top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE REGVERDIGE OORDEEL VAN GOD (3) – GOD HET NIE WITBROODJIES NIE!


Rom. 2:9-11 – “Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. Wat verhewe en eervol is, en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie.”


Vergelyk ook Heb. 11:6 – “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”


Die maatstaf by die oordeel volgens die dade, sal wees of daardie dade uit die geloof gedoen is of nie. Dade is die openbaring van ’n mens se gerigtheid van die hart. Wie deur die geloof aan die genade van God vashou, sal daarvan in sy dade uiting gee. Goeie dade is dus ‘n dankbare reaksie op God se genade en nie ‘n voorvereiste waarmee God se genade verdien word nie!


Daar is ’n diepe samehang tussen die vryspraak van elkeen wat glo en die oordeel volgens die dade, omdat slegs die mens wat uit die geloof in die genadige vryspraak leef, werklik kan doen wat God behaag. Dit is daarom duidelik dat God elkeen sal vergeld volgens sy dade – dié wat kwaad doen, ontvang “lyding, benoudheid, straf en toorn”. Daarenteen, dié wat goed doen, ontvang die “ewige lewe, heerlikheid en vrede”. Hierdie beginsel is vir alle mense dieselfde, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. Dit bevestig dat niemand aan die oordeel sal ontkom nie – ook nie diegene wat nie soos Israel, die besondere openbaring ontvang het nie. God het nie witbroodjies nie, Hy oordeel regverdig, “God trek immers niemand voor nie.”


Die onpopulêre onderwerp van die “oordeel” word in die ganse Skrif, glashelder duidelik gemaak dat absoluut ALLE mense wat ooit gelewe het, daar sal wees. Jy kan nog 'n tandartsafspraak kanselleer indien jou moed jou begewe, maar nie hierdie afspraak nie. Nee, dit is juis die grootste verrassing wat op biljoene armsalige misleide mense wag – mense wat gedink het Jesus is 'n soort god en 'n tipe verlosser en 'n stukkie waarheid beetgehad het – maar ... dat ander opsies ewe goed was en dat daar teen niemand gediskrimineer mag word nie en dat waarheid relatief is. Die aakligste verrassing wag op hierdie misleide mense wanneer elkeen ontdek dat Jesus se aansprake oor Homself al die tyd die egte en enigste waarheid was!!!


Gelukkig is daar die omgekeerde gedagte van die “oordeel” – die hemelse “vrede” wat onvergelyklik is en allesomvattend is van aard! Deur God se genade kan ons verstaan wat by die kruis en met Christus se opstanding gebeur het, kan ons verstaan wie Jesus Christus is. Deur in Jesus te glo, ervaar ons God en Sy vrede. Jesus se kruisdood vorm die fondament van die waarheid en ewigdurende vrede. Daarom kon Petrus verkondig het dat “God die evangelie van vrede gestuur het, wat Jesus Christus gebring het” (Hand. 10:36), en Paulus beklemtoon dat “Jesus die goeie boodskap van vrede gebring het aan almal wat ver van God af was en ook vir dié naby God” (Efes. 2:17).


Met Sy kruisdood het Jesus die muur van skeiding tussen ons en God oorbrug en ons met God versoen: “Deur die bloed van Sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol. 1:20). Jesus bring ons tuis in God se arms in, ons hoef nie vreesbevange agter geslote deure van ons smart, teleurstellings, verbittering, benoudheid of lyding, of bang vir God se “straf en toorn”, weg te kruip nie. Jesus het na ons toe gekom van “anderkant die dood, anderkant die graf”, om Sy vredesgroet vir ons te gee. Dit bevestig dat Hy die stryd om vrede, suksesvol deurgevoer het en dat Hy opgestaan het, dat Hy lééf, daarvan getuig die wonde aan Sy hande, voete en sy.


Wanneer ons dus van Hom getuig is dit in die teenwoordigheid van die lewende Jesus Christus wie se “vrede”, oorgedra moet word aan alle mense – “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” – dit is nie ‘n “sommer-maar-net” opdrag nie. Ons gelowiges het Sý “vrede” ontvang om dit aan te gee; ons word geseën om met Christusharte vir ander tot seën te wees. Waar ons die lig van Christus in mense se lewens in dra en in die krag van die Gees begin optree, kom die hemel in beweging met vergifnis, met die “vrede” wat tussen God en mense, tussen mense en mense bring. Die “vrede” en herstel wat God gee, kom waar die Gees in hulle werk en mense bewus word van hulle sonde, en waar hierdie bewussyn tot skuldbelydenis en vergifnis lei. Die aangee van die vrede en vergifnis word begelei deur die Gees.


“Hulle wat God ken, kom niks kort nie. Hy alleen vervul ons diep verlange na vrede. Hy alleen is genoeg” (Teresa van Avila).


Gebed: Dankie Jesus dat geen deur, geen hartedeur, U kan uitsluit nie. Dankie dat U my lewe vul met U teenwoordigheid en vrede. Dankie Vader dat ek nie hoef te vrees vir die oordeel nie want Jesus het vir my daardie versekering gegee: “Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh. 5:24). Dankie Jesus dat U my met God versoen het en daarom is daar nou vrede tussen God en my en kan ek Hom met vrymoedigheid my Vader noem (Rom. 5:1). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page