top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


ADAM EN CHRISTUS (1) – AARTJIE NA SY VAARTJIE!


Rom. 5:12-14 – “Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ‘n wet is nie. Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.”


Vergelyk ook Ps. 51:7 – “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.”


Paulus keer terug na die onderwerp van die sonde, maar trek nou vir Adam nader om daarmee die universele reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer. Eerstens verwys hy na Adam as alle mense se stamhoof, alle mense is ingesluit by die Adamfamilie. Vóór ons verlossing behoort ons almal aan hierdie familie want ons familiehoof, Adam, is die “een mens deur wie die sonde in die wêreld gekom het, en so het die dood tot alle mense deurgedring.” Adam se ongehoorsaamheid het die sonde en sy verskriklike “agterryer”, die dood, in God se wonderlike skepping ingebring!


Net sodra ons dink Paulus gaan sy stelling omtrent Adam verder voer, val hy homself in die rede om eers die posisie tussen Adam en Moses te verduidelik. Hy maak dit duidelik dat die afwesigheid van die wet nie beteken het dat daar geen sonde was in dié tyd nie. Sonde is ’n universele probleem – dit raak nie net die Jode nie, die dood as loon van die sonde het tot alle mense deurgedring (Rom. 3:23). Adam se sonde was ’n bewuste, vrywillige, opsetlike oortreding van ’n uitdruklike gebod van God. Die sonde van sy nakomelinge was daarin anders, dat hulle dit nie meer kon vermy om te sondig nie. Die sonde het hulle lewenselement geword. Dit was lot en daad tegelyk. Hulle het dus nie gesondig op dieselfde manier as Adam nie, omdat hulle nie meer vry was om die goeie te kies nie. Hulle het egter as gevolg van die sonde van Adam in ’n doodsbestaan verval waarvan die dood die logiese einde is.


Hoe verstaan ons die feit dat ons van nature deel is van die Adamfamilie? Is dit omdat die mensdom biologies ‘n eenheid is, dat sonde en dood van geslag tot geslag oorgedra word, of is my sondigheid en sterflikheid maar die produk van my genetiese of sosiale erfenis? Paulus stel dit duidelik dat die dag toe Adam misluk het, het ons almal misluk. Sy val was ons almal se val, sy skuld ons almal se skuld. Na Adam staan elkeen van ons skuldig voor God. Daarom het ons ook nie 'n kans nie: Soos Adam die doodstraf gekry het, staan elke mens onder 'n doodsvonnis. Hierdie harde oordeel spring geen mens vry nie.


Maar Paulus, dit is vernederend om my deel van die Adamfamilie te maak, dit is lánk voor my tyd! Ek kan nie skuldig staan vir sy verkeerde dade nie! Ek kan nie mede-skuldig wees aan 'n oortreding wat ek nie self gepleeg het nie. Ek is 'n mens op my eie, met my eie keuses en eie foute, my eie smake en my eie drome, my eie geloof ook. En daar is baie, soos Adam, met hulle keuses en foute en smake en drome en geloof; en nog verder is daar "die ander" met hulle vreemde smake en gelowe ... maar gelukkig hoef ek nie te veel met hulle te doen te hê nie. Verkeerd! Ons is almal sondaars.


So kyk ons dikwels na die mensdom: 'n Klomp losstaande enkelinge wat elkeen sy eie ding doen. Paulus praat hier oor die manier waarop God met ons mense werk. God het ons nie gemaak as 'n klomp individue wat elkeen sy eie ding doen nie. God het die mensdom gemaak as 'n eenheid. Ons het net een oorsprong – die skeppingsdaad waardeur God die mens gemaak het; ons het maar een doel – geskep om God se beeld, Sy verteenwoordiger te wees (Gen. 1:26). Ons kan ons doel nie een-een bereik nie, maar net as eenheid, daarom het God ons so nou aan mekaar gebind. Ons is lotsverbonde – wat een doen, raak almal – aartjie na sy vaartjie!


Toe Rudolph Hess, een van die meesterbreine van die Nazimisdadigers, skuldig bevind is vir sy aandeel in die konsentrasiekamp Auschwitz, het saam met die uitspraak uit verskillende dele van die hofsaal, mense geween. Een van die verslaggewers wou by ‘n man weet hoekom hy gehuil het oor die uitspraak. Hy het die trane van sy oë afgevee en geantwoord: “Ek huil omdat ek myself in Hess gesien het.” Ons is niks beter as die slegste van alle mense nie. En tog, terwyl ons almal sondaars was, het Christus vir ons gesterf: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom. 3:23-24).


“Is dit nie opvallend hoe anders ons sondes lyk as iemand anders dit doen nie”

(Chuck Smith).


Gebed: Here, sonde verinneweer, verneder en verwoes. Die grootste ontdekking wat ek ooit gemaak het is die wete dat ek ‘n groot sondaar is en dat Jesus Christus my Verlosser is. Dankie Vader, dat U nie alleen sondes vergewe nie, maar dat U nooit weer daaraan dink nie. “Halleluja! Ek loof U, Heer; U daal in my ellende neer, o Jesus, my Verlosser! Vir my as sondaar, het U gesterf, en my lewe deur U dood verwerf. Daarom roem ek in U as my Verlosser” (Uit Liedboek 449:2, effens aangepas). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page