top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WET EN DIE SONDE (5) – OEFEN OM AS NUWE MENS TE LEEF!

Rom. 7:24-25 – “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.”


Vergelyk ook Spr. 4:23-27 – “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie. Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.”


Ons het gister van Paulus verneem dat die Gees van God die sondebesef in ons wakker maak, dat die wet die grense is waarbinne ons kan leef om God se liefde te kan beantwoord, maar my sondige natuur maak my 'n gevangene van die sonde – “met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.” Dit maak nie saak wat ons doen, hoe hard ons probeer, hoeveel ons strewe, ons sondig steeds teen God. Daarom het menigte en sal menigte mense, hopelik, soos Paulus ook vraend uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?


Dit is egter tragies dat daar diegene is wat net by die vraag bly, en nie verder lees om die antwoord te kry nie – “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” Daar is steeds diegene wat dit nie wil glo nie, wat God nie wil vertrou nie, wat nie bereid is om God op Sy beloftes te neem nie, want dit is byna te goed om waar te wees. Hulle kan hulleself nie voorstel hoe God hulle op die naam kan ken nie, laat staan nog hulle sondes vergewe, dat God hulle nuut gemaak het “deur Jesus Christus ons Here.”


Die “ou mens” bestaan nog en die vlees is in voortdurende stryd met die Gees gewikkel – “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer” (Gal. 5:17a). Daarom is dit noodsaaklik om die “ou mens”, die vlees met sy werke af te lê – “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens wat deur sondige begeertes verteer word” (Ef. 4:22). Breek met die verleiding van die listige duiwel wat ons hart wil beheer want “die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen” (Jer. 17:9-10).


Die bekende skrywer Maretha Maartens het gesê: “Ons ganse lewenskwaliteit sentreer om ons liefde vir die wet wat nie gegee is om ons pret en vreugde te demp nie, maar wel om ons te keer wanneer ons onsself wil vernietig. Dit is die wet wat ons dwing om die evangelie aan te gryp sodat ons gered kan word. Die evangelie stuur ons altyd terug na die wet, sodat ons die heerlike verantwoordelikhede as kinders van God kan insien en aanvaar.”


Hoe kan ons die werke van ons sondige natuur aflê? God weet ons moet nog baie leer. God weet ons moet oefen om as “nuwe mense” te lewe, God weet ons sal nog baie foute maak. Moet egter nie dwaas wees om die “ou mens” in ons te voed nie. Daar is byvoorbeeld plekke wat vir ons sleg is, bly weg daar. Daar is mense wat ‘n slegte invloed op ons het, vermy hulle. Vermy ook dit wat verkeerd is met wat gelees word, waarna op televisie gekyk word, waarna op videos en internet gesoek word. Die sonde word só smaaklik opgedis vir die “ou mens”, moenie hom voed nie. Met só ‘n wonderlike God het, en kan ons uitstekende vooruitsigte hê en deur die hulp van die Gees, God verheerlik en Sy wil doen.


“Ware groei begin wanneer ons ons eie swakhede aanvaar en die Heilige Gees vra om iets daaraan te doen” (Jean Vernier).


Gebed: Hemelse Vader, vervul my hart só met Uself dat daar geen liefde vir die wêreld sal wees nie. Dis my begeerte dat die “ou mens” in my glad nie meer ‘n opsie is nie. Want alleen deur Jesus se liggaam en bloed word ek ‘n nuwe mens, en alleen deur Sy liggaam en bloed kan ek ‘n nuwe mens bly. Dankie vir die krag van die Gees binne my, wat my in staat stel om hierin te slaag. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page