top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE BESNYDENIS SONDERMEER HET NIE WAARDE NIE (2) – INNERLIKE BESNYDENIS VAN DIE HART!


Rom. 2:28-29 – “Nie hy is ‘n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. Nee, hy is ‘n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.”


Vergelyk ook Matt. 6:22-23 – “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”


Paulus redeneer verder dat sy mede-Jood nie anders as die heidene, wat nie besny is, kan wees nie want sy besnydenis is net uiterlik aan die liggaam, en nie “innerlik is, dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is.” Paulus wil hiermee nie sy mede-Jode verneder nie maar wil hulle help om met God se oë te kyk en met God se maatstaf meet – om homself in die spieël te sien soos hy werklik is – ‘n geestelike bankrot sondaar wat homself gebluf het met uiterlike vroomheid. Die mens sien aan wat voor oë is, maar God sien die hart aan: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike” (1 Sam. 16:7b).


Die ware Jood is hy wat God vrees, dan alleenlik het die besnydenis betekenis, want dit is die uiterlike teken en seël van ’n innerlike werklikheid. Wie op hierdie wyse ’n Jood is, ontvang lof van God, nie van mense nie. Paulus wil hierdie Joodse-gemeente in Rome laat verstaan dat hulle nie anders as die heidene geoordeel sal word, net omdat hulle Jode is, die wet besit en die teken van die besnydenis dra nie. Hulle moet onthou dat God niemand voortrek nie (Rom. 2:11).


Is ons innerlik besny sodat ons ‘n hartsverandering ondergaan het, is ons harte só verander dat ons God se wil kan gehoorsaam? Het die lig in ons hart aangegaan? Kyk ons met God se oë sodat “die lamp van ons liggaam” die regte seine deurstuur na ons hart toe? Die oog word beskou as die “venster of lamp” van die liggaam waar lig ingelaat word. Die toestand van die venster bepaal hoeveel lig deurgelaat word sodat die hart kan verander. Indien die venster skoon, kleurloos, nie skeef en geen skerm (gordyn of blindings) het nie, sal die lig onbeperk inskyn en die hele vertrek verlig – die harde hart in ‘n vleishart verander: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee” (Eseg. 36:27).


Jesus wil vir ons vra hoe ons dinge sien? Hoe neem ons waar? Is ons harte gesteld op Sy stelling dat “ons lig vir die wêreld is” (Matt. 5:14). Beskik die lig wat deur die “lamp van die liggaam” oor enige geestelike waardes sodat ons ‘n hartsverandering ondergaan? Is ons oog op geestelike waardes of materiële waardes ingestel of het ons miskien dubbelvisie deur die geestelike waardes vir Sondag te bêre en die materiële vir die oorblywende dae van die week? Dubbelvisie maak die lig donker want die “venster” is nie skoon nie!


Wat belemmer ons visie sodat die lig wat ingelaat word, “donker” is en ons nie ‘n geestelike hartsverandering ondergaan nie? Eerstens, vooroordeel verhoed dat ons ‘n goeie oordeel aan die dag kan lê deur die ware feite van ‘n saak nie waar te neem nie en dan aannames van óns keuse te maak en wat óns pas – ‘n onbesnede hart! Tweedens word die visie versteur deur jaloesie wat blindheid veroorsaak vir ons eie foute en die foute van diegene van ons “keurlysie,” terwyl die ander ons vyande word – ‘n onbesnede hart! Derdens is die visie belemmer deur verwaandheid wat dubbelvisie veroorsaak sodat ons nie kan waarneem wie ons werklik self is nie. Vergelykings word getref teenoor ander se waardes en net óns waardes maak saak. Die “ekkigheid” neem die belangrike posisie in – ‘n onbesnede hart!


Jesus verwys hier na die goeie en slegte. Die goeie oog sien nie altyd net die donker en slegte nie, maar neem die mooi dinge van ander in ag en die mens word verlig met edelmoedigheid – ‘n besnede hart! Instede van oordeel wat gedompel is in ‘n skinderpot vol gif, word dit vervang met naasteliefde wat aansteeklik is, wat omgee, wat die goeie in ander waarneem ten spyte van ...! Ons is dan ligte wat skyn in ‘n donker wêreld want ons “venster” laat suiwer lig deur – ons harte is besny om God se wil te gehoorsaam!


Die slegte oog neem net inhaligheid en afguns waar want daardie oog is op aardse skatte gefokus. Dit veroorsaak jaloesie teenoor ander en hul besittings, hul harte is gesluit vir ander se nood, hulle haat dit om ander gelukkig te sien, hulle is vir almal kwaad en is gedurig in konflik met almal. Hulle wéét die beste, ís die beste en niemand sal hulle kan verander nie. Intussen groei die haatdraendheid in hulle wat die liggaam al hoe donkerder maak en “hoe donker moet dit dan nie wees nie!” Die gevolg is dat dit onmoontlik raak om met hulleself saam te leef, onmoontlik om met ander saam te leef en onmoontlik om met God saam te leef. “Die geheim is: Die oog is ‘goed’ as dit raaksien dat die enigste lig van Christus kom en te sorg om Christus as die Lig in my oog, en sodoende in my hart en in my lewe te kry” (Andrew Murray).


“There can be no fellowship between the God whose heart is afire with love, and the man whose heart is frozen with meanness” (William Barclay).


Gebed: Ons Vader, daar is so baie donkerte in die wêreld van vandag. Baie roep in wanhoop uit: “Waar is God, Wys Hom vir ons? As Hy bestaan sal die wêreld nie so lyk soos nou nie.” Here, al wat ek kan antwoord is dat hulle na die mense moet kyk wat aan U behoort – mense wat omgee, mense wat U wil, leef en doen. Maar terselfdertyd bely ek Here, dat ek soms met “slegte oë” na ander kyk en dan sien ek van U kinders en myself wat nie na U lyk nie, wat nie beelddraers van U is nie. Dit is dán wanneer die swartgalliges twyfel in U bestaan. Here Gees, help my “om Christus as die Lig in my oog, en sodoende in my hart en in my lewe te kry.” Laat ek met alles binne in my, van en oor U getuig, en as dit nodig is, met woorde ook. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page