top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


GOD VERLOS DIE MENS (3) – GOD SE OPTELKINDERS!


Rom. 3:27-31 – “Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.”


Vergelyk ook Fil. 3:8b-9 – “Ek (Paulus) beskou alles as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo.”


Paulus kom stel nou geregtigheid teenoor die wet en geregtigheid uit die geloof teenoor mekaar – dieselfde teenstelling tussen eie geregtigheid en die geregtigheid wat uit God kom. Eie geregtigheid is om te verstaan dat die beginsel van ons verlossing, nie daarin bestaan dat die mens deur sy eie werke, sy verlossing verdien nie, maar daarin dat ons in die geloof in Christus alleen verlos kan word. Ons kan dus nie onsself ophef of opklim met ‘n leer na God toe nie; nie deur die wet nie; nie deur goeie werke, of godsdienstigheid of selfs vroomheid, nie. Paulus het dit probeer (Fil. 3:3-6), en homself te pletter geval in ‘n afgrond van waardeloosheid – hy het eintlik niks gehad om oor te roem nie.


Vir almal is daar slegs één weg tot geregtigheid voor God – die weg wat álle roem uitsluit. Dit kan só maklik gebeur dat die mens op grond van sy nakoming van die wet of godsdienstige vroomheid, só selfvoldaan raak dat hy die Here nie meer erken nie: “Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie” (Jer. 9:23). Sy “ek” het so groot geword dat dit God heeltemal verberg, hy staan die Lig so vol dat alle ander mense hulself in die donker bevind. Die teenoorgestelde is natuurlik om jou in God te beroem: “Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken” (Jer. 9:24).


By God is daar net een manier om salig te word en ons kan niks doen om saligheid te verdien nie. Goddank, ons kan nie en hoef ook nie. God het uit die hemel afgeklim na ons toe – Hy het ons kom optel in Sy genade: “Niemand was besorg oor jou toe jy gebore is nie. Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel en vir jou gesê: ‘Leef, groei!’ ” Ons is God se optelkinders! Daarom het ons niks om oor te roem nie. Indien ons wil roem is daar net één roem, die roem in die kruis van Jesus Christus (Gal. 6:14).


Johannes beklemtoon dieselfde feit in sy evangelie: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14). Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie word seker die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid en veral aan ons as Christene, die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring, aan ons meegedeel!! Jesus het as mens onder ons as mense kom woon! Wat ‘n belangrike voordeel vir ons want Hy het nou menslik toeganklik geword. Hy kan gesien en gehoor word en ons gaan Sy heerlikheid deur Sy aardse optrede sien. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy word “God met ons, Immanuel.” Ons het nou nie meer ‘n “manual” nodig nie, ons het Immanuel!


Die Woord pak die verste rit aan wat enigiemand nog ooit gedoen het, van die hemel tot op die aarde. Die Prins van die hemel kom word die Kind van die krip. Jesus kom word wat Hy nooit was nie maar bly wat Hy is – Hy kom word mens wat Hy nooit voorheen was nie, maar Hy bly nog steeds wat Hy van ewigheid af was, naamlik God (Joh. 1:1). Dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat deur die denke van die mens nie verklaar kan word nie. Ons kan maar net kinderlik in die geloof buig en alleen maar God dank vir die weg wat Hy vir die sondaar geopen het sodat ons kinders van God kan word.


Die inhoud van Jesus se heerlikheid is vol genade en waarheid. Hy bly uniek. Hy het nie sommer maar net mens kom word nie. Dit kom tot openbaring in ’n volheid van “genade en waarheid.” Hierdie genade is gekoppel aan die waarheid, en is daarom eg, betroubaar en blywend. In die Woord wat mens geword het, kom die heerlikheid van God tot openbaring en dit bestaan in die volheid van die onverdiende genade van God wat in waarheid en betroubaar, aan ons geopenbaar is.


Die geloof is ‘n erkenning dat Christus aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring” (Joh. 19:30). Om te glo is om met jou ongeloof te vlug na Jesus en God te dank dat Christus se versoening ook voldoende is vir jou ongeloof. Geloofsekerheid is nie sekerheid van my geloof nie, maar sekerheid van Jesus Christus, “die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:2a).


“Óf ek glo, dit weet ek nie, maar ek weet in wie ek glo” (Paul Altheus).


Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om my aan God te kom voorstel. Ek probeer dit verstaan en begryp maar my menslike verstand is net nie opgewasse daarvoor nie. U kom word “God met ons” en verdedig die sake van my sondeskuld. U deins nie terug vir opoffering nie. In U sien ek wat menswees waarlik is. Here, ek kan oor niks seker wees nie, behalwe van God en daaroor kan ek doodseker wees! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page