top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE BESIT VAN DIE WET STEL JOU NIE VRY VAN STRAF NIE (3) – ALMAL IS SONDAARS!


Rom. 2:17-20 – “Jy, jy sê jy is ‘n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is, jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word. Jy is daarvan oortuig dat jy ‘n gids vir die blindes is, ‘n lig vir dié wat in die duisternis is. ’n leermeester van dié wat onkundig is, ‘n onderwyser van dié wat niks weet nie, omdat die wet vir jou die samevatting is van kennis en waarheid.”


Vergelyk ook Jak. 2:8-11 – “As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,’ dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. As iemand die hele wet onderhou maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.”


Paulus het in die vorige sestien verse hom toegespits op die heidene, maar tog ook reeds die Jode in gedagte gehad. Nou fokus hy voluit op die Jode in die gemeente van Rome, wat wesenlik net so skuldig is as die heiden met sy opvallende sondes, en daarom onder dieselfde oordeel van God val. Beide die nie-Jood en die Jood het die wet in hulle harte en gewete gehad, die verskil is dat die Jode dit nog in geskrewe vorm óók gehad het. Dit is egter waar die verskil eindig, albei het nie die wet gedóén nie!


Die Jode, (afkomstig van Judeër), het sedert hulle terugkeer uit die ballingskap, hulle meerderwaardig teenoor ander nasies, (die heidene), beskou. Vir hulle was die naam “Jood” ‘n erenaam as aanduiding van die hele Israel. In plaas daarvan dat Israel hulle onderskeidenheid van ander volke in diepe nederigheid aanvaar het as onverdiende geskenk van God se genade, het hulle egter daarin ‘n grond gevind vir vleeslike roem en selfverheffing bokant ander, ‘n Godgewe roeping het verander in ‘n stuk menslike trots.


En dit is hier waar Paulus die Jood met sy eie vlak van selfvoldaanheid ontmoet. Die vroom Jood het selfversekerd gespog dat hulle God “besit” omdat hulle kon steun op die wet, hulle “verlaat het op die wet van Moses.” Dan noem Paulus nege voortreflikhede waaroor die Jode hierdie vanselfsprekende feit gebaseer het. Hy het nooit ontken dat die Jode tog ‘n uitsonderlike posisie te midde van ander volkere beklee het nie. Maar wanneer dit egter lei tot selfverheffing en nie dat dit enkel uit genade is, en dat dié genade ‘n mens verplig tot ‘n lewenswandel in ooreenstemming met die genade nie, is alles skeef getrek. As hulle dit besef het, sou hulle dit immers in nederige dankbaarheid ontvang het.


Die wet van Moses is eintlik die wet van God, en as ’n eenheid beteken dit om te “struikel ten opsigte van een gebod”, ’n vergryp is teen die hele wet, dit wil sê teen al die gebooie. Liefde byvoorbeeld beteken om vir ander mense lewensruimte te skep, selfs die heiden of jou vyand (Matt. 5:24). Dit geld vir elke mens wat God oor ons pad stuur en nie net diegene op ons voorkeurlysie nie. Dan word naasteliefde selektief – liefde vir ander, minderwaardig.


Ons kán die wet nié volkome en in alle opsigte uitvoer nie. Maar ons kán barmhartigheid betoon. Wie werklik sy naaste liefhet soos homself, doen inderdaad die goeie. Teenoor so ’n barmhartige mens tree God self ook met barmhartigheid op, selfs in die eindoordeel. Die oordeel gaan oor die wet, die wegwyser wat ons lewensruimte wil gee maar dan moet ons besef dat dieselfde wegwyser ons naaste ook lewensruimte wil gee.


Wie dié wet as ‘n wegwyser moedswillig verontagsaam, moet egter weet dat dit ’n blywende maatstaf is waaraan sy lewe in die eindoordeel beoordeel sal word. Dit sal aan die lig bring of hy werklik vrygemaak is en of hy begryp het wat daardie vryheid behels: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het , of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor. 5:10).


Die funksie van die wet is deur Jesus opnuut geïnterpreteer. Ons sou in die oordeel van God veroordeel moes word maar deur die genade van God het Christus die essensie van die wil van God daarin gesoek en dit self vervul, terwyl Hy ook die oortredinge van ons op Hom geneem het in Sy kruisdood. Wie Christus se verdienste aanvaar, ondervind die wet nie meer as ’n oormagtige vyand of neerdrukkend of selfs beperkende eenheid nie, maar as die wegwyser, die padkaart wat ons help om die lewe met vreugde te kan geniet. Dit word dan “die wet wat vry maak,” vir ’n bevryde lewe (Jak. 2:12b).


“Dit is immers dieselfde God wat al die gebooie beveel en al die nasies insluit in die gebod van die naasteliefde” (Prof. Dirkie Smit).


Gebed: Onse Vader, ek wil saam met Paulus ten hemele roep: Dat my liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling (Fil. 1:9). Here, skenk my die insig om ‘n fyn aanvoeling te ontwikkel sodat ek in elke situasie sal kan onderskei tussen ware liefde of ‘n skreiende gebrek aan geestelike waardes en norme. Laat hierdie onderskeiding ‘n onuitblusbare blydskap in my meebring en my vul met U vrede. Daarom dank ek U Here Jesus, dat U aan die kruis ook met al my stukkendheid ‘n plan gemaak het en ek daarom in U vergifnis mag lewe. Werk deur U Gees in my hart, stem en denke dat ek U barmhartigheid sal uitleef en ander deur my sal beleef dat daar ‘n goeie Vader in die hemel is wat omgee vir elke sondaar, al lyk ons sondes nie dieselfde nie. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page