December 6, 2019

December 5, 2019

December 4, 2019

December 3, 2019

December 2, 2019

November 8, 2019

November 7, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

November 4, 2019

Please reload

Recent Posts

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

July 3, 2018

WAT BELOWE IS, WORD DEUR DIE GELOOF VERKRY (2) – DIE NOGTANS VAN GELOOF!

 

Rom. 4:17-21 – “Soos daar geskrywe staan: ‘Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.’ Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring, deur sy woord. Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: ‘So sal jou nageslag wees.’ Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.”

 

Paulus vertoef steeds by Abraham as sleutelpersoon om sy sentrale evangeliese waarheid van geloof, te beklemtoon. Terloops, Paulus maak geen kritiese opmerking teenoor Abraham nie, ten spyte van die feit dat Abraham niks sigbare werklikhede gehad het om aan vas te hou nie, “toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo.” Abraham het “teen hoop op hoop geglo” (1953 vertaling). Dit is die “nogtans van die geloof” wat hardnekkig teen alle sigbare realiteite in op God se belofte bly reken, alhoewel daar nie meer hoop was nie, het hy bly hoop! Abraham het niks anders as die Woord van God gehad om sy geloof op te baseer nie. Hy het homself daarop verlaat dat God gesê het: “So sal jou nageslag wees” (Gen. 15:5).

 

Abraham was ten volle bewus van die werklikhede van sy en Sara se situasie. Hy het terdeë besef dat sy liggaam as honderdjarige en Sara op negentig, “te oud was om kinders te hê.” Dit het, met respek gesê, eenvoudig belaglik geword om te hoop, dit gee aanleiding om sinies te lag oor God se beloftes (wat Abraham (Gen. 17:17) en Sara (Gen. 18:12) ook gedoen het) – ‘n oupa- en oumagrootjie, het spreekwoordelik, kontak verloor met die werklikheid!

 

Maar ... wat is regtig die werklikheid? Abraham het geglo in “God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring, deur sy woord.” Abraham het volgens Paulus nie sinies geraak nie, “hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.” Abraham se vertroue was nie by homself en Sara nie, dit was by GOD EN SY BELOFTEdít is die werklikheid – dít is die ‘nogtans’ van geloof!

 

Abraham het geweet dat dit nie vir hulle nodig sal wees om dalk vir oulaas ‘n buitengewone poging aan te wend om miskien, ten spyte van die feit dat Sara onvrugbaar was (Gen. 11:30), en ten spyte van hulle hoë ouderdom, tog moet probeer om ‘n kind te verwek nie. Hy het bly glo en hoop en was oortuig, dat die God wat hemel en aarde geskep het, Sy beloftes sal nakom!

 

‘n Realistiese en praktiese geloof is iets wat ons nie op ons eie kan bereik nie. Die Heilige Gees openbaar God in ons lewe. Dit is dieselfde God wat Sý beeld op my afgedruk en dit met Christus se bloed verlos het. Ons kan nie op eie krag uitvoering gee aan die Here se opdrag dat ons geestelik in ons geloof moet groei nie. Dit is in alles Hy wat sorg, bewaar en ondersteun; Hy wat ons geskep en uitverkies het; Hy wat ons in Christus onskuldig verklaar; Hy wat ons tot bekering lei en geestelik laat groei. Hy gee vir ons hierdie allesoortreffende versekering: “Ek gee (My skape) die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie. Dié wat My Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie” (Joh. 10:28-29).

 

Meer as hierdie versekering kan en wil ons nie hê nie. Daarom kan ons met vreugde en dankbaarheid ook óns verantwoordelikheid nakom en, deur die Gees se werk in ons, daagliks toeneem in kennis en gehoorsaamheid en geloof. Dit het tot gevolg dat ons agter die belofte van God, die God van die belofte raaksien – die lewende Skeppergod.

 

         “Geloof in Jesus Christus, die Heilige van God, is om ‘n duisend keer terwyl jy op die                      verkeerde pad is, te val, maar dan steeds te kan sê: Ja, Here, ek het al ‘n duisend keer                    geval, maar U het my ‘n duisend en een keer al opgehelp” (Helder Camâra).

 

Gebed: Dankie Here dat U my geskep het en U beeld op my afgedruk het sodat ek U verteenwoordiger op aarde kan wees. Die enormiteit van hierdie verbintenis is onpeilbaar! Dankie dat U soveel vertroue in my het, dit is ‘n wonderlike voorreg om hierdie ontsettende verantwoordelikheid van U roeping te vervul. Skenk my die genade en ywer om nie daarin te faal nie. En as ek faal om U verteenwoordiger te wees en nie daagliks toeneem in geloof om U beeld waardig te wees nie, vermaan my asseblief deur U Gees. Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.