top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE BESIT VAN DIE WET STEL JOU NIE VRY VAN STRAF NIE (1) – DÓÉN DIE WET!


Rom. 2:12-14 – “Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word. Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word. Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself ‘n wet al het hulle nie die wet nie.”


Vergelyk ook Matt. 7:21-23 – “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”


Paulus se argument is nog steeds dat die heidene én Jode voor God se regbank skuldig staan. Een van die belangrikste maniere waarop die Jode probeer het om vir God aanvaarbaar te wees, was deur die wet van Moses. Die wet was een van die jode se belangrikste besittings. Hulle het gedink dat die besit van die wet aan hulle ‘n spesiale voorsprong gee teenoor alle ander mense, die nie-Jode. Paulus beklemtoon egter dit gaan by God as Regter, nie oor die besit en hoor van die wet as sodanig nie, maar die onderhouding daarvan: “Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.”


Die nie-Jode daarenteen, het nié die wet van God ontvang nie en kan dus nie ‘n wet dóén, wat hulle nooit in geskrewe vorm ontvang het nie. Paulus verskoon hulle egter nie hiervan nie, inteendeel, “hulle is vir hulleself ‘n wet”. Hulle kan nie algehele onkunde met betrekking tot die wil van God pleit nie, want God se werke van Sy hande gaan voortdurend ook tot die heidene uit. God se wil dring tóg in hulle bewussyn in en hulle “natuurlike aanvoeling”, hulle gewete, tussen reg en verkeerd, het veroorsaak dat hulle dade ‘n ooreenkoms getoon het met wat God se wil in Sy wet vir die mens stel.


Dit is duidelik hier dat God nie net ore wil hê wat feitlik elke Sondag die wet hoor nie, maar lewens wat die wet ge-hoor-saam! Dit is mense wat baie vroom en godsdienstig voorkom, maar nie Goddelik in hul optrede is nie. “They talk the talk but don’t walk the walk.” Daar is dus geen werklike persoonlike verhouding met Jesus nie. Die werklike verhouding tussen Jesus en ons is een van geloof, vertroue en gehoorsaamheid. “Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ‘n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in Sy rus (die ewige lewe) kon ingaan nie” (Heb. 3:18-19). Dit help nie om groot geloofswoorde te praat wat uit ‘n leë hart uitkom nie.


Ons word nie gered deur ons goeie werke nie maar word gered om te werk – dit is die gevolg van ‘n saligmakende geloof. Om gered te wees en as individu daaraan vas te klou, die Here te bedank dat Hy ons gered het en niks daaraan doen nie, beteken niks. Ons is gered met die doel om God te verheerlik deur dade van liefde. Alle Christene is “glo-mense” anders kan ons nie gered word nie. Maar alle Christene moet “doen-mense” word om ons dankbaarheid te toon dat ons gered is.


Jesus stuur ons nie uit om ons redding deur ons werke of dade te gaan verdien nie, Hy stuur ons uit om ons redding te gaan bewys: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Efes. 2:10). Ons werk vir die Here is nie vir ‘n beloning nie – ons het dit klaar ontvang. Ons dade is nie SODAT ons verlos kan word en hemel toe kan gaan nie, ons dade is OMDAT ons uit dankbaarheid dit doen, vir dit wat Christus reeds vir ons aan die kruis vermag het!


“So often we confess God with our lips and deny Him with our lives. Faith without practice is a contradiction in terms, and love without obedience is an impossibility” (William Barclay).


Gebed: Here, ek skiet so ver tekort in my pogings om ‘n behoorlike dissipel van U te kan wees. Ek praat die regte “kerktaal” van mense en engele, maar bly ‘n klinkende metaal en galmende simbaal. My geloof in U is sterk genoeg om “berge te versit” maar ek voel steeds dat ek eintlik niks is nie. Die grootste rede hiervoor is omdat my lewe nie altyd in ooreenstemming met U wil is nie. Ja, ek besef dat ek die regte dinge probeer sê en selfs doen maar daagliks steeds voortgaan om te sondig. Help my om my geloof in dade om te sit, om U wil uit dankbaarheid, my wil te maak. Here, skenk my die genade om my lewe in ooreenstemming met U wil in te rig; om lief te kan hê soos U want sonder liefde, is ek niks. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page