top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


GOD VERLOS DIE MENS (1) – SOLA FIDE : DEUR GELOOF ALLEEN!


Rom. 3:21-24 – “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”


Vergelyk ook Gal. 3:11 – “Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: ‘Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.’ ”


Paulus het aan die einde van die mens, van álle mense, se sondenood gekom en kon seker nie wag om die evangelie, met al sy implikasies aan die gemeente in Rome, en aan ons, eintlik die hele skepping, te openbaar nie. Dit is amper asof hy ‘n sug van verligting uiter wanneer hy die donker beeld van sonde afsluit. Tot dusver het hy ons tot die besef gebring dat ons niks het waarvan ons voor God vrygespreek kán word nie. Geen verskonings, onderhouding van die wet of selfs ‘n afstammeling van een of ander groot gelowige, gaan ons help nie. Jou kaartjie hemel toe sal nie afhang of jy ‘n afstammeling van Abraham, gelowige ouers of selfs ‘n vriend van jou predikant was nie.


‘n Nuwe fase van Paulus se argument breek nou aan. “Maar nou” lui ‘n nuwe wending van sy argument binne: “Die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig” in die Ou Testament, is nou soos ‘n roosknop wat in die Nuwe Testament ten volle oopgaan. God het ingegryp en nou het Hy die vryspraak waarvan die wet en die profete getuig, in werking laat tree, dié vryspraak word nou geopenbaar! Op grond van die soenoffer van Christus het God die sonde klaar vergewe, dit agter Sy rug vir ewig weggewerp. Dié vryspraak kan nie verkry word deur die wet te onderhou nie, want dan sou dit verdiend wees, die beloning wat ’n mens vir jou eie goeie lewe ontvang. Buitendien, geen mens kan die wet volkome onderhou nie.


Dit wat die bedeling “onder die wet” nie kon bereik nie (Rom. 1:18-3:20), is “nou” bereik deur die “nuwe bedeling van geloof” in Christus. “Geloof” dui nie altyd op individuele geloof nie, maar staan vir die nuwe fase waarin geregtigheid verkry word deur geloof in Christus. Niemand is in ’n beter posisie by God op grond van herkoms (etnisiteit) nie, maar ook nie op grond van kennis (die wet) of voorregte soos die besit van die wet of besnydenis nie, álmal word op dieselfde manier voor God geregverdig – deur geloof.


God se genade, God se “maar nou”, sou nie aangebreek het as God nie self ingegryp het nie. Hierdie ontaarde lewe sou ewig vol grafkele, giflippe en bloedvoete gewees het! Daar is één heilsweg wat vir almal, sonder onderskeid geld: “ons word op grond van God se genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” Ongelukkig is daar menigte mense wat vir die Christendom verlore gaan want hulle voel hulle kán nie aan die eise en standaarde wat Jesus stel, voldoen nie. Gevolglik verwerp hulle die geloof en mis hulle uit op ‘n persoonlike ervaring met die lewende Christus, asook die ewige lewe!


Al wat Jesus vra wanneer Hy ons roep tot oorgawe aan Hom, is om in Hom te glo en volkome vertroue in Hom. Hierdie transformasie is beskikbaar vir elkeen deur die genade van God! God se goedheid is die bron waaruit ons verlossing geskenk word, sonder enige verdienste. Al wat ons moet doen is om ons sondige lewe, aan Hom toe te vertrou. God se eindelose genade is daar om ons eindelose sonde te vergewe en te vergeet, sodat ons in Sy vreugde kan leef. Al is ons sondaars, ons is sondaars wat vergewe is!


“Hierdie een onwankelbare rots, (Sola Fide), wat ons die leer van vryspraak noem ... is die belangrikste artikel van die hele Christelike leer wat aan ons ‘n volledige verstaan van ons kennis van God bied” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Vader, U het ‘n “maar nou” geskep en nou kan elke mens gereed maak om “maar nou” die wonderlike genade van U ontvang. Daar is niks verdiensteliks in wat ek sê of doen nie, maar tog hou U aan om my in U groot genade aan te sien en my deur U krag, van struikeling bewaar. Heilige Here, dankie dat U my hart en lewe verander het toe ek U as Verlosser en Saligmaker aanvaar het. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page