top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WET EN DIE SONDE (4) – DIE VERDEELDE SELF!


Rom. 7:21-25 – “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.”


Vergelyk ook Gal. 3:1-3 – “Is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang! Net een ding wil ek weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig?”


Paulus praat vanuit die ervaring van ons gelowiges. Die diepe teenstrydigheid in ons lewe is dat ons aan die een kant in Christus bevry is van die kwaad en die kwaad haat, maar aan die ander kant tog nog steeds die prooi is van ’n mag wat in ons sondige aard aanwesig is, wat meebring dat ons die goeie wat ons wil, nie kan doen nie, maar juis die kwaad doen wat ons nie wil doen nie. Ons haat die sonde, stem toe dat die wet van God goed is, distansieer onsself van die kwaad wat in ons woon en wil die goeie doen (v. 18-19). Daar heers ’n innerlike tweespalt by ons tussen die werklikheid in Christus, as nuwe mense wat saam met Christus opgestaan het uit die dood, en die ou werklikheid wat die oorsaak van ons kragteloosheid en sondige aard is.


Maar Paulus, met respek, is jy nie bietjie hard op ons gelowiges nie? Behoort ons gelowiges nie ‘n meer optimistiese beeld van die oorwinning oor die sonde te verwag nie? Ja, ons erken ons ervaar die mislukking én die oorwinning, die mag van die ou sondige aard én die krag van die nuwe lewe wat deur die Gees in ons uitgewerk word. Aan die een kant het ons die wil om die goeie te doen, maar aan die ander kant doen ons tog die slegte. Diep in ons wese is daar ’n vreugde in die wet van God, maar as dit by ons dade kom, dan word die ander wet sigbaar. Maar na alles wat jy tot dusver aan ons voorgehou het, verdien ons seker bietjie beter.


Juis daarom is julle nog nie vry nie, julle is selfs “gevangenes van die wet van die sonde wat in julle doen en late aan die werk is.” Julle probeer regtig hard om ‘n Christelike lewenstyl te openbaar en teen die sonde te stry, maar in eie krag. Die gevolg is dat julle steeds ‘n verloorstryd voer. Toe God ons die eerste keer geskep het met ons geboorte, was ons splinternuut – nuwe hande, nuwe voete, 'n nuwe mond, nuwe oë, álles nuut! Niks hiervan het voorheen aan iemand anders behoort nie, álles oorspronklik aan onsself. Maar die sonde het ons verander – dit wat God ons met ons geboorte gegee het, verwoes. Ons het ons oë gebruik om na onreinheid te kyk en die verkeerde te soek, blind vir die waarheid; ons hande om pyn en verwoesting te veroorsaak; ons voete om die verkeerde paaie te loop, ons gedagtes om die verkeerde dinge te bedink ... “ons het met die Gees begin; nou wil ons in eie krag eindig.”


Ons leef in ‘n moderne tyd tussen moderne mense wat glo sonde is net ‘n relatiewe begrip; sonde word gesien as outyds en iets waaroor predikante preek om lidmate bang te maak en skuldig wil laat voel, sodat lidmate kerk toe moet kom – álmal is tog sondig! Ons gee allerhande verduidelikings om die idee van sonde weg te praat. Jesus het tog self gesê: “Ek gee julle die ewige lewe, en julle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie” (Joh. 10:28), ons kán dan leef soos ons wil, ons gaan buitendien hemel toe! Dit is egter nie só eenvoudig nie! Die mens wat sonde wil ontken of maak asof sonde nie so erg is nie en “al wat hy doen, is die slegte”, onderdruk dit ten spyte van die negatiewe invloed daarvan, dit maak hom “‘n gevangene van die wet van die sonde wat in sy doen en late aan die werk is”, hy is besig met ‘n lewe weg van God af en dit is ‘n lewe wat afstuur op die ewige dood!


Sonder God wat deur Sy Gees die sondebesef in ons wakker maak, ‘n mens wat nie na uitkoms soek en uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”, is sonder God, en daar is nie ‘n antwoord op hierdie uitroep nie. Sonder God bly ons lewe ‘n doodsbestaan, maar mét God, verander alles, “aan God die dank!” Dit was God se grootste wonderwerk: Hy het ons “deur Jesus Christus ons Here” nuut gemaak, ons herskep, ons is weer gebore met nuwe oë sodat ons deur die geloof kan sien; nuwe voete wat die regte pad wil bewandel; nuwe hande waarmee ons saggies kan aanraak en kan vertroos; 'n nuwe hart sodat ons met “Christus-harte” kan leef, sagmoedig, omgee, nie selfgerig of eiesinnig nie.


Die eerste geboorte was vir die aardse lewe, dit het ons in staat gestel om 'n aardse lewe te voer met 'n fisieke hart terwyl die tweede geboorte met ‘n geestelike hart is wat ons in staat stel om die ewige lewe te hê. Met ons eerste geboorte het ons nie juis 'n aandeel daarin gehad nie, ons was passief. Ons is nie gebore as gevolg van iets wat óns gedoen het nie, iemand ánders het die pyn gevoel. Met ons tweede geboorte word ons egter nie deur 'n mens se pyn in die ware lewe gebring nie, maar deur God se pyn, deur die lyding van sy Seun aan die kruis; nie deur ‘n ánder of ons worsteling nie, maar deur Syne; ook nie deur ‘n ánder of ons bloed nie, maar deur Syne. Al wat ons moet maak is om die geloof wat God as gawe deur Sy genade aan ons gegee het, te aanvaar. Met só ‘n wonderlike God en só sinvolle geloof in Jesus Christus en só inwonende Gees, is ons “van hierdie doodsbestaan verlos” en kan ons met waardigheid leef. “Aan God die dank deur Jesus Christus ons Here!”


“Sonde is ‘n krag in ons lewe, laat ons duidelik verstaan dat dit alléén deur ‘n groter Krag oorwin kan word” (Henry Drummond).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my laat besef hoe groot en hoe erg my sonde is. Dankie dat U my na uitkoms laat smag. Dit is groot genade om te kan besef en te kan bely: “Ek ellendige mens”, ek is ‘n kind van God. Dit is eweneens groot genade om te kan besef en te bely: “U het my verlos deur Jesus Christus.” Dankie Gees dat U in my woon en my help in die stryd om die goeie te doen. Ek dank U vir elke klein oorwinning om my lewe só te leef dat dit tot eer van God sal strek. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page