top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


NIEMAND IS REGVERDIG NIE (1) – ALMAL STAAN SKULDIG VOOR GOD!


Rom. 3:9-12 – “Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Daar staan immers geskrywe: ‘Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie; daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.’ ”


Vergelyk ook Matt. 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”


Paulus bring sy argument oor die sondeskuld van die Jode en heidene, eintlik van álle mense, tot die slotsom deur ‘n donker prentjie te skets: “Almal is in die mag van die sonde.” Om sy punt verder te beklemtoon dat die mensbeeld wat hy aanhaal, nie net sy persepsie is nie, maar dit bevestig is in sy Bybel. Hy haal nie minder as elf keer uit die Ou Testament aan, (hy was, sonder dat hy besef het, self besig om aan ‘n gedeelte van die Nuwe Testament te skryf), om die basiese oorsaak van die mens se sondigheid te onderstreep.


Net in die eerste twee verse onderstreep hy letterlik ses keer dat “daar nie een is” wat God se wil doen nie. Soos ‘n string pêrels ryg hy elke negatiewe “pêrel” in en voltooi die string met “almal het ontaard.” ‘n Mens voel hoe die protes in jou opstoot terwyl Paulus hierdie somber prentjie skets. Paulus, wag ‘n bietjie, ek weet darem nie, die mens is nie werklik só sleg nie! Jy kan nie álmal onder dieselfde kam skeer nie, daar móét goeie mense ook wees. Wat Paulus egter wil uitlig is die feit dat almal nie ewe siek is nie, maar wel ‘n sonde-siekte het. Die mens het die verhouding tussen God en hom vertrap, God se wil met sy eie wil vervang!


Ons leef in ‘n wêreld waar die verlaging van standaarde ‘n norm geword het – ‘n verlaging van lewensstandaarde, standaarde van eerlikheid, van ywer, pligsgetrouheid en morele standaarde – soms blyk dit dat daar geen standaarde meer bestaan nie. Elkeen maak sy eie standaarde volgens sy eie wil, God word nêrens in die wilsbesluite van die mens ingesluit nie en oor die verkeerde wil van sonde-diagnose, is daar al boeke vol geskryf. Dit is bekend in wie se geselskap mens kán ontspan en wie se geselskap standaarde verlaag. Party mense raak die mooiste woorde kwyt as hulle in godsdienstige kringe is maar elders praat hulle ‘n soort taal wat nooit enige beskaafde woordeboek sal haal nie.


Tydens Jesus se eerste openbare optrede langs die See van Galilea, gee Hy in Sy Bergpreek aan Sy volgelinge ‘n kompliment wat ewigheidswaarde het! Hy dui aan hoe ons as Sy volgelinge, die verrotte “wêreld” moet beïnvloed. Hy stel dit feitlik onder andere: “Julle is die sout vir die aarde.” Om vir iemand te sê jy ís die sout vir die aarde, is ‘n kompliment want daardie persoon se nuttigheid word beklemtoon, dit is ‘n voorbeeld van suiwerheid, ‘n voorbeeld van reinheid. Waar ons ons ookal bevind, moet ons lewensstyl van só aard wees dat dit ‘n verskil maak, die verrotting van die omgewing moet gesuiwer word deur ons wat die “sout is.”


Die vraag is hoe ons as sout bruikbaar kan wees in ‘n verrotte wêreld? Die Christen is die voorbeeld van suiwerheid en reinheid – suiwer van spraak, gedrag en selfs gedagte. Geen Christen kan sy standaarde verlaag in ‘n wêreld wat besmet is met die verloklikhede van sonde nie: “Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.” (Gen. 6:11-12). Ons kan ons ongelukkig nie onttrek van hierdie wêreld nie maar ons kan wel alles in die stryd werp “om ons skoon te hou van die besmetting van die wêreld.” Ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie. Ons is God se soutkinders, nie Sy stoutkinders nie.


Die Christen is die antiseptiese sout wat ook as skoonmaakmiddel dien in enige geselskap waar hy hom bevind. Hy is nie ‘n toneelspeler of skynheilige wat God dien net wanneer dit hom pas nie. Hy dien die Here volspoed selfs wanneer niemand anders hom sien nie. Hy is die persoon wat selfs net met sy teenwoordigheid dit makliker maak vir ander om reg op te tree. Wanneer die dissipel se voorbeeld sy Christen-boodskap weerspreek, raak ander mense deurmekaar. Instede daarvan om sout te wees sodat verrotting voorkom word, raak hy self verrot. Instede van verandering om ander te bring sodat hulle deel van God se huisgesin word, verander hy soos die wêreld, gevolglik word hy wêreldgelykvormig in plaas van Christusgelykvormig. ‘n Ware Christen is nie skaam vir sy andersheid nie, hy ís sout vir die wêreld en “getuig van goeie smaak!”“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kol. 4:6).


“The saltless salt or the non-Christian Christian will not only be thrown out as useless trash in God’s sight, but will also be trampled underfoot by men” (Brian Schwertley).


Gebed: Here, my mensheid het beperkinge maar ek roem in U krag – daardie krag wat juis in werking kom wanneer ek swak is. Wanneer ek as sout vir hierdie aarde swak word, maak my asseblief weer bruikbaar. Herinner my daaraan dat ek nie alles wat ek wil, kán doen of perfék doen nie, net met U hulp kan ek egter my beste doen, daarom kom soek ek opnuut hulp by U. My sout het nog nie ander gepenetreer nie, ek gee nog nie die regte “geur” aan almal rondom my nie. Ek verlang daarna om daagliks meer in U teenwoordigheid te leef sodat U my kan oorrompel om effektiewe sout te wees vir ander en om nie deel te word van die verrotting nie. Ek vra dit in afhanklikheid tot U eer, Here, help asseblief. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page