top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE SONDE EN DIE STRAF (4) – MINDER GOD = MINDER MENS!


Rom. 1:29-32 – “Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”


Vergelyk ook 1 Kor. 6:9-10 – “Weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”


Terwyl al wat ’n wysgeer in die tyd van Paulus geleer het dat die goeie geleë is in ’n lewe volgens die natuur, was die ellende van die heidene juis dat hulle deur hulle sonde téén die natuur ingegaan het. Die slegte invloed van ongehoorsaamheid aan God word op elke lewensterrein sigbaar. Namate God mense aan hulle sondige natuur oorgee, word die sedelike verval al erger en word mense se lewe al voller van die verkeerde dinge, sondes waarvan Paulus hier melding maak. Hierin kom die magteloosheid van die mens sonder God na vore: hy kan homself nie maak wat hy volgens sy eie insig, behoort te wees nie.


Paulus is besig om hier ‘n donker prentjie van die mens te skilder. Die mens wat eintlik geskep is om God te dien en te verheerlik, God se verteenwoordiger, Sy beeld te wees, maar in immoraliteit verval het. Voor ons egter die heidene oor wie Paulus in hierdie gedeelte bespreek, (Rom. 1:18-32), veroordeel, laat ons liewer hand in eie boesem steek en in die spieël vir onsself kyk. Kyk in die spieël en neem die duidelike beeld waar van die haglike omstandighede waarin die wêreldsdinge óns geplaas het. ‘n Mens kan nie in immoraliteit verval nie, jy loop doelbewus met oop oë daarin. Hierdie aftakelingsproses is ‘n persoonlike keuse en dit is ook nie iets wat toevallig gebeur nie. Dit is gewoonlik die gevolg van ‘n lang proses wat uiteindelik oorgaan in dade.


Die oë is die hoofkanaal tussen die liggaam en die wêreld daar buite wat ‘n begeerte van sondige gedagtes koppel met sondige “plesier.” Die oë voed die verstand en hart met wellus en sondige begeertes. ‘n Sterk begeerte ontaard dan in ‘n verbode handeling – “Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie” (2 Pet. 2:14). Die sonde binne ons vervang die goeie Godgegewe begeertes met perverse wellus. Niks verhinder mense méér daarvan om by Christus uit te kom, as hulle onvermoë om te besef dat hulle Hom nodig het, of die onwilligheid om dit te erken nie.


Jesus wil vandag binne jou en my hart en ons lewe kom staan soos Hy in die tempel gaan staan het en ‘n uitnodiging gerig het – “wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Hy wil kom staan daar waar dit donker mag wees. Hy wil jou vooruitgaan en gaan wag daar waar Hy weet dit dalk vir jou nag en donker kán raak! Hy gaan staan in ons donker om dit Lig te maak. Hy wil Sy plek kom inneem in mense se lewens wat in die donker vasgevang is en wat smag na Sy ewige lig.


Dit beteken ons moet gewillig wees om met dit wat aanleiding gee tot die sonde, “die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is.” Ons moet ontslae raak van die ou mens wat na hartelus en harteloos volgens die begeertes van ons sondige natuur, leef, en net so nou en dan God wil dien. Alleen kan en sal ons nie suksesvol wees nie. Elke keer wanneer satan sy suksesvolste verleidingstegniek van die sensuele en seksuele aan ons voorstel, moet ons hom troef met: “Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, Heer. Laat my leef op die weg wat U my aanwys” (Ps. 119:37).


Die persoonlike verhouding met God moet herstel word. Die afstand wat deur opstand en afdwaling na die wêreld onstaan het moet oorbrug word. Die keuse van “onderwerping aan God” gaan dan gepaard met ‘n daadwerklike handeling: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jak. 4:8-10).


“The man who banishes God not only loses godliness; he loses manhood too”

(William Barclay).


Gebed: Here, waak oor my gedagtes. Help my om rein en positiewe gedagtes te koester. Heilige Gees, ek benodig U onmisbare hulp hierin want op my eie gaan ek dit nie regkry nie. Dankie Jesus dat U my naam en adres ook geken het toe U vir my aan die kruis gesterf het. Laat my dan lewe soos ‘n mens van die lig en weerhou my om mee te doen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page