top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


IN DIENS VAN WAT GOD WIL (2) – EKSKLUSIEWE EIENAAR!


Rom. 6:15-18 – “Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.


Joh. 14:15 – “As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer.”


Paulus het nou reeds twee redes gegee waarom ons die rug moet draai teen sonde: Eerstens dat ons in Christus dood is vir die sonde en voortaan vir God leef. Tweedens is God nou ons Koning en nie meer die sonde nie, daarom is ons nie meer slawe van die sonde nie, maar diensknegte van ons Koning, God. Ons is God se eiendom, hy het ons duur gekoop met die bloed van sy Seun.


As gelowiges staan ons dus onder die verpligting om met alles wat ons is, met alles wat ons het en met elke deel van ons liggaam, in diens van God moet staan. Ons is “vrygemaak van die sonde en het slawe van God geword wat Sy wil doen” – gehoorsaam aan ons nuwe Meester en nie meer ‘n slaaf wat Baas sonde navolg nie. “Ons het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God” (Kol. 3:9-10).


Daar is egter ‘n baie groot verskil tussen ‘n slaaf van sonde en slaaf van God. Die gewone slaaf het geen ander keuse as om sy eienaar se bevele uit te voer nie, terwyl ‘n Christen se gehoorsaamheid aan God, vrywillig is. Ons “wat slawe van die sonde was, het van harte gehoorsaam geword”, terwyl die gewone slaaf nooit van harte gehoorsaam kan word nie, omdat hy altyd na vryheid hunker. Vir die troue gelowige is dit egter nie moeilik nie want die gehoorsaamheid en liefde kom tot openbaring in die gewilligheid, om die wil van die Here te doen. Elke mens besit egter nog steeds die keuse van wie hy ‘n slaaf wil wees: “As dit die sonde is, beteken dit die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.”


Ons as gelowiges in Christus, besit dus iets wat die ongelowige wêreld nie het nie en ook nie ken nie. Die wêreld verstaan nie hierdie spesiale liefde van God vir ons as Sy kinders nie – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). God bied Sy liefde in genade aan, deur middel van die Voorspraak, die Vertrooster, vir elke mens, maar dit is nie almal wat die Gees in geloof wil aanneem of aanvaar nie. Hulle verkies eerder om God en die “Gees van die waarheid” (Joh. 14:17), buite rekening te laat wanneer hulle hul lewe organiseer. “As gehoorsame kinders moet ons nie ons lewe inrig volgens die begeertes wat ons vroeër gehad het nie. (1 Pet.1:14), maar “van harte gehoorsaam word aan die leer soos ons dit deur die oorlewering ontvang het, vrygemaak is van die sonde en slawe van God geword het wat Sy wil doen.”


“Om ‘n slaaf van God te wees, is beter as enige vryheid” (Chrisostomus).


Gebed: Hemel Vader, deur U Seun is ek nie meer ‘n slaaf van die sonde nie. Gees van die waarheid, dankie dat U die wil van God aan my bekend maak. Dankie dat U my help om die lewe beter te hanteer sodat ek ‘n oorwinnaar sal wees in die stryd om die waarheid. Dankie dat U altyd by my is om die stukkende wonde van my verslae gemoed en gees te verbind, my teen versoekinge krag te gee en ‘n belofte van ‘n nuwe dag te bring. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page