April 8, 2020

April 7, 2020

April 6, 2020

April 3, 2020

April 2, 2020

April 1, 2020

March 30, 2020

March 30, 2020

March 27, 2020

March 26, 2020

Please reload

Recent Posts

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

July 2, 2018

WAT BELOWE IS, WORD DEUR DIE GELOOF VERKRY (1) – LEWENSTYL VAN ‘N CHRISTEN!

 

Rom. 4:13-16 – “Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ‘n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal.”

 

Vergelyk ook Gal. 3:17 – “God het ‘n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie.”

 

Ter agtergrond moet ons die volgende in gedagte hou: In die Joodse samelewing het wette ‘n baie belangrike rol gespeel. Hulle het die wet van God, die Tien Gebooie uitgebrei tot ‘n stelsel van meer as ses honderd wette wat die lewe op elke denkbare terrein noukeurig gereël het. Hulle het geglo dat hulle deur hulle wette en regstelsel dus oor die hele wêreld sou regeer, alhoewel God net Kanaän as erfdeel aan Sy volk belowe het (Gen. 12:7). Die Jode van die Ou Testamentiese eerste eeu het daarom geglo dat as die Messias kom, Hy die hele wêreld aan hulle sou gee op grond van hulle wetsonderhouding.

 

Paulus kom sluit by hierdie denkpatroon aan, maar bewys ongelukkig vir die Jode, dat pogings om iets deur wetsonderhouding te verdien, nie tot beloning lei nie maar die teenoorgestelde effek van stráf, meebring. Niemand kan immers die wet onderhou nie, die geneigdheid van die mens is om dit eerder te oortree! Die “belofte,” of toesegging van God wat Hy aan Abraham gegee het dat hy “die wêreld as besitting sal ontvang” (Gen. 12:1-5), is nie aan Abraham gegee omdat hy die wet onderhou het nie, maar God het dit aan hom as ’n vrye geskenk gegee saam met die vryspraak wat hy deur sy geloof ontvang het.

 

Paulus beklemtoon dat as mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte van God sou kon word, die geloof sy betekenis sou verloor het en die belofte sy krag, omdat dit dan afhanklik gemaak word van ’n menslike prestasie wat niemand kan lewer nie. Gelukkig het God die ontvangs van die belofte nie van die wet afhanklik gemaak nie, maar van Sy genade, “want waar daar nie ‘n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. God het ‘n verbond met Abraham gesluit, en die wet, het eers vier honderd en dertig jaar later gekom.” Die belofte wat God dus aan Abraham gegee het, rus in Sy soewereine trou en daarom het dit in vervulling gegaan.

 

Dit is die lewenstyl van elke Christen. Ons leef uit die onwankelbare beloftes van God. Dit is duidelik en selfs gevaarlik om iets van God te verwag in ruil vir goeie dade of wetsonderhouding. Op hierdie manier verplaas ons weer ons vertroue van dit wat God vír ons belowe het en reeds gedoen het, terug na onsself. Gevolglik lei dit na “die geloof wat sy betekenis verloor en die belofte sy krag.”

 

“Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat glo, soos Abraham geglo het nie. Hy is immers die vader van ons almal.” Die geloof is ons leë hande wat aanneem wat God gee, die bereidheid om God toe te laat om vir ons te wees wat hy uit genade vir ons wil wees. Dit is opkyk vanuit ons sondenood en God se barmhartigheid vasgryp, nie deur goeie werke of enigiets verdienstelik nie, dit is om net ons leegheid van onsself te besef en ons onvoorwaardelik in die volheid van God se genade-arms werp.

 

As ons onsself Christene wil noem, moet ons bereid wees om ons afhanklikheid by God te erken. Ons moet bedelaars by God wees. Ons kan nie self regkom nie want ons is innerlik en geestelik bankrot. Ons is geestelik só arm dat ons nie eers vir God met ons goeie naam of ‘n voortreflike godsdiens kan beïndruk nie. Ons staan naak voor God, ons staan met leë hande, totaal verlore. Al het ons materieël dalk baie, raak ons bewus van ons geestelike armoede, daarom kan ons met hierdie bankrotskap, ons leë hande van geloof uitsteek na die gekruisigde Jesus Christus.

 

Martin Luther het bygevoeg dat die grond onder ons voete en die anker in ons lewe ons enigste en perfekte regverdigmaking en vryspraak is. Dit kan alleenlik by Christus verkry word! Ja, daar is nie ‘n waarborg dat ons afhanklikheid skielik gaan verander en daar nie meer ellende op ons pad gaan kom nie, maar ons het ‘n versekering – ‘n lewenspolis – Jesus bied dit: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3).

 

         “God’s delight is received upon surrender, not awarded upon conquest. The first step to                joy is a plea for help” (Max Lucado).

 

Gebed:  Hemelse Vader. Ek erken my geestelike bankrotskap voor U. Ek bely ek is afhanklik van U genade. Ek kan nie dit verdien nie en ook nie daarvoor werk of betaal nie. Maar dankie tog, die moontlikhede van U genade is nimmereindigend, dit gee nuwe krag en dit hou vir ewig! Ek het U nodig in my hele menswees, ek kan U niks aanbied nie behalwe my sondige self. Dankie dat ek uit genade aan U kan behoort en afhanklik van U te mag wees. Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.