top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE HEERLIKHEID WAT KOM (3) – BEVRY-IN-HOOP!


Rom. 8:22-25 – “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”


Paulus beklemtoon vervolgens dat die skepping, soos ‘n swanger vrou “sug in die pyne van verwagting”, en die vrouens vertel vir ons dis seer, maar opwindend en die moeite werd. Tesame daarmee sug ons gelowiges ook en sien uit na die dag wanneer God alles gaan nuut maak, alles sug en smag in verwagting na die koms van vervulling en voltooiing. Die volle verlossing is tans nog iets van die toekoms. Ons gelowiges besit egter die sekerheid dat ons gered is en ons leef by hierdie hoop, (nie die hoop om gered te word nie, maar om die definitiewe en ewige vernuwing deelagtig te word). Hoop is geloof wat op die toekoms gerig is. Dit is die onwrikbare vertroue dat God sal doen wat Hy beloof het (Rom. 4:18-22).


Vir baie Christene is dit onaanvaarbaar om in moeilike omstandighede, God se vrede te beleef. Hoe kan ‘n God van liefde ons só swaar laat kry. Deur al die eeue smag daar ‘n sug van onopgeloste vrae, soveel worsteling om God se weë te verstaan. As God sê ek is Sy kind, hoekom moet ek só ly? Ons lewe op ‘n aarde wat swaar dra aan sy verlede, wat in elke opsig gebroke is, en baie mense wat daarop woon, stukkend is. Ons sug om van hierdie verydeling waaraan dit onderwerp is, verlos te word, om van hierdie gebrokenheid verlos te word. Ons sug dat hierdie aarde weer ‘n aarde word waarop God kan wandel wanneer die aandwindjie opkom (Gen. 3:8), en waar God dan weer sal kan sê dat alles goed is (Gen. 1:31).


Maar, die sug van ons gelowiges, sug ‘n beter toekoms tegemoet. Die Heilige Gees maak hierdie hunkering in ons wakker, “ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God”. Die eerste gawe wat God aan ons gee, maak ons bevoorregte mense want ons het reeds die Gees as ‘n ‘vooruit-geskenk’ ontvang, en dit is die versekering dat die volle, heerlike toekoms beslis op pad is. Dan sal ons ganse mens-wees “van die verganklikheid bevry” word. Wat ‘n merkwaardige toekomshoop!


Vir ons “Geesbeheersde mense” is die lewe nié ‘n uitmergelende gewag op die dood nie, dit is ‘n glansende verwagting want ons leef in Christus. Ons sien nie nét die donker wêreld nie, maar kyk verby dit na God se genade en liefde, en plaas “ons hoop op wat ons sien”. Paulus gebruik die Griekse woord ‘apokaradokia’ – gelowiges met hoop, hou gedurig die horison met uitgestrekte nekke dop, en wéét elke dag breek met nuwe glorie, want God bly steeds in beheer!! Indien jy dit nie doen nie, is dit ‘n verloëning van God se liefde en genade.


God het uit genade aan ons die besielende krag van die Heilige Gees gegee om ons lewe van die doodgewone versugtinge van hierdie wêreld los te maak, wat nie hoop vir die toekoms het nie, wat ‘n gesindheid van pessimisme aangeneem het, tot die heel beste te verander. Onderwerp jou aan Hom en nooi die Gees uit om beheer oor elke faset van jou lewe te neem en ervaar die ware lewe in al sy volheid. Maak tyd om te bou aan jou innerlike krag deur die leiding en krag van die gees, en jy sal mettertyd jou gevoelens van onveiligheid en vrees verloor. “Bly hoop op wat jy nie sien nie, wag daarop met volharding” en jy sal ‘n oorwinnaar word deur Jesus Christus en Sy Gees, jy is bevry-in-hoop!


“The Christian does not live only in the world; he also lives in Christ. He does not see only the world; he looks beyond it to God. He does not see only the consequences of man's sin; he sees the power of God's mercy and love. The keynote of the Christian’s life is always hope and never despair. The Christian waits, not for death, but for life”

(William Barclay).


Gebed: Gees van Christus, dankie dat U my in my versugtinge aanraak en sodoende, ek dan vrede kry wat alle verstand te bowe gaan, want U sug saam met my, namens my. Dankie dat U ook namens my bid wanneer ek nie weet wat om te bid nie, en dan weet ek sommer, alles is reg, al is alles nie reg nie want God weet van my, Hy weet wat ek nodig het, en daarom kan ek hoop. Neem beheer oor elke faset van my lewe, en “herskep o Gees, laat leef o Gees, laat kom die koninkryk met mag, laat mense tot bekering kom, oorreed deur U oortuigingskrag” (Liedboek 436:1). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page