top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LEWE DEUR DIE GEES (1) – ONTDEK JOU IDENTITEIT!


Rom. 8:1-4 – “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur as ‘n offer vir die sonde. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”


Vergelyk ook Joh. 1:14 – “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid.”


Ons het tot dusver saam met Paulus beleef dat ons as vrygespreektes van die sonde, splinternuwe mense is. Ons gaan nou in die “hoofstuk van die Heilige Gees” (Rom. 8), waarneem hoe die Gees ‘n nuwe bedeling in ons lewe voortbring, ‘n bedeling wat ons kan aanvaar en daaroor verheug wees, want dit het vir ons vrede met God meegebring. Onder die ou bedeling van wetsvoorskrifte was ons tot die dood toe skuldig en het ons met ‘n smartkreet uitgeroep: “Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Rom. 7:24). Daarom is ons, ten spyte van die feit dat ons nog aards en dus sondaars is, vrygespreek indien ons in Christus is. Ons kan nou met ‘n dankbare jubelkreet uitroep: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom. 7:25).


Alles het “nou” verander, Goddank, “daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” Ons staan “nou” onder die genade en ons wat “in Christus Jesus is”, is vrygemaak deur God. Hy het ons vrygemaak van straf van die sonde deur Sy eie Seun, as ‘n mens, aarde toe te stuur: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.” Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie word seker die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid en veral aan ons as Christene, die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring, meegedeel!! Jesus het as mens onder ons as sondaarmense kom woon! Wat ‘n belangrike voordeel vir ons want Hy het nou menslik toeganklik geword. Hy kon gesien en gehoor word en ons het Sy heerlikheid deur Sy aardse optrede gesien. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy word “God met ons, Immanuel.” Ons het nou nie meer ‘n “manual” nodig nie, ons het Immanuel!


Die Woord pak die verste rit, die fenominale genaderit van redding, aan wat enigiemand nog ooit gedoen het, van die hemel tot op die aarde. Die Prins van die hemel kom word die Kind van die krip. Jesus kom word wat Hy nooit was nie maar bly wat Hy is – Hy kom word mens wat Hy nooit voorheen was nie, maar Hy bly nog steeds wat Hy van ewigheid af is, naamlik God. Dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat deur die denke van die mens nie verklaar kan word nie. Ons kan maar net kinderlik in die geloof buig en alleen God dank vir die weg wat Hy vir die sondaar geopen het, sodat ons deur God se genade, kinders van Hom kan word.


Die inhoud van Jesus se heerlikheid is “vol genade en waarheid.” Dit beskryf onder andere Jesus se uniekheid. Hy is nie sommer maar net mens nie. Dit kom tot openbaring in ’n volheid van “genade en waarheid.” Hierdie genade is gekoppel aan die waarheid, en is daarom eg, betroubaar en blywend. In die Woord wat mens geword het, kom die heerlikheid van God tot openbaring en dit bestaan in die volheid van die onverdiende genade van God wat die “verkeerde mense, sondaar mense,” liefhet. Die oomblik toe Jesus onder ons “kom woon” het, was ons nie meer deel van ‘n groot onbekende massa wat doelloos rondswerf nie, ons het deel van God se gesin geword. Ons gelowiges is deur God se genade by die regte adres: Jesus Christus ons Here, afgesien van wie ons was of wat ons in die verlede verkeerd gedoen het.


“As jy naastenby jou wil voorstel wat dit beteken het vir God om mens op aarde te word, kies jy dan om ‘n slak of wurmpie te word” (CS Lewis).


Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om my aan God te kom voorstel. Ek probeer dit verstaan en begryp maar my menslike verstand is net nie opgewasse daarvoor nie. U kom word “God met ons” en verdedig die sake van my sondeskuld. U deins nie terug vir opoffering nie. In U sien ek wat menswees waarlik is. Verander my só – maak van my ‘n mens soos U. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page