top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


SAAM MET JESUS IN DIE WINGERD (6) – PRYS VAN JESUS SE VRIENDSKAP!


Joh. 15:13-17 – “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”


Vergelyk ook Spr. 18:24 – “Maats kan jou breek, maar daar kan ook ‘n vriend wees wat nader is as ‘n broer.”


Daar is geen bewys dat Jesus sy volgelinge ooit “ondergeskiktes” genoem het nie, maar hier gaan dit egter om ’n verhouding waarin Jesus aan sy volgelinge alles bekend maak van die heilsplan van God wat Hy besig is om tot uitvoering te bring. Die feit is dat Jesus hulle nie as ondergeskiktes behandel het nie, maar as vriende wat Hy in Sy vertroue neem deur aan hulle “alles wat Hy van Sy Vader gehoor het, aan hulle bekend gemaak het.” Jesus het ook geweet dat Sy vriende binne die volgende paar ure hulle uit die voete sou maak, trouens, Hy het álles van hulle geweet, en steeds hulle as vriende beskou en vir hulle lief was – dit is die eienskap van ‘n ware Vriend.


“Vriende van Jesus” het te make met die uitverkiesing. Die dissipels het nie die inisiatief geneem en Jesus as hulle leermeester gekies nie, Hy het hulle uitgekies en hulle geroep om Sy vriende te wees, deel van Sy binnekring. Juis daarom is hierdie vriendskap so ’n kosbare besit en moet dit gekoester word deur die onderhouding van die groot gebod van die liefde. Jesus het geweet dat Hy nie by ál die mense op aarde in 3 jaar sou uitkom nie, daarom het Hy “hulle (en alle Christen-gelowiges), uitgekies en ons aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.” Jesus stuur ons uit om in ‘n vyandige wêreld Sy werk verder as Sy vriende voort te sit – vrug te dra van goeie werke in gehoorsaamheid aan ons Sender, maar ook deel te wees van die insameling van die oes vir Sy koninkryk.


Jesus het ons uitgekies om “ambassadeurs” of “agente” vir Hom te wees. Om ongelowiges van Jesus te kan vertel, moet ons vrugte van die Christen-leefwyse dra, vrugte wat sal hou. Baie mense wil graag vriende van Jesus wees, maar dan op hulle eie voorwaardes: volg hulle eie wil, maak hulle eie planne volgens hulle eie begeertes, stap hulle eie pad. Hulle gebruik met ander woorde, Jesus vir hulle eie selfsugtige doeleindes en dan verwag hulle dat Hy dit sal onderskryf en ten minste hulle oortredinge moet ignoreer of “die Vader aan hulle gee wat hulle ook al in Jesus se Naam vra.” Jesus stel dit egter onomwonde: “Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.”


Christen-wees is ‘n liefdesverhouding. Wanneer ‘n sondaar uitgekies word deur Jesus Christus om Sy vriend te wees, kom hy in ‘n liefdesverhouding met God te staan. Hy is die Bruidegom en ons, Sy kerk, is Sy bruid (Op. 19). ‘n Liefdesverhouding kwyn egter as die paartjie versuim om afsprake met mekaar te maak en na te kom. God meet ons vriendskap onder andere aan ons gretigheid om met Hom alleen te wees. As Hy dus vergeefs op my wag omdat ek nie my afspraak met Hom nakom nie, gaan dit vanselfsprekend ‘n nadelige uitwerking hê en gaan ons liefdesverhouding, ons vriendskap, kwyn.


Om werklik ‘n vriend vir jou vriende te wees, vra dat jy jou kosbare tyd met hulle sal deel. In jou vriendskap, moet jy, soos Jesus, gewillig wees om jouself te gee, jou hart vir jou vriende sal oopstel. Dit kan beteken dat jy een of ander tyd miskien baie seer sal kry want hoe meer jy jou blootstel, hoe kwesbaarder is jy. Dit beteken egter dat jy jou Christenskap tussen ware vriende kan uitleef. Ware vriende is altyd vir mekaar beskikbaar, veral in nood en selfs om mekaar reg te help, al is dit hóé moeilik. Goeie vriende deel dieselfde waardes, bring die beste in jou na vore. As jy dus tussen sogenaamde “vriende” is waar Jesus nie welkom is nie, is jy by die verkeerde adres. Jesus-vriendskap kan nie floreer in oppervlakkige sosiale verkeer en dronkpartytjies nie.


Solly Osrovech het in sy boek “Dink aan jou Skepper” die volgende geskryf: “Soos jou vrienskap met Jesus Christus toeneem en Sy wil vir jou lewe al duideliker word, sal nie net jou lewe nie, maar ook alle ander verhoudings in jou lewe in so ‘n mate verryk word dat jy in verwondering sal staan voor die onuitspreeklike genade van God wat vir die mens so ‘n wonderlike Vriend gestuur het.” Jesus, ons Vriend het dit baie duidelik gemaak dat Hy “ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie” (Heb. 13:5). Talle Christene kan getuig dat hierdie belofte van Jesus waar is omdat hulle die vrienskap en genade van God selfs in tye van swaarkry en lyding, kon geniet. Ons Hemelse Vriend is onfeilbaar en is altyd by ons.


“’n Goeie vriend vra hoe dit met jou gaan en dan sowaar luister wat jy antwoord”

(Ed Cunningham).


Gebed: Dankie Here, dat U my uitgekies het om U vriend te wees. Dankie dat U my as vriend gekies het net soos ek is. Dankie dat U hierdie vriendskap, ontelbare kere in my lewe bewys het. Dit is onmoontlik om U genoeg te kan loof en dank vir die genadegawe van U vriendskap. Maak my ‘n vriend vir my vriende soos wat U ‘n Vriend vir my is – my Beste Vriend. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page