top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Welkom by sonde se vastrapplek!

DIE WET EN DIE SONDE (1) – DIE WET ONTMASKER DIE SONDE!

Rom. 7:7-12 – “Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: ‘Jy mag nie begeer nie.’ Maar deur hierdie gebod het die sonde ‘n vastrapplek gekry en elke soort begeerte in my aan die gang gesit, want sonder die wet is die sonde dood. Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, en ek het gesterwe. Dit het geblyk dat die gebod wat bedoel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. Die sonde wat deur die gebod ‘n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak. Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.”


Paulus praat hier in die eerste persoon, nie om spesifiek na sy eie ervaring of geskiedenis te verwys nie, maar om die ervaring van alle gelowiges onder woorde te bring – ’n ervaring wat hy uiteraard self ook gedeel het. Soos voorheen, gebruik hy nou weer ‘n denkbeeldige gesprek om sy redenasie ten opsigte van sy stellings oor die wet, nader te verduidelik. Hy redeneer dat dit nie die wet self is wat sondig is nie, maar dat die wet juis daar is om die sonde te ontbloot, watter houvas of “vastrapplek” dit op die mens verkry.


Wanneer die gebod van God die mens ontmoet, ontwaak die sondige begeertes in hom. Die sonde prikkel die mens om presies te doen wat die wet verbied. Wat God verbied, word meteens aantreklik. Dink maar aan Adam en Eva, juis dit wat God verbied het, het hulle nuuskierig en ongehoorsaam gemaak, natuurlik met noodlottige gevolge (Gen. 3:1-6). Die probleem is dat die mens nie altyd die sonde maklik kan uitken nie. Dit lyk ewe onskadelik en onskuldig, maar wanneer die wet hierdie masker afruk, word die sonde in al sy werklikheid ontbloot. Die sonde staan dan meteens soos uit die dode op en kry ‘n bewuste karakter, want die wet het openbaar watter houvas dit het op die sondige mens.


Paulus lig sy argument toe deur die gebod van begeerte, (tiende gebod), as voorbeeld te gebruik. Die feit dat jy nie mag begeer nie, laat juis toe dat die sonde van begeerte ‘n groter “vastrapplek kry en elke soort begeerte in jou aan die gang sit.” Die logiese gevolgtrekking is dus dat die fout nie by die wet met sy opdragte lê nie, maar by die mens, by my en jou, want “die wet is heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.” Slegte begeertes is ook die oorsaak waarom al die ander nege wette dan oortree word. Die tiende gebod leer ons dat ons nie net in woord en daad sonde doen nie, maar dat ons in ons hart, waar die sonde ontstaan, sondaars is: “Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, bedrog ...” (Mark. 7:21-22).


Die storie word vertel van een van Spanje se briljantse matadors, wat tydens ‘n stiergeveg ‘n tragiese fout gemaak het toe hy sy laaste swaard in die sterwende bul ingedruk het, en die bul inmekaargesak het. José het gedink die bul is dood en hy het omgedraai na die skare om hulle applous te geniet. Die bul het egter opgestaan, gestorm en sy horing in ‘n niksvermoedende José se rug in geboor en José noodlottig beseer. Net wanneer ons dink dat ons dit oorwin het, staan sondige begeertes weer op, kry ‘n vastrapplek en deurboor ons van agter af. Dit is fataal om te dink dat ons sondige natuur dood is en daarom moet ons tot op ons sterfdag, waak en bid daarteen.


Alle begeertes is egter nie sonde nie. Daar is ook goeie begeertes: “Ek dors na God, na die lewende God ... (Ps. 42: 3). In Psalm 27:4 begeer Dawid om al “sy dae van sy hele lewe te mag woon in die huis van die Here om Sy goedheid te mag belewe.” Selfs Jesus het ‘n begeerte gehad om saam met Sy dissipels die paasmaaltyd te vier (Luk. 22:15). Goeie begeertes is dié wat aan God se wet beantwoord en langs ‘n geoorloofde weg vervul word – byvoorbeeld om ‘n begeerte te hê na vervulling van ons daaglikse behoeftes; na liefdevolle gemeenskap met God en ons naaste, en dan ook daarvoor te bid en werk.


Paulus kom tot die gevolgtrekking dat die fout dus nie by die wet lê nie: “die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.” Die tiende gebod wat hy as voorbeeld gebruik, kan ook gesien word as die samevatting en afsluiting van die hele wet. Dit is “reg en goed” want dit bied: Eerbied vir God se beskikking – ons moet dit wat God aan ons bied, eerbiedig. Slegte begeertes wat afgodery is (Kol. 3:5), is ‘n wantroue in God se voorsienigheid – wie iets ánders begeer as wat God beskik, ontken dat God in sy behoeftes kán en sál voorsien. Ons moet ‘n sterke begeerte hê om soos Dawid, uit liefde vir God en uit dankbaarheid jeens Hom, elke gebod na te leef: “Om U wil te doen, my God, is my een begeerte ...” (Ps. 40:9).


“Die loon van die sonde is die dood. Goddank dat Jesus my bevry het voor betaaldag aanbreek” (Reamer Loomis).


Gebed: Here, soos Dawid is my begeerte om uit dankbaarheid, elke gebod na te leef want ek was al met sonde belaai toe my moeder swanger geword het (Ps. 51:7). Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (Ps. 51:12). Laat U Gees my gedrag bepaal want ek behoort aan U. Dankie dat U my sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes, saam met U gekruisig het (Gal. 5:24-25). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page