top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE BESNYDENIS SONDERMEER HET NIE WAARDE NIE (1) – BESNEDENE IS SINONIEM MET JOOD!


Rom. 2:25-27 – “Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie. As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie? Ja, iemand wat kragtens sy afkoms ‘n onbesnedene is, maar tog die wet onderhou, sal jou selfs veroordeel, vir jou wat met wetsvoorskrifte en besnydenis en al die wet oortree.”


Vergelyk ook Luk. 18:9-10 en 14a – “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: ‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar ...’ ‘Ek sê vir julle: Hierdie man, (tollenaar), en nie die ander een nie, (Fariseër), het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is.”


Náás die besit van die wet, was die besnydenes vir die Jood die één groot kenmerk van andersheid en verhewenheid bo alle ander volkere. Die Jode het hulleself op die besnydenis beroem, want dit was die teken van God se verbond met hulle en hulle afsondering van die heidene. Eintlik was hulle van mening dat iemand wat besny is, nie verlore sal gaan nie, behalwe in die geval van buitengewone oortreders. Paulus ontken nie die groot betekenis en waarde van die besnydenis nie, maar ruk nou die vroomheidsmasker van die selfvoldane Jood, feitlik heeltemal af!


Dit moes vir die vrome Jood in hierdie Romeinse gemeente ‘n verskriklike skok gewees het met hulle mede Joodse burger se uitspraak. Hulle sou beslis hewig ontkennend geantwoord het op Paulus se volgende irriterende vraag: “As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie?” Vir die vrome Jood was dit hééltemal onmoontlik dat ‘n onbesnede heiden, God se gebooie sou kon onderhou! Paulus wil hulle egter laat verstaan dat dit nie die uiterlike besnedenheid of onbesnedenheid is wat op sigself van belang is nie, dat dit nie die besit van die wetsvoorskrifte is nie, maar die dóén daarvan wat deurslaggewend is. Dit is moontlik dat Paulus ook gedink het aan die vrome Fariseër se uiterlike voorkoms teenoor die tollenaar se nederige sondaarsbestaan.


Wanneer ons hierdie oorbekende gelykenis van Jesus oor die Fariseër en tollenaar weer lees, (Luk. 18:9-14), is die aanvanklike gedagte dat ons presies weet waaroor dit gaan – die hoogmoedige Fariseër teenoor die nederige tollenaar – die besnedene teenoor die onbesnedene. Die Fariseër en die tollenaar verteenwoordig die twee uiterste groepe in die Joodse volkslewe: dié wat in hulle eie oë godsdienstig onberispelik was en wie se hoofdoel was om die wet van Moses te handhaaf – die “goeie en gróót Christene,” teenoor dié wat in almal se oë, ook in hulle eie, godsdienstig die uitgeworpenes was – die slegte mense wat sosiaal en godsdienstig nie aanvaarbaar by Christene is nie. Beide het behoefte gehad om na die tempel te gaan op die gereelde gebedstyd en daar ’n gebed te doen.


Ons ken almal die verskillende gebede wat deur die twee gedoen is, maar wat is die storie agter die storie? Waarom het Jesus die uitspraak gemaak dat die tollenaar weggegaan het as iemand wie se saak met God reg is. Die geheim van Jesus se storie lê in die eerste vers daarvan. Daar lees ons: “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel …” Die Fariseër se fout was dat hy homself nie voor God gesien het nie maar langs die tollenaar en toe lyk hy skielik baie groot in sy eie oë. Hy dank God eintlik net oor alles wat hy het én die mooi eienskappe wat hy besit. Hy gee homself punte vir sy godsdiens en geloof en in sy oë slaag hy die toets. Volgens sy godsdienstige lysie is al die boksies met selfvertroue, korrek afgemerk en net as ‘n kantlyn aantekening, dank hy God terloops daarvoor. Daarenteen kon die armsalige tollenaar, die groot sondaar, geen boksies aftiek nie!


Is dit nie maar ‘n heenwyser na ons eie situasie nie? Is baie van ons nie soms ook soos hierdie Fariseër of die sogenaamde besnedenes nie? Kan ons eerlik ontken dat ons nie al onsself dikwels gemeet het aan die lewe van ánder mense nie? En so bepaal ons ons eie waardes – deur te let op die waardeloosheid van ander. My kerkbesoek in vergelyking met my buurman s’n is werklik indrukwekkend. O ja, dis net genade. Maar die bors swel terselfdertyd van trots. Neem nou maar my getrouheid – ek is altyd teenwoordig en ek bring mý kant. Wanneer ons onsself ondersoek, maar meet met ander se swakhede – eindig ons dalk net met selftevredenheid en uiteindelik met selfverheffing en hoogmoed, en dit kom tot ‘n val: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word” (Luk. 18:14b).


“Mense wat hul eie voortreflikhede besing, is meestal soliste” (Onbekend).


Gebed: Hemel Vader, terwyl ek U dank vir U genade dat U my so ‘n modelmens gemaak het, moet ek nie vergeet van my eie misvormdheid, onvergeeflikheid en onversoenlikheid en misgrype in die lewe nie. Weerhou my om my tydelike waardes teenoor ander te meet en eerder dit aan U waardes te koppel – U ewigheidswaardes! Laat my onthou Here, dat U my geskep het om my naaste lief te hê en nie met hoogmoed op hulle neer te sien nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page