top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE JODE EN DIE WET – DIE EER VAN GOD!


Rom. 2:21-24 – “Jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy nie? Jy wat sê ‘n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy nie egbreuk nie? Jy wat ‘n afsku het van afgode, beroof jy nie hulle tempels nie? Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie? Inderdaad, soos daar geskrywe staan, ‘as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster.”


Vergelyk ook Matt. 7:6 – “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”


Paulus het pas nege van die vrome Jode se voortreflikhede, hulle sogenaamde praktyke wat hulle volgens die wet van God van jongs af onderrig in ontvang, beskryf. Terwyl hulle trots hierna luister en hulle besitreg van God se wet as ‘n vanselfsprekende feit onder mekaar bevestig, skud Paulus meewarig sy kop en peper hulle met ‘n aantal ontdekkende en beskamende vrae wat die kloof tussen pretensie van die Jood, en die werklikheid van sy lewe aan die lig bring. In wese doen Paulus se mede-Jood, presies wat die heidene doen en daarom “doen hy God oneer aan.” Die Jood wat veronderstel was om deur sy voorbeeld en roeping, heidennasies na God toe moes trek, veroorsaak nou dat Sy “Naam deur hulle belaster word.”


Daar is ‘n nugtere onderskeiding ter wille van die evangelie van God se koninkryk, wat heilig en kosbaar is soos pêrels. God is die God van liefde maar Sy liefde is nie goedkoop nie en Hy laat nie hierdie duur liefde vertrap nie! Die wet is die uitdrukking van God se heilige wil en die verkragting en vertrapping van God se wil, is ‘n aantasting van God se eer! Dít wat heilig is, en die boodskap van God wat liefde is, het ‘n duur prys gekos aan die kruis. Die vromes, die godsdienstiges en die ordentlikes wat dink dat hulle self kan regkom en reken dat hulle net die regte medisyne het vir hul sondepyne, het mos niemand anders nodig om hulle die regte pad te wys na God toe nie. Dit is juis hulle wat Jesus gekruisig het: Vroom en godsdienstige mense met ‘n vaste sisteem van reg en verkeerd, goeie kerkmense. Die probleem egter is dat dit mense is wat nie in ‘n verhouding met God gestaan het nie. Hulle wat ander mense wat nie die wet van God gehad het nie, moes leer, het die eer van God verwerp!


Dit is altyd moontlik om deur ons optrede, Christus aan ander te wys. Dit is nie nodig om ‘n bordjie om ons nek te hang wat lees “vroom,” of “godsdienstig” of “voorbeeldig” nie. Wanneer God se eer op die spel is, is daar nie plek vir selfverheffing nie. Dit is dan die tyd om na God se stem te luister. God ken ons immers. Ons hoef ook nie almal te ken nie – Gód ken hulle. Dit is nie nodig om die evangelie aan iemand anders af te dwing nie. Indien hulle dit nie wil aanvaar nie, sal God die nodige rekenskap by húlle eis – God sal oordeel. Ons kan ten volle op God vertrou en minder op onsself en ons vermoëns, staatmaak.


“It is always possible to show men Christ; and the weakness of the church lies not in lack of Christian arguments, but in lack of Christian lives.” (William Barclay).


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, daar is baie keer dinge wat my ontstel en my hartseer maak, veral wanneer mense onbetrokke staan teenoor U. Soms is dit goeie mense wat nie die luukse van U liefde wíl ken nie. Laat ek dan egter nie moeg word om die lig van U vreugde en vrede oor te dra, aan hulle wat aan die skadukant van die wêreld wil lewe, nie. Mag die lig van die liefde waarmee U my oorlaai, oorloop na ander, sodat hulle ook U warmte sal ervaar. Gee dat die stempel van U teenwoordigheid sal agterbly waar ek in U Naam was. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page