top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


BEVRY VAN DIE WET EN IN DIENS VAN GOD, DIENSBAAR AAN CHRISTUS (2) – BEHEER DEUR DIE GEES!


Rom. 7:4-6 – “Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God. Toe ons nog ‘n sondige lewensbestaan gevoer het, was die sondige hartstogte wat deur die wet wakker gemaak is, in elke deel van ons liggame werksaam en het ons vrugte gedra in diens van die dood. Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”


Vergelyk ook Kol. 3:9-10 – “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God”


Ons het gister gesien dat Paulus ons vryheid van die wet, aan die hand van die voorbeeld van ‘n huwelik, (‘n slegte huwelik), verduidelik. In hierdie huwelik is ons gelowiges die vrou, terwyl die wet, die man is. Voor ons bekering, het ons onder die wet gestaan. Ons het egter saam met Christus aan die kruis gesterf en saam met Hom uit die dood opgestaan as nuwe mense. Ons gelowiges is nou deel van Christus se liggaam, ons behoort nie meer aan die wet nie, (die slegte man in die huwelik), maar aan “iemand anders”, ‘n nuwe Bruidegom, Jesus Christus!


Hierdie Bruidegom het bewys dat Hy ons volmaak liefhet, Hy het Homself ten volle vir ons gegee, Sy álles, Sy lewe! Ons belange kom by Hom eerste, ons is ontslae van die “slegte huwelik” want Jesus Christus bied die volmaakte huwelik aan, vol van goeie vrugte. Ons is vry van “die sondige hartstogte wat in elke deel van ons liggame werksaam was en ons vrugte gedra het in diens van die dood.” Soos ‘n mishandelde vrou wat oplaas ware liefde gevind het, kan ons as bruid van Christus, nou vrede vind by God.


Ons opstanding in Jesus is egter nie iets, iewers vorentoe wat ééndag gaan gebeur nie. As ons só redeneer dan leef ons eintlik om dood te gaan, om dan ééndag, weer te kan opstaan. Wat gebeur nóú, terwyl ons leef, wat is die nut van Jesus se opstanding vir die nóú en die híér? Paulus gee vir ons die antwoord in Kol. 3:9-10. Soos ons eendag sal sterf en opstaan, so moet ons elke dag sterf en opstaan – ons moet dus elke dag die ou mens met sy slegte gewoontes en sondes begrawe, en as ‘n nuwe mens soggens opstaan, Christus moet al hoe meer word totdat Hy volkome alles vir ons is.


As bruid van Christus behoort ons nou ‘n vrugbare lewe te lei in diens van God. Ons is nou vry van die “wet” en kan God “dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” Die Gees van God maak dit vir ons nuutgemaakte mense, moontlik om God op ‘n heeltemal nuwe manier te dien – ‘n manier wat totaal anders is as toe ons as onverloste mense die letter van die wet probeer nakom het. Dit gaan oor ʼn lewende verhouding met Hom as persoon. Ons “bly” immers saam met Hom – “Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee” (1 Joh. 4:16). En omdat ons so saam woon, weet Hy presies wat ons dink en doen en voel, veral oor Hom.


Om bewustelik in die Here Jesus te bly, beteken om elke dag deur Sy Woord en Gees gevoed te word, elke dag in Sy teenwoordigheid te wandel. Ons moet met Hom praat omdat ons Hom persoonlik goed ken en omdat ons Hom liefhet en Hom vertrou. Daardeur word die lewensnoodsaaklike verbintenis met Hom bewaar. Waar die verbintenis met Christus sterk en kragtig is, lei dit tot ‘n vrugbare lewe – ‘n loot wat die vrugte van die Gees in oorvloed dra.


“Jou skatkamer is binne-in jou wanneer Jesus Christus in jou bly. Dit bevat alles wat jy ooit sal nodig hê. Gebruik dit ten volle in plaas daarvan om nutteloos buite jouself te soek” (Onbekend).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek deur U Gees in U bly. Laat U Gees in my werk sodat die grond van my lewe vrugbaar sal wees. Saai my lewe in U hemelse landerye sodat ek ‘n ryke oes in U koninkryk en tot U eer, hier op aarde kan wees. Snoei my reg sodat ek die vrugte van die ware wingerdstok kan dra, en sodat daardie vrugte, sterk en kragtig tot ‘n vrugbare lewe lei. Gees van God, stel my in staat om dit reg te kry. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page