top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE REGVERDIGE OORDEEL VAN GOD (2) – GOD SE GOEDHEID!


Rom. 2:4-8 – “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie. Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God Sy regverdige oordeel sal uitspreek. Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.”


Vergelyk ook Joh. 5:28 – “Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”


Ons het met gister se “Gedagte vir Vandag”, met skok waargeneem dat God ons direk aanspreek oor ons sondes, dat ons blind is om ons eie sondes raak te sien. Ja, ons aanbid miskien nie afgode soos die heidene nie en ons beoefen dalk nie seksuele perversiteit nie, maar op ons eie manier is ons óók besig om God nie werklik as God te eer nie en aan Hom ongehoorsaam is. Deur ander mense te oordeel terwyl ek skuldig staan met die dieselfde oortredinge, besef ek dat ek in my liefdeloosheid, ook strafwaardig staan voor God.


Maar hoekom het God my dan nog nie gestraf nie, gee God my “carte blanche” om maar aan te hou om te sondig? God is mos ‘n God van liefde en sal my nie oordeel soos Hy die heidene oordeel nie. Ek meen, my lewe is darem nie té sleg nie – ek gaan mos kerk toe, gee my bydrae, lees Bybel, bid ... Nee! Dit is beslis nie genoeg nie. God het my oë oopgemaak en my pynlik bewus gemaak van my eie sondes en ek verdien Sy oordeel. Maar dankie tog! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld.” Ek het met God se guns te doen, God se GENADE! God wil my ‘n geleentheid gee om te verander, te bekeer en daarom hou Hy sy toorn nog in. God handel nie met die mens na wat hy verdien nie, maar gun hom nog tyd omdat Hy nie die dood van die sondaar begeer nie, maar sy bekering.


Paulus vra “of dit niks vir ons sê nie?” Ja Paulus, dit behoort, maar ... “selfsug en ongehoorsaamheid” gee nog steeds die deurslag in my lewe, ten spyte van God wat my gewete al sóveel keer deur ‘n preek of Skrifgedeelte, aangespreek het. Ons is nog onsensitief teenoor die sonde, ons ly aan ‘n “almal-doen-dit-tog” sindroom en vind vrede met onsself daardeur. Ons sal eendag as ons ouer is bekommerd wees oor die oordeel wat wag. Ons beplan nie om nou al dood te gaan nie, daar is nog te veel dinge wat ons wil doen en vermag. Paulus waarsku egter: “Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag.”


Die lewe hier en nou bepaal die hiernamaals. “God sal elkeen vergeld volgens sy dade.” Wat jy nou doen of nie doen nie; hoe jy glo of nalaat om te glo, is maniere waarop jy jou voorberei vir die ewigheid. Die keuse is uitsluitlik joune. Om onsensitief te wees teenoor die geloof in Christus Jesus en die sonde, is om onsensitief te wees teenoor die teenwoordigheid van Jesus Christus! Daar kom ‘n eindoordeel, waar elkeen, sonder uitsondering, voor die hemelse Regter sal móét verskyn. Dáár sal die finale skeiding plaasvind. “Die Seun van die mens” sal in Sy heerlikheid kom om die mense te skei soos ’n herder die skape van die bokke skei (Matt. 25:31–46).


By die finale oordeel word daar ook gelet op ons dade: of iemand “goed gedoen het of verkeerd.” Dit word egter ondubbelsinnig in die hele Nuwe Testament verkondig dat die ewige lewe alleen deur die geloof in Jesus Christus en alleen deur God se genade, verkry word. Paulus verkondig self: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo (Rom. 1:17). Die rede dat daar op die dade gelet word, is dat die dade bewys lewer van die innerlike gesteldheid, gesindheid en dankbaarheid van die mens: “Die goeie boom bring goeie vrugte voort, en die slegte boom slegte vrugte” (Matt. 7:17–18; 12:33). Die lewe wat iemand lei, lewer getuienis van die geloof wat in hom is. “Aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.” (2:7-8)


“Elke mens moet twee dinge self doen: hy moet sy eie geloof beoefen en self sterf” (Martin Luther).


Gebed: Jesus Christus, dankie dat U woorde ‘n groot troos is vir elke wedergebore gelowige – die mens wat lewendgemaak is, is opgewek uit 'n geestelike narkoseslaap. In die helder lig van U goedheid is die skaduwees van my sondes donkerder as die nag. Ek het al berge van straf opgehoop vir die oordeelsdag en ek staan eintlik op die randjie van die hel, en ek is besig om my balans te verloor. Baie dankie Vader, dat U “ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld!” Dankie dat U my ‘n kans gee om reg te maak. Help my o Gees van God, dat ek nie sal uitstel nie en dat ek gereed sal wees om my Redder en Verlosser te ontmoet wanneer my tyd aanbreek om te sterf. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page