ‘n liefdesverhouding tussen God en ons. Waaraan meet God ons liefde? Onder andere aan ons gretigheid om met Hom alleen te wees. ‘n Liefdesverhouding kwyn egter as die paartjie versuim om afsprake met mekaar te maak en na te kom. As God dus vergeefs op my wag omdat ek nie my afspraak met Hom nakom nie, gaan dit vanselfsprekend ‘n nadelige uitwerking hê en gaan ons liefdesverhouding kwyn.


Daarom is gebed nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen God en ons. Ons gelowiges in Christus, se gebed is ‘n gesprek met ons “Vader wat weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit van Hom gevra het.” Dit is nie nodig vir ‘n “stortvloed van woorde” nie. Wat wel nodig is, is dat ons bid. God soek mense wat Hom in Gees en in waarheid sal aanbid (Joh. 4:23) – in waarheid word God in egtheid aanbid en die Gees lei ons in hierdie waarheid, “die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.”


“Smeek God by elke geleentheid deur die Gees,” is die aansporing van Efesiërs 6:18. Soos ons deur die Gees moet wandel, moet ons ook deur die Gees gelei word wanneer ons bid. Dit is net die Gees wat aan ons die krag kan gee om elke dag te kan doen wat God van ons verwag. Hoe meer ons onder die heerskappy van die Gees lewe, hoe meer sal ons volgens die wil van God bid. Die Gees neem ons versugtinge, ons stotterende en stamelende woorde, en vorm dit tot hemeltaal.


Menigte mense uiter hierdie versugting: “Maar dit help nie dat ek bid nie, God luister nie na my nie. Hy het nog nooit een van my gebede verhoor nie.” Gebedsverhoring is nie iets goedkoops nie. Dit is om God te prys en dit gaan nie oor die mens se selfverheffing en geestelike hoogmoed nie. Van die dae van Abraham af, kan gelowiges met ‘n loflied op die lippe, uit eie ondervinding dit bevestig dat die Here ‘n Verhoorder van gebede is – “Ek roep U aan, want U sal my antwoord, my God” (Ps. 17:6); “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (Jes. 65:24); “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra” (1 Joh. 5:14).


Ons moet net geduldig wees. Gebede word soms anders vervul as wat ons in ons kortsigtigheid verwag het en dit word ook beantwoord in God se tyd. God se tyd is nie horlosietyd nie, dit is ewigheidstyd! Die verskil is egter dat die gelowige, aanhou om te bid terwyl die onverskillige, besluit dit is nie die moeite werd om te bid nie. Gebed vra volkome vertroue op God. Sy vermoë om op die swakste gebed wonderlik te antwoord, is onbeperk. Maar dan moet ons Hom ten volle vertrou en “oortuig wees dat God die mag het om te doen wat Hy beloof het” (Rom. 4:21).


“Niks is buite bereik van gebed nie, behalwe dit wat buite die wil van God is”

(Oswald Chambers).


Gebed: En nou kan ek met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy my gebede verhoor as ek enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ek weet dat Hy my gebede verhoor as ek iets só vra, weet ek ook dat ek kry wat ek van Hom vra” (1 Joh. 5:14-15). En wanneer my gebede onvervuld terugkeer na my, sal dit my nie wegdryf van U af nie Here, maar in groter afhanklikheid voor U laat bly kniel want U trou is my handvatsel en U dra my wanneer die lewe ondraaglik raak. Dankie Gees, dat U my troos wanneer die droefheid van die lewe neig om my onder te kry. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page