top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


BEVRY VAN DIE WET EN IN DIENS VAN GOD, DIENSBAAR AAN CHRISTUS (1) – NUWE VERBINTENIS!


Rom. 7:1-3 – “Julle weet, broers – en ek praat met mense wat op hoogte is van die wet van Moses – dat die wet gesag het oor ‘n mens so lank as hy lewe. Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind solank as hy lewe. As haar man tot sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. Maar as sy ‘n ander man se vrou word solank as haar man lewe, sal sy as ‘n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie ‘n egbreekster as sy ‘n ander man se vrou word nie.”


Vergelyk ook Joh. 15:7-8 – “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.


Paulus begin met ‘n beroep op die feit dat alle gelowiges nou onder die heerskappy van Christus staan en beheer word deur die Heilige Gees. Selfs die klein Christen-gemeente in Rome was “op hoogte van die wet” (in hierdie geval die burgerlike wet en sy bepalings oor die huwelik), en met daardie wetskennis geweet dat die eise van die wet vir die mens, net geld solank as wat hy lewe. Ter illustrasie daarvan, voer Paulus die voorbeeld aan van die huweliksreg. Die implikasie hiervan is dat jy ná jou dood, nie meer aan enige wet gebind is nie. Die finaliteit van die dood bring ‘n veranderde situasie mee.


Paulus gebruik dan die getroude vrou as voorbeeld maar kon ewe goed praat wat gebeur, met die dood van die man. (In hierdie huwelik is ons gelowiges, die vrou, terwyl die wet, die man is.) Sy bedoeling is om dit duidelik te maak dat die dood die wet buite werking stel. Hy wil hierdie punt na vore haal om dit van toepassing te kan maak op die mens, wat saam met Christus gesterf het en daarom vry is van die binding aan die wettiese diens om ’n nuwe verhouding met Christus aan te gaan. Die een wat deur die dood vry geword het van die wet, (die persoon wat saam met Christus gesterf het), kan ’n nuwe verbintenis met iemand anders, (die opgestane Christus), aangaan.


Wanneer ons ‘n nuwe verbintenis met die opgestane Christus aangaan, vind daar ‘n wederkerige verbondenheid plaas. Waar die wederkerige verbondenheid van “in My bly en Ek in hom” gehandhaaf word, is die moontlikheid geskep om baie vrugte te dra. Maar as hierdie band verbreek word, kan die mens niks doen nie.


Wat beteken dit om “in die Here Jesus te bly”? Jesus se eie “definisie” is: “Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in my en ek in hom” (Joh. 6:56). Ons woonplek, ons huis, is daar waar ons tuis en veilig voel. As Jesus dus sê ons moet in Hom bly, beteken dit dat ons geestelik by Hom sal intrek, Hy word ons huis, ons woonplek! Dit beteken om in ons daaglikse lewe “Sy liggaam te eet en Sy bloed te drink”, Hom soek, met Hom gesels en na Hom luister, na Hom verlang, Hom ken, Hom liefhet en doen wat Hy vra, nie net elke drie maande tydens nagmaal nie, elke dag! “Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons saam met Homs sal lewe” (Rom. 6:8).


“Die inwonende God is basies dít – om God gedurig in jou denke te hou, Sy troon voortdurend in jou binneste gevestig. Dán is God met jou, in jou, vir jou!” (Basil die Vrome).


Gebed: Jesus, om in U te bly, is die regte plek vir my! Dit is veel méér as om net kerk toe te gaan, Bybel te lees en te bid. Dit is om reg gesnoei te word deur ons hemelse Vader, want Hy is soos enige goeie boer nie tevrede met ʼn bietjie vrugte nie, Hy wil ʼn goeie oes waarborg. Dankie Vader dat U die Wingerdstok, Jesus, in ons midde geplant het. Gees van God, hou my asseblief ingeënt op daardie Wingerdstok want dan is ek op die regte plek, Hy gee my alles wat nodig is om te groei. Laat my vrugte dra wat U plesier gee en U verheerlik word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page